Goeie nuus: Kaapse brande uiteindelik geblus

Foto: Rob Stamatiadis / @RobStami/ Twitter

Foto: Rob Stamatiadis / @RobStami/ Twitter

Die verwoestende brand wat verlede naweek in Kaapstad uitgebreek het, is geblus.

“Die brand is geblus en alles is onder beheer,” het Charlotte Powell, woordvoerder van die stad se rampbestuureenheid, Maandag gesê.

Die reusebrand wat verlede Sondag in Muizenberg uitgebreek het, was teen Vrydag onder bedwang. Brandbestryders is egter oor die naweek ingespan om seker te maak die brand vlam nie weer op nie. Die brand het in die week na Ou Kaapse Weg, Chapmanspiek, Houtbaai en Tokai versprei.

Die volle omvang van die skade moet nog bereken word.

Teen Woensdag moes sowat 500 mense hul huise ontruim en ʼn brandbestryder het brandwonde opgedoen. Dertien eiendomme is beskadig en sommige heeltemal verwoes. Altesaam 52 verswakte bejaardes van die Noordhoek-aftreeoord moes vir rookinaseming behandel word.

Meer as 2 000 mense het gehelp om die brand te bestry. Ongeveer 2 miljoen liter water is met 2 000 waterbomme oor die brand gestort. Altesaam 26 vliegtuie het al sedert Sondag aan die brandbestrydingspoging deelgeneem. Altesaam 198 vlugure beloop reeds ʼn geraamde R2,4 miljoen.

Kol. Hendrik “Bees” Marais is Sondagmiddag dood nadat sy helikopter neergestort het terwyl hy ʼn brand by Olifantsbos by Kaappunt bestry het.

Lees alle vorige berigte oor die bergbrand op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Theresa ·

So bly daaroor. Net jammer daar moet ook lewens ingeboet word. As die brand opsigtelik of deur onnoselheid gestig is – hoop ek daardie een kry ‘n kramp en dat hy/sy vir ‘n jaar nie kan sit nie!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.