Goeie nuus: Ma se ‘bedelplakkaat’ maak dogter se droom waar

Megan Schultz en haar metgesel, Brent. Foto: Verskaf

Megan Schultz en haar metgesel, Brent. Foto: Verskaf

ʼn Ma van Pretoria wat effens in die knyp was, het op ʼn baie kreatiewe manier daarin geslaag om haar dogter se droom oor haar matriekafskeid te verwesenlik.

Colette Schultz het aan Maroela Media vertel dit was haar dogter, Megan, ʼn matriekleerder aan Hoërskool Hendrik Verwoerd, se droom om met ʼn unieke motor by haar matriekafskeid op te daag. “Sy is ʼn ander soort kind! Die motor waarmee sy sou opdaag, was vir haar belangriker as haar rok. Sy wou so bitter graag met iets spesiaal by die geleentheid afgelaai word,” het sy gesê.

Ongelukkig was dit nie vir die Schultz-egpaar moontlik om nog ʼn reusebedrag uit te haal om ʼn spoggerige motor te huur nie. “’n Matriekafskeid is klaar so ʼn duur storie en daar is so baie kostes wat betaal moet word. Ek het net nie kans gesien om nog tussen R2000 en R4000 vir ʼn motor te betaal nie.”

Colette was egter vasbeslote om die aand vir Megan perfek te maak en het ʼn slim plan beraam. “Een van my kollegas het ʼn foto van my geneem met ʼn plakkaat waar ek ‘bedel’ vir die perfekte motor vir my dogter se matriekafskeid,” vertel sy laggend. “Ek moes behoorlik my trots in my sak steek om dit te doen! Jy sal verbaas weet wat ʼn ma alles vir haar kinders sal doen.”

Colette Schultz het hierdie foto op Facebook geplaas. Foto: Verskaf

Colette Schultz het hierdie foto op Facebook geplaas. Foto: Verskaf

Haar kollegas het haar gehelp om die foto op Facebook te versprei en kort daarna het ʼn man haar gekontak. André Vermaak, ook ʼn inwoner van Pretoria, het aangebied om sy antieke 1958 DKW 1000S vir hulle te leen sodat Megan die aand in styl kon afskop. Boonop het Andre sommer sy seun ingespan om die jong paartjie matriekafskeid toe te neem.

ʼn Baie nederige André het aan Maroela Media gesê Colette se Facebook-foto het hom dadelik getref en hy het net geweet hy moet help. “Ek dink dit is vir enige meisie, naas haar troudag, een van die belangrikste dae in haar lewe. Dit kan ook nie vir ʼn ma maklik wees om vir hulp te vra om haar dogter se droom waar te maak nie. Dit het net op my hart gedruk dat ek hulle moes kontak,” het hy gesê.

Danksy André was Megan se matriekafskeid Vrydagaand alles waarvan sy gedroom het. “Sy was mal oor die motor en dit was vir haar regtig ʼn spesiale begin vir die groot aand,” het Colette gesê. “Ons is so dankbaar teenoor André wat ons gehelp het om my meisiekind se droom-aand waar te maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Rene ·

Wat n ma nie als sal doen vir haar kinders. Baie mooi mamma en wel gedaan

Hannelie ·

Die “antieke 1958 DKW 1000S”! Ai, is ek dan ook “antiek”?

Nogtans bly dat Megan Schultz en Brent [?] die matriekafskeid kon geniet!!

Genis ·

Ja my wasmasjien staan al ‘n jaar stukkend en die hande wil nie meer nie. Sal ook 20 liter wit verf op my bedelplakaat wil bylas. My huis kort lankal ‘n laag verf, dinge gaan nou sleg agteruit.

Susara ·

In my dae was dit nie nodig vir my ouers om te “bedel” nie. Matriekafskeid was gehou in die skoolsaal, opgemaak deur die Standerd Nege’s. Hulle Ma’s het die kos gemaak, en hulle het dit bedien. Nou het dit in ‘n onsmaaklike af-show ontaard waar die pappies en die mammies meeding om te sien wie kan die duurste rok of kar vir hulle telg verskaf.

