Goeie nuus: Renosters uit modderpoel gered

Foto: Facebook

Foto: Facebook

Wildbewaarders van KwaZulu-Natal moes vandeesweek inspring om twee volwasse renosters te red nadat hulle in ʼn modderpoel vasgeval het.

Musa Mntambo, woordvoerder van Ezemvelo KZN Wildlife, het aan Maroela Media gesê wildbewaarders en ʼn veearts van die organisasie is na ʼn wildreservaat in die provinsie ontbied waar die renosters in die modderpoel vasgeval het. Ter wille van die renosters se veiligheid, kan die naam van die reservaat nie bekendgemaak word nie.

Dr. Dave Cooper, die veearts, het foto’s van die reddingspoging op sosiale media gedeel. Hy het verduidelik dat die erge hitte wat landwyd ervaar word, veroorsaak dat diere gereeld in modderpoele wat droog word, vasval en gered moet word. Volgens Cooper word die reddingspoging verder bemoeilik deurdat die diere paniekerig is en reddingswerkers terselfdertyd moet keer dat hulle nie ook in die modder vassit nie.

Die renosters is verdoof, modder is uit hul neusgate gehaal en daar is seker gemaak dat hul koppe bo die modder gelig is. Daarna het werkers ʼn tou om die diere se koppe vasgemaak en hulle met behulp van ʼn trekker uit die modder getrek. “Onmiddellik nadat ons die diere wakker gemaak het, het hulle weggehardloop na vryheid,” het Cooper gesê. “Die bewaarders moes die renosters weghou van die modderpoel af en terselfdertyd seker maak hulle word nie bestorm nie – daar was nie tyd om nog foto’s te neem nie!”

Jed Bird, ʼn renostervang-beampte by Ezemvelo KZN Wildlife, het tydens ʼn vraag-en-antwoord-sessie op Facebook verduidelik dat renosters mal daaroor is om in modderpoele rond te rol. “Dit help hulle nie net om van ektoparasiete ontslae te raak nie, maar koel hulle ook af. Wanneer die renoster reeds in die modder is, verhoed die steil walle soms dat hulle kan uitkom,” het hy gesê.

Hy het gesê in gevalle waar ʼn trekker nie naby genoeg gebring kan word om die renoster uit te trek nie, is tussen 15 en 20 mense nodig om die swaar gewig uit die modder te lig. Die renosters word geensins seergemaak tydens hierdie reddingspogings nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Elbie ·

Dis rerig goeie nuus! Maak sommer my hart bly:) hoop net nie n ander lot wag op hulle nie.

SNEL ·

Wonderlike werk! Baie bly hulle is nou veilig en gered uit daai modderpoel uit en baie dankbaar vir almal wat betrokke was om te help, julle doen n wonderlike werk.

Muller ·

Shame dit moes verskriklik gewees het vir hulle. Dank die Vader hulle is gered, moes vrek dors gewees het en wou natuurlik net bietjie water gehad het

Eddie ·

Dit is so lekker om n slag iets te lees waar n happy ending is. Hoop julle gee meer sulke goeie nuus en nie net moord en doodslag nie. Wys darem daar is nog menslikheid op hierdie aarde van ons. Dankie vir die wat betrokke was en dit nuus waardig gemaak het.

Dee ·

Soos Elbie, Snel, Muller en Eddie sê, dit is werklik goeie nuus. Lekker om te lees dat die diere geensins seergemaak word tydens die reddingsinsidente nie. (Klink beter as pogings!) Ek hoop dat dit ‘n misvatting is as gesê word dat hulle met ‘n tou om hul koppe uitgesleep word! Dik nekke, ek weet :-)

Griki ·

Ag, dis heerlik om sulke goeie stories te lees. Dankie, dankie, dankie.

vermeende ·

Toe ek lees “goeie nuus” toe was my eerste gedagte, plaasmoorde en BEE het gestop.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.