Goeie nuus: Jordan vier 5de verjaardag

Jordan Pelser wys hoe oud hy is. Foto: Verskaf

Jordan Pelser wys hoe oud hy is. Foto: Verskaf

Jordan Pelser moes verlede jaar dié tyd sy vierde verjaardag in afsondering in die Unitas-hospitaal se pediatriese onkologie-eenheid in Pretoria deurbring tydens sy dapper stryd teen bloedkanker.

Vandag word hy op sy vyfde verjaardag ʼn dag van die skool af gegun waar hy en sy jonger boetie, Chris, lekker by sy ouma, Illara Schoeman, se huis in Pretoria bederf word.

“Jordan is baie bly dat hy nie vandag in afsondering hoef te wees nie,” het Yolandi Pelser, Jordan se ma, Dinsdag aan Maroela Media gesê. “Saterdag gaan ons vir hom ʼn partytjie hou saam met familie en sy maatjies.”

Yolandi en die familie is baie dankbaar om die dag saam met Jordan te vier. In Mei verlede jaar is hulle aangeraai om “gehaltetyd” saam met hom deur te bring omdat dit sy “laaste dag” kon wees. Daardie dag het hy by die dood omgedraai en hard begin terugveg in sy stryd teen Burkitt-leukemie, ʼn seldsame maar uiters aggressiewe kanker.

Jordan met sy vierde verjaardag verlede jaar in die hospitaal. Foto: Verskaf

Jordan met sy vierde verjaardag verlede jaar in die hospitaal. Foto: Verskaf

“Hy was toe al in afsondering geplaas omdat enige kiem hom kon doodmaak weens die feit dat hy geen immuunstelsel gehad het nie. Die dokter het gesê ons moet gereed maak om hom te groet indien sy antibiotika nie binne 24 uur sou werk nie. Sy ouma het vir hom kom kuier en gevra wat sy vir hom kan bring. Hy het net vir skoene gevra.”

Illara het vir hom skoene van sy groot held, Spider Man, gekoop op die voorwaarde dat hy met dié skoene by die hospitaal moet uitstap aangesien hy toe skaars kon loop.

Presies 213 dae nadat Jordan gediagnoseer is, het hy in Oktober die goeie tyding ontvang dat hy in remissie is.

Hy het die belofte aan sy ouma nagekom, en nadat hy as deel van die oorwinningstradisie die kankerklok by die eenheid gelui het, by die hospitaal uit gehardloop.

“Dit gaan nog goed met sy gesondheid en hy is nog in remissie. Sy Spider Man-fase is nou verby en hy is nou versot op enigiets met ʼn weermagtema, so sy geskenke en partytjie hou daarmee verband,” het Yolandi gesê.

Yolandi en Jordan se trust, Jordan’s Brave Journey, moedig Suid-Afrikaners aan om as beenmurgskenkers te registreer, wat mense of kinders met kanker se lewe kan red. “Dit is glad nie moeilik of pynvol om jou beenmurg te registreer of te skenk nie. Dit is basies soos bloedskenk. Beenmurg van geskikte skenkers kan van ʼn persoon se bloed versamel word. Daar word nie lumbale punksies gedoen nie,” het Yolandi verduidelik. Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Tammy ·

Baie geluk Jordan, hoop jy hou lekker partytjie en geniet al die aandag en liefde wat jy ontvang.

Theresa ·

Baie geluk grootman. Hoop jy word lekker bederf…………..

neelsie ·

Hoop die beste vir die dapper seun, hy is n vegter.
Mag hy n gesonde , vol lewe he.!

CHRISTA ·

Baie geluk Jordan. Mag die liewe HERE voortgaan om elke dag saam met jou te wees, soos HY reeds vir 5 jaar saam met jou loop en jou elke dag bystaan en dra wanneer dit vir jou voel dinge word vir jou te veel. Hou net jou oë op die liewe HERE dan sal jy op stormwaters kan loop soos Petrus!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.