Magda ·

Susara jy het seker nie n matriek dogter nie. Sies vir jou man
Meisiekind jy het pragtig gelyk en welgedaan ma

Jakoos ·

Ag tog Magda, sy is net eerlik. Sy se niks leliks nie, sy vertel net hoe dit was in haar dae. Sies vir JOU!

Sollie ·

Susara NOU praat jy! Al die onkostes en 99.9% van die tyd word die rok nooit eers weer gedra nie. Dit het heeltemal handuit geruk.

Leonie ·

Ek weet hoe spesiaal hierdie dogter moes voel om met só ñ “grênt” motor afgelaai te word; want soen, ek het presies so motortjie gehad vir my troudag en ek self het soos ñ Prinses gevoel!! Welgedaan Mamma, jou kind gaan beslis eendag vir jou die beste ouetehuis uitsoek ;)

Leonie ·

Ek weet hoe spesiaal hierdie dogter moes voel om met só ñ “grênt” motor afgelaai te word; want soen, ek het presies so motortjie gehad vir my troudag en ek self het soos ñ Prinses gevoel!! Welgedaan Mamma, jou kind gaan beslis eendag vir jou die beste ouetehuis uitsoek ;)

Gesie ·

Dis n baie mooi gebaar van die mama,maar moet se ons matrieks in n Vrystaat se klein dorpie se matriek aand was donderdag gewees en die gr 11 het gehelp met als was ook kelners en die personeel het kos gemaak uit die boonste rakke ,ons matriek het fantasties gelyk net soos in ons tyd het onderwysers e gr 11 aleen als prefek gemaak ,aan al ons mariekulante in SA wil ek se sterkte met die eksamens wat voorle ek weet jul kan .

Sollie ·

Daar’s hy Gesie – RESPEK vir julle. Matriekafskeid het ‘n ontaard in ‘n monster affere!

Bruno Stef ·

Ek kon in 1963 my eerste motor ook n Dik-Klein-Willie 1958 model tweedehands gekoop het blou met n wit dak.Daar was altyd knaend by elke tenk petrol n blikkie of twee olie gevoeg en as jou hand te swaar was met die olie het die enjin soos n diesel voertuig gerook.Dit bring baie goeie herinnerings terug.

Fransie ·

Mooi storie, pragtige paartjie en pragtige kar. Daar is nog baie goeie mense daar buite.

Eliza-beth ·

Alles goed en wel, mooi van die ma en gaaf van die man wat die motor geleen het, maar ek stem saam, die matriekafskeid kos amper alsoveel soos ‘n troue – en DIS deesdae al ‘n plaas se prys. Nee wat, in ons dae is die rokke deur die ma of ‘n tannie wat kan naaldwerk doen gemaak, jou hare het jy self gewas en ingedraai of droog geblaas en die kos is ook deur die st 9’s bedien en hul ma’s het help maak. Die st 9’s was verantwoordelik vir die fondsinsameling deur die jaar en niks was buitensporig – dit was in die skoolsaal gehou en basta. Ons het g’n met spesiale karre aangekom maar saam met ons metgesel in sy wat-ookal-tjorrie of ons pa’s het ons geneem as die outjie nog nie ‘n lisensie gehad het en ons sal ons matriekafskeid nooit vergeet nie!

scalla ·

Baie mooi gebaar Andre, net jammer alle matriekafskeid funksies ontaard in n onpraktiese mode skou en geldvermorsing wat vir n baie beter doel kon aangewend word tot voordeel van die kinders

Janet ·

Ag nee regtig hoor Colette het niemand gevra vi geld ni syt gevra vi hulp en ek dink dis baie sweet gews ek sal dit ook doen en 100 soene vi Oom Andre. Oo ja as jo wasmasjien gegroet het koop n ander een

EMK ·

Janet kry ‘n woordboek of speltoets op jou pc man. Mense mag kommentaar lewe soos hul wil solank hul by Maroelsa se “wette” bly! Hulle bedoel niks leliks maar gee net feite!

anoniem ·

Kon hul nie n beter plek gekry het om die fotos te neem as in n parkeerarea, nee rerig man!

