Goeie nuus: Kaapse vierling by die huis – foto’s

kaap-vierling7Die Du Plessis-vierling van Kaapstad is uiteindelik, na 70 dae in die hospitaal, by die huis.

Hannah, Isabella, Grace en Jane het op 10 Desember ná ʼn keisersnee die eerste lewenslig aanskou en is Dinsdag uit die Mediclinic Panorama ontslaan. Hulle was Woensdag 10 weke oud en elkeen weeg al meer as 2 kg. Drie van hulle het by geboorte net oor die 1 kg geweeg en Isabelle slegs 980 g.

Jean du Plessis, die vierlingdogtertjies se trotse pa, het aan Maroela Media gesê dit is wonderlik om sy kinders by die huis te hê. “Dit was omtrent ʼn groot trek van die hospitaal na die motor. Hulle het heelpad huis toe geslaap. By die huis het ons hulle eers aan die hondekinders voorgestel.”

Volgens Jean pas die viertjies baie goed aan en het een van hulle so nou en dan ʼn geit. “Dit lyk of hulle vinnig aangepas het in hulle nuwe omgewing. Hulle is darem gewoond aan die geraas van die hospitaal so hulle word nie maklik wakker nie.” Jean het geskerts dat hy en vroulief Tracy egter nie so baie slaap inkry nie.

“Ons het ʼn dagoppasser en ʼn nagverpleegster gekry, so ons kry darem nou meer slaap in.” Jean het gesê die vier sal volgende week op hulle eerste uitstappie gaan wanneer hulle vir ʼn opvolgbesoek die pediater moet sien. “Ons wil ook graag met hulle om die blok gaan stap. Iemand het genadiglik vir ons twee dubbelstootwaentjies gegee. Ons is so dankbaar vir al die geskenke en hulp wat ons ontvang het.”

Tracy gaan voortaan voltyds ma wees vir Hannah, Isabella, Grace en Jane terwyl Jean Maandag weer terugkeer werk toe. “Dit is so lekker om elke oggend in hulle kamer in te gaan en te sien hoe hulle slaap. Dit is wonderlik om my kinders in my arms te kan vashou,” het Jean gesê.

Jean en Tracy is al sedert 2001 ʼn paartjie en is op 16 Desember 2006 getroud. Hulle het in 2008 besluit om met ʼn gesin te begin. Na jare se onsuksesvolle probeerslae het Tracy op 10 Junie verlede jaar uitgevind sy is swanger nadat sy vir die tweede keer in vitro-bevrugting ondergaan het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Rienie ·

Hulle is so pragtig, baie geluk aan die ouers, die is regtig ‘n seen van bo.

Ina ·

watter voorreg het jul te beurt geval! Koester hul elke dag….baie geluk

Charlene ·

Dis nou om behoorlik geseen te word. En is hulle nie te pragtig nie. en ek mag dit sê…… Al 4 is Beautiful maar Isabella is vir my die mooiste

evn ·

Pragtig! Ekt net een, baie besig, baie lief vir haar! Sterkte :)

Rens ·

Pragtig, wat n wonderlike seën van God! Geniet en BEWAAR hulle hier in ons gevaarlike land!

Nuus_Leser ·

Ag dis te cute! Baie geluk julle! Praat van ‘n dubbele seening, mag hulle vir julle net elke dag meer en meer vreugde bring! Geniet hulle!
x

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.