Goeie nuus: Nuwe fees vir Potch bevestig

Argieffoto.

Argieffoto.

ʼn Fees soortgelyk aan Aardklop sal wel in Oktober vanjaar voortgaan, het Japie Gouws, woordvoerder vir die groep van Aardklop-belanghebbendes, Woensdag in ʼn verklaring gesê.

Die Aardklop-belanghebbendes, wat bestaan uit verteenwoordigers van die Potchefstroomse Sakekamer, die Tlokwe Stadsraad, gemeenskapsleiers uit Potchefstroom, die Noordwes Universiteit, stigtersborge, asook ander borge en medewerkers van die Aardklop Kunstefees, het tydens ʼn vergadering verlede week gesê só ʼn fees is haalbaar in Potchefstroom.

Dié belanghebbendes het voorheen gesê alle aspekte is nie in ag geneem tydens die besluit om Aardklop te staak nie. Hulle het aangevoer as die fees wegval, sal dit ʼn groot knou vir die ekonomie van Potchefstroom inhou.

“Dit laat ook ʼn groot leemte in die platforms vir drama, klassieke musiek en ander kunsvorme in die noorde van Suid-Afrika,” het Gouws verduidelik. “Die platform is oor 18 jaar deur Aardklop gevestig met die hulp van stigters en ander borge wat baie in die handelsmerk, die kunste en die gemeenskap van Potchefstroom belê het.”

Gouws sê verskeie borge het reeds hand opgesteek om betrokke te raak by die fees.  “Borge is van uiterste belang om die fees aan te bied. Hoewel die doelwit nog nie heeltemal bereik is nie, was die terugvoering só positief dat die groep van belanghebbendes besluit het om ʼn aankondiging te maak dat ʼn kunstefees wel van 4 tot 9 Oktober 2016 in Potchefstroom gehou sal word.”

Die belanghebbendes werk tans volstoom daaraan om nog borge te finaliseer, asook om mense aan te stel wat die bestuur van die fees sal hanteer. “Meer inligting sal ook so gou moontlik, waarskynlik in die eerste helfte van Mei 2016, beskikbaar wees oor inskrywings vir die feesprogram en aansoeke vir stalletjies en ander dienste.”

Gouws het egter gesê die naamregte van Aardklop Kunstefees kon nog nie bekom word nie en die fees sal vir eers die Potchefstroom Kunstefees genoem word.

Lees alle berigte oor die Potchefstroom Kunstefees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Scalla ·

Baie dankie vir afrikaans, skuif die venue terug na die bult en maak toegang tot feesterein gratis, inkomste word gegenereer deur optredes en stalletjie huurinkomste, sterkte en hoop dit is n reuse sukses

japie ·

Ek stem, Aardklop het sy alie begin sien toe hulle probeer geld maak het uit ingang en hy geskuif is.

Josua Keys ·

Ons was laasjaar by Aardklop, as ek Aardklop moet vergelyk met Randfoentein skou moet ek sê is Randfontein skou by vere die beter opsie vir die kaartjie gelde wat jy betaal. Ek het familie lede wat Aardklop besoek het toe dit nog Naby Pukke gehou was in die dorp en hulle almal sê dit het ‘n baie lekkerder admosveer geskep. Ek was onder die indruk Aardklop is gedeeltelik ‘n vlooimark en dat jy na opvoerings kan gaan kyk sonder om ekstra daarvoor te betaal, ek praat nie van musiek kunstenaars wat daar optree nie maar van akteurs wat hul staal op die verhoog wys, ons was baie teleurgestel toe ons uitvind dat ons ekstra kaartjies daarvoor moes koop en was somer afgesit van Aardklop, ons wou juis Aarklop toe gaan vir daardie optredes, ek hoop regtig die jaar sal anders wees al is dit n nuwe fees moet julle eerstens na die kaartjie pryse kyk en ‘n ope fees aanbied dit is hoe ons Aardklop wil beleef. Randfontein skou organiseerders kon dit regkry ek glo julle kan ook!!

E.K. ·

Ek hoop die nuwe bestuur se harte sal in die regte plek wees en sal die fees en wat daarmee gepaard gaan eerste stel en nie net dink hoe hulle die publiek kan uitbuit met toegangsfooie by die stalletjies ens nie. Dit het heeltemal die atmosfeer weggeneem. Ek het half ‘n wrang smaak in my mond oor die hele storie en sal maar eers kyk voor ek tyd en geld spandeer om soontoe te ry en by te woon. Asseblief organiseerders – neem al di edigne waaroor mense kla in ag voor julle reëlings finaliseer.

Marelize Olivier ·

Dis baie goeie nuus. By wie kan ons uitvind in verband met stalletjie aansoeke ens?

Tom ·

Verstaan die Aardklop naam gaan dalk nie meer gebruik word nie. Wonder net wat die houers/eienaars daarvan daarmee gaan doen?
Dink net die naam moes behoue gebly het.
Dalk moet die eienaars heroorweeg?

Marnus vd Mescht ·

Is baie bly oor die besluit. Sal wel graag vir weet wie die sogenaamde “gemeenskapsleiers” is van wie melding gemaak word? Hoop nie dit is die selfaangestelde “hoofleerlinge”, oftewel admins vir al wat n Potch facebook blad is nie!

Scalla ·

Wat van Hartslag Fees as n naam, so naby as vorige naam, vergeet van naamregte en gaan voort

Estelle ·

Fantastiese nuus! Hoop net dit gaan terug bult toe vir atmosfeer en verander nie weer in ‘n skou of pretpark maar bly ‘n Kunstefees ?

Janjan ·

Baie goeie nuus! gaan asb terug na die Bult toe. Wat van die naam Akkerfees?

Zenda Nel ·

Hou die fees asb net waar hy was. Ons het jare gelede toe die fees by die Bult was sonder toegangsgeld en oop vir almal, die eerste keer na Aardklop gegaan en gesê nooit weer nie! Daarna het ek elke jaar Innibos toe gegaan, betaal vir ‘n weekkaartjie en dit baie geniet. Konserte en opvoerings was ook nie op die terrein nie en daarvoor het ons, soos dit hoort, ekstra voor betaal. Die enigste probleem daar was dat blyplek in die koshuise nie binne loopafstand van die feesterrein was nie. MAAR toe skuif Aardklop na die nuwe terrein en daar is toegangsgeld. R300 vir ‘n weekkaartjie is eintlik belaglik goedkoop as ‘n mens in ag neem hoeveel jy gewoonlik betaal om ‘n musiekkonsert by te woon! Ons begin drie jaar gelede in Gimmies se koshuis tuisgaan (10 minute se stap van die hoofingang) vir die week en ry met die FNB pendelbussies net waar ons wil wees tussen die verskillende opvoerings. As jy ‘n FNB kaart het, ry jy verniet – wat ‘n groot lekkerte!! Ons is dus baie, baie bly om te hoor die fees kom terug. Maak nie saak in watter gedaante of wat die nuwe naam is nie, ons sal daar wees!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.