[Goeie nuus] Heldetoekenning vir dowe tiener wat meisies red

Thabang Moruti (Foto: Thabang Moruti, Facebook)

Thabang Moruti (Foto: Thabang Moruti, Facebook)

Thabang Moruti is beloon vir sy heldedaad nadat hy 13 dowe meisies uit ʼn brandende gebou gered het.

Die Nasionale Gestremde Heldetoekenning 2015 is Vrydag aan Thabang oorhandig. Die 21-jarige is in Graad 12 by die Noordwes Sekondêre Skool vir Dowes in Leeudoringstad en het aan die African News Agency gesê dié toekenning beteken dat “dowe mense enigiets kan bereik”.

Thabang het in gebaretaal verduidelik hy het die aand omstreeks 01:00 op 24 Augustus 2015 wakker geword, en besef die meisieskoshuis is besig om te brand. Hy het gesê hy het sonder behulp van die waarskuwingsligte wakker geword, wat veronderstel was om te brand in ʼn noodgeval. “Ek het na buite gehardloop en in ʼn boom buite die gebou geklim om by die eerste verdieping uit te kom,” het hy vertel.

Hy het al 13 meisies na buite gebring en teen die boom af getel.

Volgens hom het hy na dié voorval besef hy wil graag ʼn brandbestryder word en mense met gestremdhede in gemeenskappe oplei, veral dowe mense oor brandveiligheid.

Hy was verlede week ʼn afgevaardigde tydens ʼn beraad oor die regte van mense met gestremdhede waar die toekenning aan hom oorhandig is.

“Dowe en horende mense moet gelyk wees,” het hy gesê.

Drie meisies het die aand in die brand omgekom. Altesaam 53 pasiënte is beseer vir rookinaseming en ander beserings wat hulle opgedoen het toe hulle van die eerste verdieping na buite gespring het.

Lees alle vorige berigte oor Leeudoringstad op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Xa ·

Ek hoop en glo hy gaan nog baie ver in die lewe kom en dat die land hom daardie geleentheid gaan gee want hy verdien dit.

Luister ·

Baie mooi gedoen, Thabang! Dankie ook; aan wie ook al die boom geplant het. :-)

Elzaan ·

Ironies genoeg is ons net 3 mense wat op so positiewe berig reageer. Dis eintlik hartseer. Maar wat ek wou sê is dat die “dankie aan… geplant het” was baie skerp. Lol. My laat lag so vroeg in die oggend.

Gesiggie ·

Well Done Thabang… jy verdien meer as net n Helde toekening… jy het jou lewe gewaag, om die hierdie 13 meisies te help…Voorwaar n baie mooi storie.. mag jy sukses in die lewe bereik.. en jou droom bewaarheid word. Trots op jou.

Dellie ·

Thabang Moruti, jong man, jy gaan baie ver in die lewe kom!! Met jou vinnige optrede het jy n klomp meisies se lewens gered en hulle families van groot hartseer gespaar. Ek hoop en bid dat al jou drome vir die toekoms waar sal word.

Vir die families wat kinders aan die dood afgestaan het met die brand, ons innige meegevoel met julle. Ons dink aan julle en bid vir julle.

Hettie ·

Trots op jou Thabang! Ek myself is ook doof en jy is held! Hou so aan om jouself trots te wees en jy sal goeie werk kry!

Cheryl ·

Thabang, jy verdien meer as net ‘n huldeblyk..
So trots op jou, ek is skoon hoendervleis waar ek hier sit.

Mag jy als bereik wat jy verlang in die toekoms.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.