Goeie nuus ná baba met olie brand

Jaydené en haar ma, Jackie Croucamp (Foto verskaf aan Maroela Media)

Klein Jaydené Croucamp wat byna drie weke gelede met kokende olie gebrand het, is uit die hospitaal ontslaan.

Haar tannie, Chantelle Botha, het bevestig Jaydené is Vrydag uit die hospitaal ontslaan. “Haar veloorplanting was suksesvol en indien sy nie weer infeksie kry nie, sal sy nie weer ʼn operasie hoef te ondergaan nie.”

Chantelle het gesê Jaydené se ouers is baie dankbaar en bly dat sy ontslaan is. “Hulle het haar sommer met ballonne by die hospitaal gaan haal!”

Jackie Croucamp, Jaydené se ma, het aan Maroela Media gesê die vel op Jaydené se rug is stukkend en baie seer van al die lê, maar die brandwonde genees mooi. “Sy het nog ʼn stukkie op haar bors wat nog nat is. As dit nie opklaar nie, sal sy wel hiervoor nog ʼn operasie moet ondergaan.”

Jaydené het ook ʼn afspraak later vandeesmaand om die velspesialis te sien.

Maroela Media het vroeër berig Jaydené het brandwonde oor 30% van haar lyf opgedoen toe sy op Sondag, 15 Julie, ʼn braaipan met kokende olie op haarself omgetrek het. Sy het brandwonde aan haar bors, rug en gesig opgedoen, waarvan sommige derdegraadse brandwonde is. Sy is onmiddellik ná die voorval eers na die Livingstone-hospitaal gehaas waar die gesin na die Dora Nginza-hospitaal verwys is omdat dié hospitaal glo beter toegerus is om brandnoodgevalle te hanteer.

Die ongeluk het die middag omstreeks 17:00 gebeur terwyl Jackie aandete voorberei het. Sy het olie in ʼn braaipan verhit om aartappels te braai en Jaydené het ʼn paar meter weg van die kas gesit en speel. “Ek het omgedraai om ʼn bak net op die kas agter my neer te sit en in daardie oomblik het Jaydené verby my geglip en die braaipan op haarself omgekeer.”

Jackie het gesê sy en Ricardo Bester, Jaydené se pa, is baie dankbaar is vir boodskappe van ondersteuning wat hulle ontvang. “Ons weet daar is soveel mense wat aan ons dogtertjie dink en dit beteken vir ons so baie.”

Lees alle vorige berigte oor Jaydené Croucamp op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

AmY ·

Dis wonderlike nuus. So bly vir haar en haar ouers en familie.

Gesiggie ·

Dankie Jesus dat U die pragtigge Poppie se eina sal genees, so dankbaar dat die operasie goed afgeloop het. Sterkte aan Mamma en Pappa en regtig so danbaar dat jul dogterjie gou weer beter sal word.

tokkie ·

Baie bly. Maar wil net mammas en pappas herinner om ten alle tye versigtig te wees veral met kookolie of by kosmaak moenie kanse met kinders by stowe en olie. Ek weet dis ñ ongeluk maar dit gebeur so vinnig. Sterkte aan al die familie en veral die mooi poppie

JSG ·

Goeie nuus. Sy is nog jonk en genesing dus goed met min letsels. My raad is, gebruik altyd die agterste plate wanneer olie verhit word en draai altyd handvatsels sovêr moontlik agtertoe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.