Goeie nuus: ‘Grafsteenbrakkies’ ná twee uur lange poging gered

Een van die hondjies wat gered is en reeds 'n huis het.

Een van die hondjies wat gered is en reeds ‘n huis het. Meer foto’s volg onderaan die berig.

ʼn Diereliefhebber van Standerton het Dinsdag self moue opgerol om ʼn rondloperbrak se kroos te red nadat sy haar werpsel in ʼn vervalle graf in die dorp se Boere-oorlog-begraafplaas gekry het.

Die vrou, Elsie Foley, het Donderdag aan Maroela Media gesê haar ma woon in Kosmos-aftreeoord wat langs die ou begraafplaas geleë is. Die inwoners het meer as ’n maand gelede die teef, ʼn swart worshond-en-dobermann-kruising so groot soos ʼn staffordshire-terriër, in die begraafplaas begin waarneem.

“Een van die inwoners, tannie Aria Smith, het haar oor die tefie ontferm en kos deur die heining begin voer,” het Foley gesê. “Sy en ʼn vriendin, tannie Marie Geyser, kon sien sy het kleintjies gehad en het vermoed dat sy êrens tussen die verwaarloosde grafte haar werpsel gekry het.”

Foley het gesê die hond was wild en het aanvanklik nie mense vertrou nie. Sy was ook vuil, vol bosluise en ondervoed.

Mettertyd het die hond Smith in haar vertroue geneem en so mak geword dat sy haar kos op die stoep gaan eet het en toegelaat het dat hulle haar streel. Daar is ook intussen vasgestel dat die hond haar kleintjies in ʼn graf wat ingeval het, gekry het.

“Interessant genoeg is die graf wat sy as skuiling gekies het, direk langs die graf van Adrian Hendrik Stander na wie die dorp genoem is,” het Foley bygevoeg.

Die bejaardes het vandeesweek begin bekommerd raak toe hulle die babahondjies, wat nou sowat ses weke oud is, in die aande hoor tjank het en besef het hulle gaan binnekort begin rondloop. Hulle was bevrees dat die honde wild grootgemaak gaan word as hulle nie meer aan hul ma drink nie, ʼn oorlas vir die inwoners in die omgewing gaan raak en dan leed aangedoen word.

“Tannie Aria en Marie het Dinsdag omstreeks 14:00 in ʼn motor voor my hek stilgehou met die mamma-hond ewe mak op een se skoot. Hulle het hul bekommernis met my gedeel en ek het besluit om te help. Ek het ʼn plaaslike veearts en die dierebeskermingsvereniging gebel vir hulp, maar hulle het gesê hulle het nie genoeg personeel om uit te gaan nie. Ek en my drie kinders en Patrick, ons tuinier, het toe die reddingspoging aangepak.”

Die tefie, Graffie, wat 'n liefdevolle huis soek.

Die tefie, Graffie, wat ‘n liefdevolle huis soek.

Die reddingspoging was gevaarlik omdat baie grafte in die begraafplaas inval en grafstene los is.

Foley se seun, Abraham, het takke van ʼn boom wat uit die graf groei, afgesny terwyl Patrick en die twee jonger dogtertjies die gaping van die gat groot genoeg probeer maak het om toegang tot die werpsel te kry. Die spannetjie het sowat twee uur lank gespook om al vier brakkies uit die graf te kry.

Volgens Foley was die babahondjies in ʼn baie goeie toestand en al vier kleintjies het reeds huise gekry. Die ma-brak, wat Graffie gedoop is, bly tans tydelik by Foley. Sy is omtrent vier keer gebad om van al die bosluise ontslae te raak en haar pels is nou skitterblink.

“Ons soek nog ʼn goeie huis vir haar. Ek kan haar ongelukkig nie hou nie omdat ek reeds vyf katte en ander honde het. Tannie Aria het ook baie geheg geraak aan Graffie, maar sy mag ongelukkig nie troeteldiere in die aftreeoord aanhou nie.”

