Goeie nuus: Ouma veilig opgespoor

bettie-smit-vermis

Bettie Smit (80). Foto’s verskaf.

Bettie Smit, die bejaarde vrou van Burgersfort in Limpopo wat Dinsdag verdwyn het, is veilig en ongedeerd opgespoor.

“My ouma is veilig, sy het nie ʼn skrapie aan haar nie,” het ʼn verligte Angelique Roos, Bettie se kleindogter, Woensdagmiddag aan Maroela Media gesê.

Volgens Angelique is Bettie Woensdag omstreeks 14:00 by ʼn bushalte in Lydenburg, Mpumalanga, opgespoor nadat die polisie ʼn wenk ontvang en opgevolg het.

“ʼn Ou oom en tannie van die noorde van Pretoria het Dinsdagaand my ouma in die straat sien loop en haar in hul motor opgelaai. Hulle het haar na ʼn bushalte geneem en vir haar geld gegee om ʼn buskaartjie te koop. My tannie bly in Lydenburg en my ouma is op ʼn City to City-bus daarheen,” het Angelique gesê.

Maroela Media het vroeër berig Bettie het by haar kleindogter Lee-Ann Smit, in Pretoria gekuier toe sy Dinsdag uit hul huis in Bokmakieriestraat, Theresapark verdwyn het. Lees meer hier.

Die familie het die publiek versoek om Bettie se foto oral te versprei met die hoop om haar vinnig op te spoor. Kort daarna het Lee-Ann ʼn oproep van die bejaarde egpaar ontvang wat gesê het hulle het Bettie by die bushalte gaan aflaai en geld gegee vir ʼn buskaartjie na Lydenburg. Die polisie het hul kollegas in Lydenburg in kennis gestel en Bettie is veilig met haar aankoms daar gevind. Sy is nou in die sorg van haar dogter.

“Ons is baie verlig dat sy veilig is, en ons wil almal bedank wat ons in die moeilike tyd bygestaan het. Daar is so baie mense om voor dankie te sê dat ons nie by almal gaan uitkom nie, maar almal wat die inligting aangestuur het, almal wat vir ons gebid het, almal wat help soek het, ons is julle ewig dankbaar. Ons wil veral Maroela Media bedank en die egpaar wat my ouma opgelaai en bushalte toe geneem het.”

Angelique en haar ouers gaan binnekort Lydenburg toe vertrek om haar ouma op te laai en hulle sien uit na ʼn vreugdevolle hereniging. “Ons sal dan by haar hoor hoekom sy niemand van haar planne laat weet het nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gawe nuus... ·

Di’s gawe nuus.
Die Ouma is oud, en ou mense se handelswyses is nie meer wat dit was nie. Ek is dankbaar saam met die familie.
:-)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.