Goeie nuus: Ondanks sukses werk hy steeds in haar tuin

Joubert Shale

Joubert Shale

Joubert Shale (44) het sowat 19 jaar gelede van deur tot deur geloop op soek na stukwerk. ʼn Barmhartige Samaritaan het aangebied dat hy een keer per week in haar tuin kan werk… ’n geleentheid wat sy lewe vir altyd verander het.

Shale was in sy vroeë 20’s toe hy Saterdagoggende in die vrou se tuin by haar huis in Kloofendal aan die Wes-Rand begin werk het. Die vrou het Shale verdere opleiding gegee in die fynere kunsies van tuinwerk en kort voor lank was hy ten volle in beheer van die tuin.

Die vrou het ook groter potensiaal in hom raakgesien en hom gehelp om sy rybewys te bekom. Bernina Suid-Afrika, een van die vrou se kliënte, het in daardie stadium ʼn vakature gehad vir ʼn tegniese assistent in hulle werkswinkel in Auckland Park, Johannesburg. Die vrou het die nodige reëlings getref en Shale het vir ʼn onderhoud gegaan. Dit was 17 jaar gelede. Vandag is Shale ʼn senior naaldwerkmasjientegnikus wat spesialiseer in die diens en herstel van stoomstrykysters.

Shale het egter nie vergeet van die geleentheid wat soveel jare gelede vir hom gegee is nie en hoewel hy vandag baie suksesvol is, sy eie motor en huis besit en ʼn trotse man en pa is, werk hy steeds elke Saterdag in die vrou se tuin.

“Toe ek honger was het die tuin my gevoed en om steeds Saterdae in die tuin te werk is my manier om dankie te sê vir my goeie fee vir die geleentheid wat sy jare terug vir my gegee het. Wanneer ek Saterdae met die plante in die tuin praat dan word ek weer herinner dat die lewe mens niks skuld nie, so wanneer ʼn geleentheid hom voordoen – maak nie saak hoe klein of onbelangrik nie – gryp dit met albei hande aan, koester dit en bly in voeling met jou nederige begin,” het Shale gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Rene ·

Kry ek nou sommer ‘n knop in my keel. Dis lekker om te sien mense gee om en help ander, en ook dat iemand dankbaar is vir hulp.

SNEL ·

Sjoe, wat n lewensverhaal, ek dink ons kan by hom iets leer. Ek het ook soos Rene n knop in die keel gekry. Joubert, jy is n yster van n man, jou kinders en vrou kan baie trots wees op jou!!!!!

Rikku ·

Wat ‘n mooi berig. Mnr Joubert Shale wees trots op wat jy bereik het in die lewe. En moet nooit jou neerigheid verloor nie Met jou houding gaan jy nog ver kom in die lewe.

Rikku ·

Wat ‘n mooi berig ! Mnr Joubert Shale wees trots op wat jy in die lewe bereik het, en moet
nooit jou nederigheid verloor nie. Dit is wat jou so spesiaal maak.

Amanda ·

Hoendervleis-mooi storie! Baie lekkerder om dit te lees as die moord en korrupsie. Ek is dankbaar daar is mense soos die persoon wat Joubert Shale gehelp het en dat hy nie vergeet het, en steeds nie vergeet, om dankie te se nie – dis waarom hy altyd suksesvol sal wees in die lewe.

Hein ·

Geen wonder dat hy suksesvol is in die lewe nie want hy het integriteit

Jo ·

Sjoe, hoe heerlik om vir ‘n verandering so ‘n mooi en positiewe nuusberig te lees. Dankie Maroela Media! Mr Joubert Shale, mag jy nooit verander nie. Mag jy dit baie ver in die lewe bring en ook jou kinders en kleinkinders eendag dieselfde waardes leer as wat jy het. Mag jou verhaal en voorbeeld ander inspireer om dieselfde te doen. En die vrou wat sy potensiaal raakgesien en laat ontgin het, baie dankie! Mag jy onthou word vir hierdie weldaad.

Eliza-beth ·

Wonderlike, positiewe storie! Beste wense vir die toekoms aan die weldoener en ook vir Mnr Shale!

anet ·

Hierdie is ‘n wonderlike mooie stukkie geskiedenis in ons verskeurde samelewing.
Joubert het baie hard gewerk vir wie en wat hy is vandag. ‘n Man wat trots is op homself en sy handewerk. Joubert dit wil gedoen word !
Barmhartige Sameritaan, dankie dat jy vir Joubert ‘n plekkie in die Son geskep het, dit is werklik goeie nuus vir ons.

Anne Fourie ·

Ek dink daar is baie ander wat by hom kan leer….. Jy werk vir dit en wees dankbaar vir dit wat jy gekry het. Hoekom hy so nederig is, hy het onder begin. Dit is nie net vir hom gegee nie. Lekker om so ‘n sukses storie te lees. Voorspoed vorentoe vir jou….. en dankie vir die mens wat hom die geleentheid gegee het.

Lindie Lourens ·

Ek stem! Welgedaan aan albei. Wens al ons nuus kon so wees.

CHRISTA ·

Mnr Joubert Shale, jy is ‘n man van integriteit en trots. Mag die HERE jou en jou gesin elke dag ryklik seen. Jy is ‘n wonderlike voorbeeld vir vriend en viand!!
Dit wys weer eens: saam kan ons so baie bereik!

Erika ·

Wow…. Pragtig, goeie nuus en n pragtige storie so tussen al die negatiewe rubrieke in al ons koerante. Ons kan net die Hemelse Vader dank dat daar nog sulke mooi gesindhede onder mense is. Omgee kos niks. n Liefdesdaad gedoen deur een persoon aan n ander en dit was n wen-wen situasie vir albei. Wedersydse respek en omgee. Wens ons kan meer sulke mooi artikels lees, sulke positiewe stories maak my hart warm en opgewonde.

Christina ·

Die lewe skuld mens inderdaad niks.
Shale is ‘n wonderlike voorbeeld !!

Jacques ·

Dankie vir hierdie stukkie beriggewing. Dis lekker om te midde van al die slegte nuus hierdie bemoedigende stuk te lees. Hou so aan maroelamedia! Julle is puik!

Mariana Eilerd ·

Pragtige storie van Joubert Shali. Baie van ons kan so baie van hom leer. Gee mens hoop deur al die ander slegte nuus wat jy gedurig moet hoor.

Mariana Eilerd ·

Pragtige storie van Joubert Shali. Baie van ons kan so baie van hom leer. Gee mens hoop deur al die ander slegte nuus wat jy gedurig moet hoor.

lorayne ·

Ek salueer jou Joubert Shale!!! En ook jou goeie fee . . .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.