Sy het Graffie se temperament as liefdevol, nuuskierig en beskermend beskryf. “Sy gaan baie aandag en liefde nodig hê, maar sal goed by ʼn gesin aanpas. Sy het nog ʼn sterk jagtersin omdat sy seker so lank vir haar eie kos moes jag, en sy bêre nog lekkernye as mens dit vir haar voer, maar sy is op en wakker en weet nou mense is daar om haar te help.”

Lees die opvolgberig hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

anon ·

as ek ni so ver was ni het ek haar gevat vir my kind hys bja liefdevol oor diere voer al di rondloopers (katte)

Blaffie ·

Baie dankie vir jul goeie daad, laat sommer warm gevoel in hart gee.

Elize ·

Dis so mooi storie, dankie!!!!! Dankie!!!!!! Ek is n groot diere liefhebber my honde is my alles! Ek salueer almal wat die hondjies gehelp het. Veral die mense van die ouetehuis!!! En Maroela dankie vir sulke goeie nuus ook!

pop ·

Dankie maroela. Dis so mooi storie dat die trane rol. En die ou hondjies is te pragtig.

Anoniem ·

Bly daar is ‘n gelukkige einde vir honde kinders. Hoop ma Graffie kry goeie gesin.

HEVW ·

“Die begraafplaas is gevaarlik vanwee die grafte wat insak. Sal die nageslag van die mense wat hier begrawe is en die gemeenskap nie bietjie aandag hieraan gee nie. Daar is andersoortige begraafplase waaraan die volk kan aandag gee. Byvoorbeeld die begrip Afrikanervolk. Dit wil soms voorkom of mense huiwerig en skaam is om selfs die woord uit te spreek. Nog n ander begraafplaas is ons verwaarloosde monumente. Geen wonder dit word met disrespek bejeen nie. Ook n begraafplaas is ons taal. Selfs studente wat skielik so hoog opgee oor die Afrikaanse taal. Luister maar hoe hul praat, en lees face book en vind die disrespek vir hul eie moedertaal. Dit is altyd teleurstellend om waar te neem hoe ons eie Afrikaanssprekendes beheb is om hul besighede Engelse en ook Afrikataal name te gee. Wanneer sal ons dan besluit om n positiewe daad t.o.v. hierdie kosbare besit te maak.

Eliza-beth ·

HEVW – NOU praat jy! Sê pal. almal kerm oor Afrikaans wat geminag word maar wat doen HULLE self om dit te help bou en red. Hierdie is verder ‘n pragtige storie van omgee mense. Ek hoop daar gaan goeie mense die diertjies aanneem en hul vir-altyd-huise gee! Ek hoop ook mense kan sommer self groep stig wat so eenmaal per maand ‘n uittog maak (met hul kinders en dan sommer iets van geskiedenis ook leer) en hierdie tipe begraafplase bietjie versorg, skoonmaak en in stand hou. Moenie wag “vir die ander/regering/munisipaliteit” doen dit self as jy werklik omgee. As ek naby so iets gebly het ek sommer gou-gou so vrywilliger groepie gestig, mens kan dit ‘n lekker storie maak sodat mense uitsien na dit en trots kan wees om deel van so groep te wees!

EMK ·

Dis myns insiens ‘n bietjie swak van die DBV om nie plan te gemaak het nie. Sou hul dan maar die arme diere dan net daar los? Dis mos waarvoor hulle daar is? Dankie tog vir mense soos hierdie!Hoop al die woewerasies kry goeie huise en belangrikste van alles dat hulle gesteriliseer sal word!

Theresa ·

Dis nou wonderlike nuus. Baie dankie aan almal wat ‘n aandeel gehad het in die red van die mamma en haar kroos. Hoop Graffie kry ook ‘n baie liefdevolle”aftreeoord” waar sy vrot bederf sal word vir alles wat sy deurgemaak het. Ongeag wat – sy was ‘n ma en het alles in haar vermoë gedoen om haar kroos veilig te hou.

