Goeie Nuus: PTA-dieretuin se leeus “tree af” in Harrismith

Argieffoto

Argieffoto

Die Nasionale Dieretuin in Pretoria se leeubevolking bars uit sy nate en om dit onder beheer te hou gaan die dieretuin twee van sy oudste leeus op ʼn leeuplaas buite Harrismith in die Vrystaat laat “aftree”.

Volgens Craig Allenby, woordvoerder van die dieretuin, gaan Emma (17) en Amber (18) Saterdag na die Glen Garriff Lion Farm hervestig word. Glen Garriff spesialiseer in die versorging van leeus.

Die dieretuin gaan binnekort met ʼn nuwe leeukamp spog wat plek het vir ses van die reuse katte. “Ons het die afgelope tyd ʼn aantal leeus ontvang om te versorg nadat daar op hulle beslag gelê is en ons leeubevolking het skielik en drasties toegeneem,” het Allenby gesê. “Hier is tans agt leeus, en ons het net plek vir ses. Die bestuur het om die rede besluit om die twee oudste leeus na ʼn nuwe tuiste te skuif.”

Allenby het gesê dit is die dieretuin se filosofie om te verseker dat al sy diere, selfs dié wat hervestig word, die beste sorg moontlik ontvang. Die meeste geriewe in Gauteng waar daar na leeus omgesien word, is vol. Ons het daarom by Glen Garriff gaan aanklop.”

Drew Anderson, van die leeuplaas, het gesê hulle is gereed om die leeus met ope arms te verwelkom. “Ons waardeer en verwelkom die dieretuin se verbintenis om Emma en Amber die geleentheid te gee om die res van hul lewens onder ons sorg te wees,” het Anderson gesê.

Sodra die leeus by Glen Garriff aankom gaan hulle stelselmatig by hul nuwe trop geïntegreer word.

  • Hierdie artikel vorm deel van Goeie Nuus-week, ʼn gesamentlike projek deur GrootFM, Maroela Media, Finesse en PopUP. Van 17 tot 21 November plaas ons nie net die klem op goeie nuus nie – ons gaan soek ook goeie nuus wat jou warm om die hart sal maak. Klik hier om al die goeie nuus-artikels te lees wat ons reeds gepubliseer het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.