Goeie nuus: Pelgrimsrus-boere keer rowers in ʼn japtrap aan

Argieffoto: Pelgrimsrus

Argieffoto: Pelgrimsrus

Drie vermeende rowers het Maandag in die Graskop-landdroshof in Mpumalanga verskyn nadat die polisie en boere van die omgewing hulle ná ’n gewapende roof naby Pelgrimsrus aangekeer het.

Volgens brig. Selvy Mohlala, provinsiale polisiewoordvoerder, het die drie verdagtes – Tumelo Chiloane (25), Elias Magashe (29) en Tshepo Mokoena (30) – in die hof verskyn op aanklagte van besigheidsroof, poging tot moord en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.

Die verdagtes het na bewering Vrydag om 14:45 ʼn drankwinkel langs die Lydenburg-pad net buite die dorp betree en die eienaar met ʼn geweer aangehou en op kontant aangedring.

“Hulle het tydens die rooftog die eienaar in sy maag geskiet en geld uit die kasregister gesteel. Hulle het ook sigarette en ʼn bottel whisky gebuit voor hulle van die toneel gevlug het,” het Mohlala gesê.

Die eienaar het hulp ontbied waarna hy na ʼn nabygeleë hospitaal gehaas is.

Die polisie in samewerking met plaaslike boere het ʼn volskaalse soektog na die rowers van stapel gestuur en die verdagtes in ʼn japtrap vasgetrek.

“Al die gesteelde ware, ter waarde van sowat R2 000, asook ʼn vuurwapen wat vermoedelik tydens die rooftog gebruik is, is in die verdagtes se besit gevind en op beslag gelê,” het Mohlala bygevoeg.

Die verdagtes moet weer op 14 Mei in die hof verskyn wanneer hulle na verwagting om borgtog gaan aansoek doen. Hulle bly in aanhouding.

Die provinsiale polisie het die boere bedank en geloof vir hul samewerking en omdat hulle “verantwoordelike inwoners van die land” is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

CHRISTA ·

Dit wys jou wat ‘n lewe vir hulle wêrd is – R2000!!! Verder wil almal die boere uitdryf, maar hulle moet die polisie se werk doen!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.