Pierre Celliers ·

Pragtig gedaan al die betrokkenes! Ek het so gehoop ek lees ook van iemand wat vir Graffie sal aanneem, maar tevergeefs! Ek het klaar twee katte en twee honde, anders, sou ek nie huiwer nie!

anet ·

Dankie vir hierdie goeie nuus. Graffie se storie is kosbaar, en dat sy so mooi na haar babatjies gekyk het.
Stories soos hierdie gee weer vir my moed, want ek wonder soms wat het van naaste liefde geword? waar is die omgee met ‘n warm hart? Dan hoor ek weer van hierdie barmhartige samaritane wat soveel omgee in hulle het, en niks te veel of te moeilik is vir hulle nie, en ek besef daar is tog nog mense wat ‘n verskil maak in hierdie deurmekaar wereld

Marietjie ·

Dankie Maroela vir die “voelgoed” storie, maar moes julle regtig na die ma verwys as ‘n rondloperbrak? Miskien teef-hond en haar werpsel? Ek wonder soms om Aftree Oorde weet watter emosionele terapie diere vir oumensies is? Dis vir my wreeds dat oumensies nie eens een ou diertjie (hondjie of kat) mag aanhou nie. Hulle betaal so by so derduisende rande om om in so ‘n oord te bly.

Ilana ·

Ek stem saam oor die positiewe terapie, maar wat word van die hondjie/diertjie as sy baas gehospitaliseer word of as sy eienaar sterf?

Annekie ·

Laat weet ons asb wanneer Graffie aangeneem is en deur wie. Baie mooi storie.

Cornel ·

Ek gaan die pragtige hondjie Saterdag by Elsie haal om by ons te kom bly in Johannesburg. Dis so ‘n hartroerende storie en “Graffie” het die sagste oë. Ons is Standers, so dis gepas dat sy van Standerton af kom. xx

Rina Pretorius ·

dankie so baie dat julle haar gaan haal. sy het klaar haar staal gewys deur haar babatjies onder uiters moeilike omstandighede te kry. Wees lief vir haar. julle is goeie mense om soveel moeite te doen om van JHB af Standerton toe te ry.

Eliza-beth ·

Cornel – jy gaan sien sy gaan die getrouste en beste hond ooit wees. ‘n Hond wat deur soveel dinge is is so dankbaar! Wel alle honde is mos maar, hulle sê nie verniet al skop jy ‘n hond sal hy steeds jou hand kom lek. En hierdie een gaan jul baie liefde gee glo ek! So dankbaar vir mense soos julle! Ek het klaar vyf so kan nie nog neem nie!

Anita ·

Dankie tannie Aria Smith, dat tannie met liefde na die bosluis brakkie gekyk het en sodoende vir haar en haar kleintjie ‘n nuwe lewe gegee het.

Ai, dis so mooi xx.

Honderliefhebber ·

Ag my liewe aarde! Hier sit en tjank ek nou … en dit by die werk! Wat ‘n pragtige einde … ons het meer daarvan nodig. Dit gee my weer moed vir die samelewing … mens lees net altyd hierdie verskriklike stories wat jou laat wonder of daar nog sulke goeie mense is. Dankie vir dit Maroela!

magda blom ·

Klein liefie hondjie, hoe wens ek nie ek kon jou vir myself he nie!! Ek is in aftree-oord waar ek nie diere mag aanhou nie – die gemis is so bitter diep!! Liewe nuwe eienaar, kyk groot asb baie mooi na hierdie mamma-hondjie en dankie by voorbaat daarvoor.

Magda Stander Schoeman ·

My broer het Graffie – nou Nala- aangeneem.
Glo my “Graffie” het uit n graf nou met haar gaai in die botter geval!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.