Goeie nuus: Jordan is in remissie!

Jordan lui die klok by Unitas-hospitaal. Foto: Verskaf.

Jordan lui die klok by Unitas-hospitaal. Foto: Verskaf.

Presies 213 dae nadat Jordan Pelser (4) met Burkitt-leukemie gediagnoseer is, het hy die goeie tyding ontvang dat hy in remissie is.

Om die goeie nuus te vier, het Jordan die afgelope naweek ses ballonne waarop die woord “kanker” uitgespel word, in die lug op gestuur om sy kanker vaarwel te groet.

Yolandi, Jordan se ma, het ʼn video saamgestel van sy dapper stryd teen dié seldsame maar uiters aggressiewe kanker. Die video bevat foto’s vandat Jordan met sy behandeling begin het, siek word daarvan, baie gewig verloor en met ʼn lyf vol pypies uiteindelik by die dood omdraai. Dit word gevolg deur foto’s van sy pad na herstel met die ondersteuning van talle aanhangers, sy maats en familie tot waar hy uiteindelik twee weke gelde die kankerklok in die onkologie-eenheid van die Unitas-hospitaal in Centurion lui toe hy sy laaste ronde hoërisiko-chemoterapie ontvang het. Hy hardloop na dié oorwinningstradisie met ʼn groot glimlag uit die hospitaal.

“Hy het die Spider Man-skoene aangehad wat sy ouma vir hom gekoop het toe hy op sy siekste was,” het Yolandi aan Maroela Media gesê. “Hy was in Mei in afsondering geplaas omdat enige kiem hom kon doodmaak weens die feit dat hy geen immuunstelsel het nie. Die dokter het gesê ons moet gereed maak om hom te groet indien sy antibiotika nie binne 24 uur sou werk nie. Sy ouma het vir hom kom kuier en gevra wat sy vir hom kan bring. Hy het net vir skoene gevra.”

Sy ouma, Illara Schoeman, het glo vir hom die Spiderman-skoene gegee op die voorwaarde dat hy met dié skoene by die hospitaal moet uitstap.

“Die antibiotika het gewerk, en met God se genade het Jordan begin herstel. Hy kon destyds skaars loop toe hy uit die hospitaal ontslaan is, maar toe hy sy laaste behandeling ontvang het, het hy die klok gelui en nie net uit die hospitaal geloop nie, maar sommer gehardloop!” het Yolandi bygevoeg.

Jordan is vir die volgende twee maande “onder huisarres” om sy liggaam kans te gee om te herstel en ʼn immuunstelsel op te bou, daarna gaan een van sy drome bewaar word: om saam met dolfyne te swem.

“Te danke aan Reach for a Dream-stigting gaan dié droom van hom volgende jaar bewaarheid word,” het Yolandi gesê. “Hy kan nie meer wag nie! Ek moet gereeld vir hom sê dit is eers sy boetie Chris se verjaarsdag, dan Kersfees, en dan gaan ons eers see toe.”

Jordan het vir sy ma gesê hy het sy kanker saam met die ballonne die lug in gestuur. Hy het gesê “sy kanker is nou by Jesus, en Jesus sal dit vernietig”.

Yolandi en Jordan se trust, Jordan’s Brave Journey, moedig Suid-Afrikaners aan om as beenmurgskenkers te registreer, wat mense of kinders met kanker se lewens kan red. “Dit is glad nie moeilik of pynvol om jou beenmurg te registreer of te skenk nie. Dit is basies soos bloedskenk. Beenmurg van geskikte skenkers kan van ʼn persoon se bloed versamel word. Daar word nie lumbale punksies gedoen nie,” het Yolandi verduidelik.

Klik hier om ʼn beenmurgskenker te word. 

Jordan se dapper stryd:

[wpvideo ZIpU8VaN]

Jordan lui die kankerklok by die Unitas-hospitaal toe hy sy laaste ronde hoërisiko-chemoterapie ontvang het:

[wpvideo X7VWIAw0]

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nuus_Leser ·

Ons DIEN ‘n God van WONDERS! Ek is so bly om hierdie goeie nuus te lees! Baie Dankie Here!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.