Goeie nuus: Nog ʼn groot daling in brandstofpryse verwag

Argieffoto

Argieffoto

Die prys van petrol kan moontlik op 3 Desember met meer as 70c per liter daal terwyl die groothandelprys van diesel met sowat 50c kan daal, het die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) Dinsdag gesê. Met die verwagte daling, sal die prys van petrol laer wees as wat dit ʼn jaar tevore was. Dit sal die eerste keer in vyf jaar wees dat die prys van petrol jaar-op-jaar laer is.

Paul Joubert, senior ekonomiese navorser by die SNI, het verduidelik dat, soos in Oktober, die swakker rand tans ʼn daling in plaaslike brandstofpryse teëwerk. Hy het gesê die rand het in Oktober gemiddeld teen ongeveer R11,12 teenoor die Amerikaanse dollar verhandel. Tot dusver in November het dit marginaal swakker teen gemiddeld R11,14 verhandel.

“Gelukkig het internasionale petroleumprodukpryse, die ander faktor wat plaaslike brandstofpryse bepaal, tot dusver deur die loop van November oliepryse verder afwaarts gevolg. Die prys van Opul-olie, wat deur die loop van Oktober $86,29 per vat was, verhandel tot dusver in November bykans 10% laer op gemiddeld $77,67 per vat,” het Joubert gesê.

“Die verwagte daling sal die prys van 93-oktaan petrol in Gauteng op ongeveer R12,28 te staan bring. Dit sal laer wees as die prys van R12,97 per liter wat ʼn jaar tevore, in Desember 2013, gegeld het. In November 2009 was petrol R1,30 goedkoper as in November 2008, maar in die daaropvolgende vyf jaar was die prys van petrol deurentyd hoër as ʼn jaar tevore,” het hy bygevoeg.

Joubert het aangedui dat die relevante tydperk vir die berekening van Desember se plaaslike brandstofpryse nog tot en met Donderdag 27 November duur. Hy het gewaarsku dat indien die rand óf oliepryse van nou tot dan groot fluktuasies ervaar, die prysverandering in Desember beduidend van hierdie voorspelling kan afwyk. Die kans vir ʼn prysstyging in Desember is egter feitlik nul. Die departement van energie sal die finale aankondiging oor die brandstofprysveranderinge op 28 November doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Dave ·

Dit sal ekonomies baie slim wees om nou ‘n kar te koop wat swaar is op petrol sodat meer geld gespaar kan word wanneer die petrolprys daal. Gebruik meer liters sodat jy meer 70sente kan spaar!

Henk ·

nou verduidelik asseblief nou vir my – die rand is met TWEE SENT swakker. Die olieprys is $11 (ELF DOLLAR) dus ongeveer R110-00 per vat swakker. En ons kan NET 70 sent kry? As ons gelukkig is? Weens 2 sent per dollar? Ek sukkel om die sommetjie te maak…..

Paul ·

Olie is (tot dusver) sowat $8,62 laer, en in rand-terme omtrent R94 per vat laer. In persentasie-terme is dit sowat 9,8% minder.
Die prys van petrol bestaan tans uit 44% vaste heffings, winsmarges, ens. en slegs 56% uit die sogenaamde “basiese brandstofprys” wat van oliepryse in rand afkomstig is.
56% van 9,8% is sowat 5,5%.
‘n Daling van 5,5% in die huidige petrolprys van R12,98 sal ‘n daling van 71c per liter wees.

Babs ·

Petrol prys kom maar gewoonlik voor die vakansie af sodat daar gery kan word en die till geslaan kan word by die Wimpys by die motorhawens langs die pad. Dit is met die terugkom in Januarie wat die groot skok kom. Geld is op en so ook die prys van petrol.

Paul ·

Die eienaars van vulstasies (dis hulle wat die Wimpy-franchises besit) het absoluut geen beheer oor brandstofpryse nie. Hierdie teorie hou dus geen water nie.

zahn ·

More Paul. Jou stelling is heeltemal reg, maar ek het nou die dag redelik groot geskrik toe ek sien wie besit die Franchise regte van McDonalds in SA. Jou eie Adjunk Staatspresident. En ons weet almal hoe die kliek in die parlement mekaar se rugte krap, so Babs se stelling mag vergesog klink, maar in ons landjie met die hudige bestel, is dit glad nie so buitensporig nie.

magda ·

Ha ha David. dit is byna soos Mike Schutte en Jimmy Abbot wat die ou Suid Wes toe gaan en net 2 visse gevang het. Met die terug kom werk hulle uit hoeveel die 2 visse hulle gekos het. Hulle werk die petrol die verblyf,drank en kos uit. Hulle kom uit op n bedrag en sê verlig ” O!!! dis maar goed hulle het net 2 gevang en nie meer nie dit sou hulle baie meer gekos het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.