Goeie nuus: ʼn Toer na Singapoer vir jong netbalspelertjies

Hier is Potchefstroom Gimnasium se o.15-netbalspan. Agter v.l.n.r.: Melissa Smit, Lize-Mari de Wet, Annemie de Wet, Mariaan de Bruin en Jana  Steinmann. Voor v.l.n.r.: Paula Maré, Funeka Wanyane, Rizané van Rooyen, me. M. Ray (afrigter), en Elani van der Merwe. Danielle Strydom was afwesig toe die foto geneem is.

Hier is Potchefstroom Gimnasium se o.15-netbalspan. Agter v.l.n.r.: Melissa Smit, Lize-Mari de Wet, Annemie de Wet, Mariaan de Bruin en Jana Steinmann. Voor v.l.n.r.: Paula Maré, Funeka Wanyane, Rizané van Rooyen, me. M. Ray (afrigter), en Elani van der Merwe. Danielle Strydom was afwesig toe die foto geneem is.

Potchefstroom Gimnasium spook om fondse in te samel nadat sy o.15-netbalspan vanjaar daarin geslaag het om vir hulself ʼn plek in ʼn spogtoernooi in Singapoer te verseker.

“Die span het vanjaar aan die Suid-Afrikaanse Skole-kampioenskap deelgeneem nadat hulle die provinsiale liga gewen het,” het Kobus de Wet, die skool se adjunkhoof, aan Maroela Media gesê. “Tydens die SA kampioenskappe het hulle verskeie spanne van dwarsoor Suid-Afrika gewen en uiteindelik in die nasionale eindstryd teen Waterkloof te staan gekom. Waterkloof het die goue medalje en Potchefstroom Gimnasium die silwer medalje verower. Albei spanne het met hierdie prestasie gekwalifiseer vir ʼn internasionale toernooi wat tydens November en Desember in Singapoer gehou gaan word.”

De Wet het gesê die SA spanne gaan teen lande soos Australië,  Nieu-Seeland,  Singapoer en Maleisië kragte meet. “Hierdie is ʼn uitsonderlike prestasie, aangesien die span Suid-Afrika amptelik op die netbalbaan gaan verteenwoordig.”

Die kostes  vir hierdie toernooi is baie hoog en daarom het die span verskeie geldinsamelingsprojekte aangepak soos ʼn vrouetee saam met die Protea-netbalspan se afrigter, Elize Kotzé; ʼn gelukkige trekking met ʼn jagpakket ter waarde van R12 000; borglyste; en kompetisies by die skool.

“Potchefstroom Gimnasium is baie trots op hierdie span en wens ons dogters alle sterkte toe met die fondsinsameling en die uiteindelike toernooi,” het hy bygevoeg. “Ons is nou halfpad met ons fondsinsameling, en het nog harde werk wat voorlê, maar ons is vol vertroue dat ons alles sal insamel.”

Colleen Naude, Hoërskool Waterkloof se woordvoerder, het Dinsdag aan Maroela Media bevestig dat die twee skole se spanne die enigste twee is wat in die liga gaan deelneem. “Net die beste van die bestes neem aan dié toernooi deel,” het Naude gesê. ʼn Foto van die span gaan binnekort aan Maroela Media verskaf word.

Skakel De Wet van Potchefstroom Gimnasium by 018 293 0267 of stuur vir hom ʼn e-pos na [email protected] vir meer inligting.

 

BYSKRIF VAN FOTO:

Agter v.l.n.r.: Melissa Smit, Lize-Mari de Wet, Annemie de Wet, Mariaan de Bruin en Jana  Steinmann. Voor v.l.n.r.: Paula Maré, Funeka Wanyane, Rizané van Rooyen, me. M. Ray (afrigter), en Elani van der Merwe. Danielle Strydom was afwesig toe die foto geneem is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sandra ·

Laat die ouers maar self inspring – in my kinderdae is menige skoolsaal/kerksaal ens met pannekoekbakkery en koekverkopings gebou.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.