Goeie-nuus: Plaasaanvalle: Departement stem saam met AfriForum se plaasveiligheidplan

Argieffoto

Argieffoto

Dinge lyk belowend in die stryd teen plaasaanvalle in Suid-Afrika. Dit volg nadat AfriForum en die departement van landbou, bosbou en visserye ʼn tweede gesprek oor veiligheid in boerdery-gemeenskappe gehad het.

“Minister Zokwana en AfriForum het op ’n vyfpuntplan van aksie ooreengekom wat toegepas moet word om boere en mense wat in boerdery-gemeenskappe woon te help beskerm,” het Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, gesê.

Dié gesprek volg op die vergadering wat AfriForum op 20 Maart met minister Senzeni Zokwana gehad het.

Tydens die jongste gesprekke het AfriForum en die minister saamgestem dat die trefwydte van die projek uitgebrei en dat ander belanghebbendes ook betrek moet word.

Daar is gevolglik besluit dat die departement ’n onderhandelingskonferensie sal reël om die belanghebbendes te betrek, wat verskeie landbou-unies asook die departemente van polisie en justisie en navorsers insluit.

As die inisieerder van die gesprekke sal AfriForum die onderhandelingskonferensie open met ’n voorlegging oor die bevindings van die navorsing oor plaasmoorde wat die organisasie al vir die afgelope twee jaar doen. Die finale verslag sal in Augustus bekendgemaak word.

Roets het gesê die organisasie stem saam dat die krisis groter is as een organisasie, daarom moet meer rolspelers betrokke raak.

“Ons voer sedert 2012 ’n veldtog vir die prioritisering van plaasmoorde. Dit is ’n saak van nasionale belang. Dit is daarom vir ons noodsaaklik om ander rolspelers betrokke te kry,” het hy bygevoeg.

Roets het gesê hulle is dankbaar vir Zokwana en sy departement se toeganklikheid oor die saak én dat hulle hoop op ʼn beter toekoms vir boere in Suid-Afrika.

Die vyfpuntplan waarop AfriForum en die departement ooreengekom het, is die volgende:

  1. AfriForum en die departement sal streng optree teen individue wat bydra tot aanhitsing tot geweld, wat onverantwoordelike of roekelose uitlatings maak wat inbreuk maak op wedersydse erkenning en respek tussen verskillende gemeenskappe.
  2. Die departement het ingestem om AfriForum by te staan om hul plaaslike veiligheidsinisiatiewe na ander gemeenskappe uit te brei, waar nodig.
  3. AfriForum het ingestem om vir die departement volle toegang tot hul navorsing oor plaasmoorde te gee. Die organisasie is besig met ’n omvattende studie waarvan die verslag voor die einde van 2015 aan die minister oorhandig sal word.
  4. AfriForum en die departement het ooreengekom op verdere gesprekke en om vennootskappe te vestig om plaasmoorde die hoof te bied. Die departement beplan om ook die departement van polisie te betrek.
  5. AfriForum en die departement het ooreengekom om deel te neem aan kommunikasie-aksies ter bewusmaking van boere en plaaswerkers se veiligheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Theresa ·

Moenie te opgewonde raak nie. Hierdie mense kan een ding baie goed doen en dis om te praat, maar om oor te gaan in aksie en die beloftes wat gemaak is – dis ‘n ander saak. (Ek vertrou niks wat hierdie spul “belowe” nie).

Swanna ·

Sien is glo is die ou spreek woord. Maar hierdie kaders en aders kan jy onder geen omstandigehede glo nie want hul oggend en aand praaitjies kom glad nie oor een nie. Goeie voorbeeld en les wat geleer is uit die verlede is Piet Retief. ONTHOU DIT.

Grassie ·

Hierdie “vyfpuntplan” klink vir my na net ‘n klomp teorie met min vooruitsigte vir werklike, doeltreffende optrede. Dit kan lei tot ‘n jarelange gepratery, “vennootskappe” en “ooreenkomste”. Intussen sterf die boere.

Sonette ·

Meeste van die kommentare kan beskryf word as aanhitsing of rasse haat en is teenstrydig met punt 1 van die fyf punt plan.
Lees weer nr 1 van die 5-punt plan. Almal se samewerking mag miskien help.

CHRISTA ·

Dan sal hulle by hulle eie visie-president en Mal-ema moet begin!!! Dink jy hulle sal dit doen?

Etienne ·

Die plaasmoorde het in 60’s begin in Rhodesië en Suidwes en sal nie end kry nie want Mandela het nooít geweld afgesweer nie. Die rewolusie duur voort en soos Stalin 10 miljoen van honger laat doodgaan het deur die oeste in Rusland te verkoop, sal dit nog in SA dieselfde wees. Dit is onmoontlik vir ń boer om onder hierdie toestande kos te produseer. Die kommunisties geinspireerde ANC en EFF sal nie regtig hul gesindheid jeens wit Afrikaanse boere verander nie.
Hoop Afriforum kry iets uitgerig. Alles wat polities gebeur kan jy wet is lank vooraf beplan – Rooseveld

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.