Goeie nuus: Nelspruit-ontvoeringsdrama spoedig opgelos

Argieffoto: SAPD / Facebook

Argieffoto: SAPD / Facebook

ʼn Sesjarige seun is terug in sy ouers se sorg nadat hy Vrydag in Nelspruit, Mpumalanga, glo deur vyf mans ontvoer is.

Kol. Leonard Hlathi, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê die Pakistanse seun is glo Vrydag omstreeks 16:10 by sy skool, Valencia Islamic School, deur ʼn familielid ontvoer.

“Die pa het iemand na die skool gestuur om sy seun te gaan haal en toe die persoon daar aankom is hy meegedeel dat die seun reeds deur ʼn familielid opgelaai is,” het Hlathi gesê.

Die pa het omstreeks 19:30 ʼn oproep van iemand gekry wat ʼn losprys van R1 miljoen vir die kind se vrylating geëis het. Die polisie is van die voorval ingelig en ʼn intensiewe ondersoek is van stapel gestuur.

Die pa het intussen verskeie oproepe en SMS’e, waarin gedreig is om die seun leed aan te doen, van verskillende nommers af ontvang.

“Die pa het Saterdag omstreeks 09:24 nog ʼn SMS ontvang dat die proses vinniger afgehandel moet word omdat hulle die seun gaan seermaak,” het Hlathi gesê.

Die polisie kon daarin slaag om van die verdagtes se skuilplek op te spoor en onderhandelinge tussen die polisie en die verdagtes het begin. Die polisie het ontdek dat meer verdagtes by die ontvoering betrokke is.

Daar is tydens die onderhandelinge ingestem dat die pa die ontvoerders by ʼn winkelsentrum in Lydenburg sou ontmoet. Hulle het op die nippertjie die ontmoetingsplek verander na ʼn begraafplaas in Mashishing. Terwyl die polisie op pad was na die begraafplaas, het hulle die verdagtes se voertuig opgemerk en dit agtervolg. Die verdagtes het tevergeefs vir die polisie probeer wegjaag. Hulle het met hul voertuig in bosse ingery, uitgespring en te voet saam met die seun gevlug.

“Die verdagtes het na ʼn ruk teruggekeer na hul voertuig, waar die polisie hulle ingewag en in hegtenis geneem het. Die seun is ongedeerd gered en in sy pa se sorg oorgelaat,” het Hlathi bygevoeg.

Die vyf mans, twee van Pakistan en drie van Suid-Afrika, het Woensdag in die Nelspruit-landdroshof verskyn op aanklagte van ontvoering en afpersing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.