Goeie nuus: ‘Mooirivier’ op pad na Australië en Nieu-Seeland

mooirivierMooirivier wat in Februarie 2015 vrygestel is in Suid-Afrika en wat nog steeds in teaters in Suid-Afrika te siene is, word hierdie naweek vrygestel in Australië en Nieu-Seeland. ONStv wat die verspreiding van die fliek in die buiteland hanteer, het bevestig dat die fliek by teaters in Australië en Nieu-Seeland gewys gaan word en dat daar meer as 100 vertonings van die fliek gereël is.

Die Event Cinema groep (waarby die Birch Carroll & Coyle teater groep by ingelyf is) het reeds 12 teaters waar Mooirivier gaan wys. Die fliek word ook by Grand cinemas, Orana cinemas en verskeie onafhanklike teaters gewys.

Henning Basson, van ONStv het genoem dat Mooirivier by verre die grootste verspreiding het wat ‘n Afrikaanse fliek nog in die buiteland behaal het. ONStv is saam met Kaapland films baie opgewonde oor die sukses wat die fliek reeds behaal het en die geleentheid om die stukkie kultuur met vriende en familie in die buiteland te kan deel.

Mooirivier speel af in Potchefstroom en is ‘n alles-in-een romantiese ensemble-film met vyf individuele, vervlegde storielyne wat tydens die oploop na Paasfees in Suid-Afrika ontvou. Die groter storielyn gaan oor ses paartjies – van 12 tot 40 jaar oud – wat elkeen op hul eie, unieke ontdekkingsreis na ware liefde is. Moet egter nie die tipiese feëverhaalweergawe verwag nie, want hierdie film vat jou op reis na die (soms komiese en soms hartseer) realiteit van dít wat regtig nodig is om liefde te laat oorwin.

Hierdie verhaal van liefde word aan jou gebring deur Cobus van den Berg, Tim Theron en Jorrie van der Walt, vervaardigers van Klein Karoo. Die film spog met ‘n sterbelaaide rolverdeling: Tim Theron, Anel Alexander, Hykie Berg, Milan Murray, Nadia Beukes, Heinz Winkler, Bouwer Bosch, Leandie du Randt, Danie Putter, Bennie Fourie, Francois Viviers, Elmie Brits en andere

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.