Goeie nuus: Hennie Smit weer op die been

Hennie Smit. Foto: Facebook

Hennie Smit. Foto: Facebook

Die akteur Hennie Smit maak goeie vordering sedert hy in September in die intensiewesorgeenheid van die Wilgers-hospitaal in Pretoria opgeneem is vir dubbele longontsteking waarna heelwat komplikasies ingetree het.

Volgens Frans Swart, ʼn vriend van Smit en uitvoerende hoof van Lefra Produksies, het Smit vir die afgelope agt weke om sy lewe geveg. Swart het Saterdag weer vir Smit in die hospitaal gaan besoek.

“Ek was aangenaam verras, want vir die eerste keer in agt weke kon Hennie in ʼn stoel sit,” het Swart gesê. “Hy is nog baie swak, maar dit was goed om te sien dat hy sy ontbyt kon klaar eet. Hy het ook so lekker gelag, want hy het gesê die suster het hom omgekoop en het hom belowe dat hy die rugby kan kyk as hy al sy kos opgeëet het.”

Swart het gesê hy is baie positief dat Smit volkome sal herstel. “Die ou Hennie is terug! Hy begin al die susters rondbeveel, dan weet ek Hennie is op die herstelpad.”

Smit wil graag almal wat vir hom gebid het en wat soveel liefde vir hom gestuur het uit sy hart uit bedank.  “Hy kry trane in sy oë as hy daarvan praat en sonder spesiaal sangeres Arina de Witt uit, wat die afgelope agt weke hom deurgaans bygestaan het. Hy stuur opregte dank en liefde aan die hele Suid-Afrika vir al die liefde en ondersteuning wat hy die afgelope agt weke ondervind het.”

ʼn Huldigingskonsert word op 30 November om 16:00 by die Atterbury-teater in Pretoria vir Hennie gehou om sy lewe te vier en om te help om fondse vir sy mediese onkostes in te samel.

Kunstenaars wie vir Konsert vir Hennie kom optree, is onder andere Laurika Rauch, Sonja Herholdt, André Schwartz, Arina de Witt, Francois en Elizabeth Fourie, Brümilda van Rensburg, Hannes van Wyk, Rian van Heerden en Julie Strydom. Besprekings kan gedoen word by Computicket 0861 915 8000 of www.computicket.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elizabeth ·

Sterkte en beterskap! En groot applous aan die hele klomp wat help om fondse vir hom in te samel – DIS ware vriendskap en respek!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.