Goeie nuus: Kaapse egpaar se viervoudige vreugde

Foto: Facebook

Foto: Facebook

Jean en Tracy du Plessis het ses jaar lank gewag om kinders te hê en dié wens is Woensdag viervoudig bewaarheid.

Hannah, Isabella, Grace en Jane het Woensdagoggend ná ‘n keisersnee die eerste lewenslig aanskou. Die vier Du Plessis’tjies het onderskeidelik 1160g, 980g, 1205g en 1190g geweeg by geboorte. Die Du Plessis-egpaar het die geboorte van hul vier dogtertjies op Facebook aangekondig. Die Du Plessis’ het kort nadat hulle uitgevind het dat hulle ʼn vierling dogtertjies verwag ʼn Facebook-blad geskep waar hulle Tracy se vordering met die swangerskap gegee het.

Die egpaar skryf op die blad dat hulle sedert 2001 ʼn paartjie is en op 16 Desember 2006 getroud is. Die egpaar het in 2008 besluit om met ʼn gesin te begin. Hulle het vir sowat ʼn jaar lank probeer swanger raak waarna hulle ʼn dokter gaan sien en vrugbaarheidstoetse ondergaan het. Die egpaar is meegedeel dat hulle nooit sal kan kinders hê nie.

In 2010 het die egpaar met ʼn vrugbaarheidspesialis ontmoet waarna hulle kunsmatige inseminasie probeer het. “Ons het ongelukkig na vier probeerslae geen sukses gehad nie en ek het gevoel ek het ʼn ruskans nodig van al die hormooninspuitings en medikasie,” het Tracy gesê. Die egpaar het in 2012 besluit om in vitro-bevrugting te probeer. Daar is vyf “gesonde” embrio’s gekweek waarna twee in Tracy se baarmoeder ingeplant is en die oorblywende drie gevries is.

Jean en Tracy was platgeslaan toe hulle uitgevind het die proses was onsuksesvol. “In Februarie 2014 het ons besluit dit is tyd om weer te probeer.” Teen einde Mei vanjaar is die drie ander embrio’s in Tracy se baarmoeder ingeplant. Die egpaar het op 10 Junie uitgevind dat Tracy swanger is. “Ek het na my man, wat besig was om te bestuur, gedraai en vir hom gesê hy gaan ʼn pa word. Hy kon nie praat nie en het onmiddellik begin huil.”

Foto: Facebook

Foto: Facebook

Die egpaar het agt weke later vir ʼn roetine-ondersoek gegaan. Hulle is die nuus meegedeel dat hulle ʼn tweeling verwag. Twee het drie geword en drie het vier geword.

“Toe ons dokter die skok verwerk het en weer kon praat, het hy gesê ons verwag twee stelle identiese tweelinge! Albei die embrio’s het in twee gedeel! Oor die volgende twee dae kon ek en my man skaars praat en al wat ons kon doen was vir mekaar lag weens die skok. Die kans dat twee embrio’s in twee deel is omtrent een uit 70 miljoen! Ons het ʼn beter kans gehad om die Lotto te wen.”

Die vierling is op 30 weke gebore en word met ʼn CPAP-masjien asemhaling toegedien. Jean en Tracy het op die Facebook-blad gesê Hannah en Isabella is die een identiese tweeling en Grace en Jane die ander. “Dit gaan goed met al vier die dogtertjies en hulle ma.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Paperfairy ·

Haai dis darem darem nou ‘n lekker kersgeskenk. Pas hule mooi op liewe ouers.

Nico Strydom ·

Dagsê Michelle
Die ouers het ingestem om ‘n opvolgberig te doen wanneer dit bietjie rustiger gaan. Hou gerus Maroela dop.
Vriendelike groete
Nico Strydom
nms Maroela Media

Charlene Meiring ·

sit en huil ek nou hier so by die werk. Dis so goed om die nuus te begin lees en dis die nuus warmee my dag begin. Our God is mighty! Mag julle vreugde ook veelvoudig en ALLES wat mooi is in die lewe na julle kom. en hulle is beautiful!

Merinda ·

Dit is so wonderlik om sulke nuus eerste ding in die oggend te lees. Sit ook sommer en tjank. mag dit met julle almal baie goed gaan.

charmaine ·

Wow!!! Ja nee laat ek my trane ook afvee! Mag hulle die wonderlikse 4girls vir julle wees!!

Annamarie Trollip ·

Prys die Here. . . Net Hy wat so ‘n geskenk kan gee.

Hch ·

Dis sooooo lekker om bietjie iets positiefs in die koerant te lees. Baie geluk en geniet hulle!

Tienecke Heleez Degenaar ·

Wil net aan die du plessis baie geluk wens met hul vierling. Ons Hemelse Vader is groot en kan op Hom vertrou. Al’s het n tyd en plek in God se hande vertrou net. Baie geluk en geniet hulle groot Kers Geskenk van Bo.

Esmerelda ·

Sulke mooi naampies vir sulke mooi engeltjies. Sjoe GOD is eerlikwaar Amazing. Mag HY julle nog meer seën en julle poppies veilig dra deur die groei proses. Hulle is gorgeous!!!!

Theresa ·

Dis te wonderlik vir woorde. Baie, baie geluk julle! Kyk mooi na mekaar en geniet die lewe saam.

Juanita ·

Dit is voorwaar wonderlike nuus. Om ‘n tweeling in die lewe te bring is “awesome”. Maar om ‘n mamma te wees van viertjies is baie spesiaal. Die Here soek meerlinge se ouers met die hand uit, want dit is ‘n groot voorreg. Baie geluk met hierdie wonderwerk.

Kosie ·

Baie geluk aan u mnr en me du Plessis. Ek raak sommer weer broeis.

Anita ·

Ons dien ‘n God van wonders! Alle eer aan Hom.

Baie geluk aan die ouers, julle is sowaar geseënd.

lillian ·

Dis ‘n welkome geskenk(e) maar o weë, nou gaan julle jul hande vol hê!

Marisa Deetlefs ·

Wat is fout met al ons vroumense ek het net so gehuil!! Beste nuus in ‘n lang tyd!!

Madelein ·

Baie geluk! Ek het ook 6 jaar gewag, 3 invitros gehad en toe ‘n GIFT. Ons vierling is nou al 9 jaar oud. Dis bitter harde werk en min mense verstaan die aanpassings en opofferings. Maar dis ter self der tyd ‘n ongelooflike ‘blessing’. Alle eer aan God. Sterkte. Elke fase bly ‘n uitdaging.

Sandra du Plessis ·

Ek is die trotse ouma van die 4 wonderlike prinsessies. Ek is so opgewonde en kan nie wag om hulle te sien nie. Ek bly in Polokwane en vlieg volgende week en Woensdag af.

Shirley vd Merwe ·

Baie geluk Jean en Tracy kan nie wag dat jul huistoe moet kom dat ons die bondeltjies liefde kan vashou Sterkte en sterk gou aan hoor

Mariette ·

Baie geluk julle! Dit maak my egter baie hartseer dat ek my een tweeling seuntjie verloor het op 31 weke, hy was al 2kg gewees. :(

Veronecia ·

Ek voel saam met jou. Het ook daardie gedeelte van die paadjie geloop. En jy bly soek…al is dit nou ook 25 jaar gelede

chrizelda snyman ·

Hi Jean en Tracy. Ek wil net vir julle baie geluk. Ek is met een van die vierling snyman broers wat in 1977 gebore is getroud. Hulle is almal wonder like mense. Baie geluk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.