Goeie nuus: Jordan se verhaal laat Zeerust-gemeenskap saamstaan

Jordan Pelser ondersteun die bewusmakingsveldtog.

Jordan Pelser ondersteun die bewusmakingsveldtog.

Jordan Pelser, die dapper vierjarige seun van Pretoria wat in remissie is nadat hy verledejaar met Burkitt-leukemie gediagnoseer is, se verhaal het ʼn laerskool in Zeerust in Noordwes geïnspireer om iets daadwerkliks te doen om bewustheid oor kanker en bloedsiektes skep.

Laerskool Zeerust, in samewerking met die Sunflower Fund, wat mense aanmoedig om beenmurgskenkers te word, asook die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloedbank (SANB), beplan ʼn groot geleentheid op 22 en 23 Mei by die skool en het die hulp van die gemeenskap nodig om dit ʼn sukses te maak.

Volgens Corrie Pretorius, die skoolhoof, gaan al die leerlinge  op 22 Mei om 08:30 ʼn Sunflower-bandana ontvang om eenvormig te lyk en ʼn eenheid te vorm.  “Die kinders sal op die hoofrugbyveld die woord “Lewe” vorm deur die letters voor te stel.”

Die skool nooi die gemeenskap uit om deel te wees van hierdie bewusmakingsproses. “Elkeen wat die projek ondersteun, sal ʼn gratis bandana ontvang en ook deel van die woord vorm. Om 09:00 word lugfoto’s van die voorstelling geneem om te wys Laerskool Zeerust en die gemeenskap gee om,” het hy bygevoeg.

Pretorius het gesê die geleentheid gaan gebruik word om ondersteuning te toon aan geliefdes en kennisse wat ʼn stryd teen kanker veg, of ter nagedagtenis van geliefdes wat hul lewens deur die siekte verloor het.

Die skool se gewilde Beesloop en Kameel-derby vind op 23 Mei plaas. Feesgangers sal by die Sunflower Fund se stalletjie die geleentheid kry om ʼn bloedmonster te skenk vir ontleding as ʼn moontlike beenmurgskenker. Persone kan ook bloed skenk by die bloedbank se stalletjie.

“Laerskool Zeerust is bekend vir tradisie, dissipline en samehorigheid onder hul leerders. Dit is ʼn skool met ʼn trotse karakter en kultuur.  Voeg daarby ʼn toegewyde personeelkorps en ondersteunende ouergemeenskap en jy kry ʼn wen-skool wat altyd hoër bly streef,” het Pretorius bygevoeg.

Hy het gesê die skool waardeer die betrokkenheid van Zeerust-ouers, die gemeenskap en sakelui by die skool en sy aktiwiteite.  Hy het gesê die skool is bevoorreg om ʼn uiters lojale en betrokke ouergemeenskap te hê, wat met innoverende idees projekte met groot sukses die lig laat sien.

Bel Marelize Collins by 083 556 3525 vir enige navrae.

Lees hier meer oor Jordan se reis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eliza-beth ·

DIS nou ‘n mooi storie – baie geluk Zeerust se mense en veral ook die skool! Ek hoop elke liewe persoon gaan bloedmonsters skenk – wie weet, dalk is daar ‘n skenker wat kan help.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.