Goeie nuus: Groot katte kry opgeknapte ‘stoepe’ en swembaddens

Groot-Katte-01

Besoekers sal nou die bewegings van die groot katte in Nasionale Dieretuin in Pretoria op grootskerm kan dophou. Carol Thobela-Mabaso (regs) en Tracey Rehse, personeel van die dieretuin, verduidelik hoe die nuwe kamerastelsel werk. Foto’s: Esté Meyer Jansen.

Besoekers sal binnekort nie meer ʼn verskoning hê om nie die Nasionale Dieretuin in Pretoria se groot katte te kan sien nie.

Die leeus en tiers se opgeknapte kampe spog nou met ʼn beheerkamer met kameras wat hulle binne en buite monitor. Die beheerkamer is verbind met ’n grootskermtelevisie by die uitkykpunt oor die groot katte se kampe, wat beteken besoekers sal presies kan sien wat die diere aanvang, maak nie saak waar hulle hulle in die kampe bevind nie.

Volgens Craig Allenby, bemarkingsbestuurder van die dieretuin, is die drie tiers en ses leeus se kampe oor die laaste nege maande teen ʼn koste van R3 miljoen vir die groot katte se welsyn en personeel se veiligheid opgeknap.

Die groot katte het nou ʼn groter dagsorgfasiliteit wat beteken die karnivore kan nou rustig op hul eie sonstoep sit en bak terwyl hul kamp skoongemaak word. Daar is ook opgraderings aan hul nagsorgfasiliteit gedoen met ʼn nuwe deurkatrolstelsel, groter hekke wat dubbele slotte het en ʼn weegskaal in die leeus én tiers se hokke. Staalkoshouers is ook direk aan die deure gekoppel, wat dit makliker en veiliger maak om die diere te voer. Die tiers se swembaddens is vergroot vir meer plesier in die water. Verder is daar ook nuwe veiligheidsheinings geïnstalleer; die heinings en kamerastelsel werk met die nuutste sonkragtegnologie.

“Die diere se kampe moes opgegradeer word omdat die infrastruktuur net te oud geword het,” het Allenby gesê. Die groot katte se kampe is aanvanklik in 1929 gebou as deel van ʼn werkskeppingsprojek tydens die Groot Depressie. Dr. Rudolph Bigalke, die dieretuin se derde direkteur, het so vir 200 mense werk geskep, maar ook geskiedenis gemaak omdat dit toe die wêreld se grootste dieretuinkampe was en ʼn nuwe standaard gestel het vir hoe diere in dieretuine gehuisves is.

Winston (5), die dieretuin se wit Bengaalse tier, is Woensdag ná ʼn roetineondersoek in sy nuwe kamp vrygelaat. Daar is ook van sy semen versamel. Leia, ʼn tierwyfie, het eers ʼn sonarondersoek ondergaan omdat die dieretuinpersoneel gehoop het sy is dragtig. Die leeus sal in die volgende week na hul opgeknapte kampe geskuif word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

dries ·

Hoop net die parkeergeriewe word ook opgeknap, dat n ou weet jou kar is nog daar as jy terug gaan.

Peet Schabort ·

Ek verstaan die storte se sproeikoppe is ook vervang en lyk soos die by Nkandla…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.