ʼn Inwoner van Virginia in die Vrystaat het ingetree nadat hy ʼn sakeroof gesien het en kon daarin slaag om een van die vermeende rowers ná ʼn wilde jaagtog aan te keer.
Die polisie het die inwoner, Sello Lethibane, Maandag vir sy dapperheid bedank.
“Lethibane het Sondag verby ʼn supermark in die dorp gery, toe hy opgemerk het dat drie mans besig was om dit te beroof,” het die polisie in ʼn verklaring gesê. “Hy het besluit om ondersoek in te stel. Die verdagtes het hom gesien en in ʼn rooi Toyota Tazz van die toneel weggejaag.”
Lethibane het die verdagtes in sy eie motor agternagesit. Die verdagtes het tydens die jaagtog beheer oor die motor verloor en was in ʼn botsing betrokke.
“Lethibane kon daarin slaag om een van die verdagtes aan te keer. Hy het die 20-jarige aangehou en die polisie ontbied. Die polisie het die verdagte in hegtenis geneem en op die Tazz beslag gelê. Daar is later vasgestel dat die motor wat die verdagtes gebruik vroeër in Thabong gekaap is.”
Die polisie het ook vasgestel dat die verdagtes die winkeleienaar en ʼn werker aangehou het en een van hulle in die arm met ʼn mes gesteek het. Hulle het ʼn onbekende hoeveelheid kontant gesteel voor hulle gevlug het.
Die polisie het verdere wenke opgevolg en later vyf verdagtes in verband met die roof in hegtenis geneem.
Al ses verdagtes sal na verwagting Woensdag in die Virginia-landdroshof verskyn.
Dis hoe dit gedoen moet word mense moet saam staan om geweld af te bring
Mooi man lyk my dis maar ons voorland sal maar self die staad se werk moet doen.
Awesome Sello! Jy was baie dapper!!
Sello jou yster!!
Welgedaan Sello. Ons is baie trots op jou !
Net ‘n regstelling by die foto se onderskrif: Die indruk word geskep dat dit die verdagtes se eiendom is. Wat van “Die verdagtes se gesteelde motor”?
Ek dink almal raak gatvol vir al die misdaad. Het jou katvis !!!
10 uit 10 Sello.
Mooi so Sello, wens daar was meer soos jy.
Wel gedaan Sello, jy doen wat baie ander te bang sou wees om te doen!