Goeie nuus: Ontvoerde seuntjie ná vyf maande opgespoor

Argieffoto

Argieffoto

Puik speurwerk deur die polisie het daartoe gelei dat ʼn seuntjie Maandag opgespoor is nadat hy in Januarie in ʼn park aan die Oos-Rand ontvoer is.

Sers. Welcome Simawu, polisiewoordvoerder, het Woensdag aan Maroela Media bevestig Kagiso Mokwena (6) is in ʼn voorstad naby Katlehong opgespoor.

Maroela Media het by ʼn betroubare bron verneem die seuntjie was in ʼn plakkershut toegesluit toe die polisie op hom afgekom het.

Kagiso Mokwena is gevind.

Kagiso Mokwena is gevind.

“ʼn Vrou is op die toneel in hegtenis geneem,” het Simawu gesê.

Hy het gesê die polisie ondersoek ʼn saak van menseroof en ontvoering. Die seun is terug in die sorg van sy familie.

Dessie Rechner, stigter en direkteur van Pink Ladies, ʼn organisasie wat hom daarop toespits om vermiste mense op te spoor, het die polisie, in besonder konst. Abram Mathibela, geloof vir sy toewyding in die ondersoek. “Dit is wonderlik dat Kagiso lewend en gesond gevind is. Die polisie het regtig goeie werk gedoen,” het sy gesê.

Maroela Media het vroeër berig Mokwena het op 9 Januarie omstreeks 12:00 verdwyn terwyl hy saam met maats in ʼn park in Katlehong gespeel het.

Daar is beweer dat ʼn onbekende vrou hom op sy naam geroep het terwyl die kinders gespeel het. Sy het aangebied om vir die kinders suigstokkies te koop. Sy het vir die maats geld gegee, waarna sy saam met Mokwena weggestap het. ʼn Beloning van R50 000 is later uitgeloof vir inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming en vervolging van sy ontvoerder of ontvoerders.

Die verdagte, vermoedelik 35 jaar oud, moet binnekort in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

SNEL ·

Goeiste, dis ongelooflik om te dink hy is lewend gevind na ses maande. Dis puik werk. Daai familie hou sekerlik n groot “party” met n groot vuur en geslagde dier, die vreugdes vure brand hoog.

faith ·

so bly die kleinding is veilig terug waar hy hoort. ouers asb jy kan nie dat so kleinding alleen of saam maats by n parkie speel sonder groot mens toesig ni, nie in vandag se tyd nie

Eish! ·

En ek wonder of was die ontvoerder bekend aan die kind? (Weet die maats het gesê dat sy hom op sy naam geroep het)

pop ·

En hopenlik word die beloning uitbetaal. Anders gaan niemand meer klik nie. Soveel geld is n groot aansporing om jou mond oop te maak indien jy iets verdag opmerk.

Dirk Strauss ·

Dis sulke goeie nuus wat ons meer en meer kort in SA. Fantastiese werk van die SAP se kant!

Paplepel ·

Opmerklik hoe stil die klomp is wat altyd so gal braak oor SAPS…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.