Magda ·

Ek kan nie glo hoe hoe hierdie mooi storie so baie negatiewe menings by mense kan uitlok nie.
Al ontaard dit soms in n monster affere soos Solly dit noem, die kinders sien baie uit daarna. Maggies mense ons het almal mos ons beurt gehad, gun die kinders ook hulle spesiale aand.

Stuart ·

Magda jy hap nou totaal onnodig na mense wat net die waarheid praat. Niemand het iemand misgun nie, hulle het bloot kommnetaar gelewer oor hoe hul voel en dis die waarheid. Dit het ontaard en dis meestal die ouers se skuld. Sannie mag tog nou nie deftiger lyk (lees: duurder rok aantrek) as my Annie en Jannie mag nie met ‘n deftiger kar opdaag as Pietie dan is dit iets ysliks. Ek weet van mense wat hulself diep in die skuld sit vir die storie en vir wat?

Willie ·

Ek dink nie daar is enige iemand wat die kinders nie hulle spesiale aand gun nie, maar dit het regtig wat koste aan betref handuit geruk. Daar is nog skole waar die ander leerlinge en onderwysers inspring, wat dit darem baie meer bekostigbaar maak, en ek glo dit is vit hierdie matriekulante net so ‘n spesiale aand. My kleindogter was so 7of 8 jaar gelede by haar matriekafskeid, dit het die belaglike bedrag van R35000-000 gekos net om die saal op te maak.

EMK ·

Willie – presies! Om R35 000 te spandeer net om die saal te verfraai is absluut buitensporig en plein en simpel twak. En dan volgende jaar word skoolgeld verhoog want daar is so baie kostes intussen word geld wanbestee op sulke goed. Ouers kan baie gou kla as hulel dink skoolgeld is hoog of dat geld dan nou sou wanbestee word, maar hier is ‘n geoei voorbeeld van vermorsing. Ons misgun niemand hul matriekafskeid nie, dit het doodeenvoudig nou net in ‘n monster ontaard soos Sollie tereg opmerk.

Theresa ·

Wow! Jy lyk pragtig en jou metgesel baie “handsome”. Die motortjie wat André V so goedhartig geskenk het is oulik en mooi blink gepoets. Als smaakvol en afgerond. Mamma – jy is een uit ‘n duisend – soos dit hoort. Ja, matriekafskeid moet voor gespaar word en kan sekere goed nou maar net nie die lys haal nie. Maar. Mens kan nou maar nie die groot stroom duurtes keer met vassteek hoe ons dit gedoen het nie. Dis soos om mense nou te dwing om met ‘n handtelefoon rond te loop en selfone te verdoem. ‘n Ou moet maar net kophou en doen wat jy kan. Hoop dit was ‘n fantastiese aand!

Sollie ·

Nee Theresa, vergelyk appels met appels. Handtelefoon vs selfoon het niks te doene met uitspattige matriekafskeid kostes nie. Niemand misgun hulle hul spesiale aand nie, ons praat almal in die algemeen hoe matriekafskeidsfunksies heeltemal handuit geruk het en ksotes hemelhoog is – lees gerus wat Willie geskryf het. En die ouers kla, maar sal steeds skuld aangaan om die duurste rokke en dinge te kry. Ironies ne!

susan ·

Dit was pragtig gewees van daai oom wat kon help met di kar. Jy was so mooi op j matriek afskeid en j rok net so mooi. Dankbaar vir mense wat nog Harte het om te help hulle is nogal. skaars

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.