Goeie nuus: SA-broers help met ebola-app

Malan Joubert

Malan Joubert

Malan (28) en Phillip (26) Joubert, twee broers van Stellenbosch, het ʼn selfoontoepassing (app) ontwikkel om hulp te verleen in die stryd teen die ebola-virus.

Die twee oud-Maties se app word tans deur die nie-winsorganisasie More than Me in Monrovië, Liberië, uitgerol. Die Jouberts het onlangs na die VSA verhuis om hul maatskappy Journey Apps in Silicon Valley te vestig. Daar het hulle bewus geword van die ebola-virus se massiewe internasionale impak en soos die krisis uitgebrei het, het hulle besef dat selfs te midde van die tegnologiereuse van Silicon Valley, ʼn Suid-Afrikaanse maatskappy iets beduidend kan doen in die stryd teen die gevreesde siekte.

“Die ebola-epidemie is iets wat jy aanvaar ‘ander mense’ aan dink… totdat jy besef daardie ‘ander mense’ is dalk jy, en dat dit tyd is om iets te doen,” het Philip gesê. Philip en Malan het nie-regeringsorganisasies in Liberië gekontak om te hoor wat hulle grootste uitdagings is.

Phillip Joubert

Phillip Joubert

Sam Herring, databestuurder van More than Me, het die behoefte aan regstreekse data-insameling uitgelig, wat toevallig Journey se veld van kennis is. Vier dae later en met die hulp van die res van die Journey-span, is ʼn selfoontoepassing in Liberië uitgerol.

Volgens Herring laat die ebola Care app hulle toe om op ʼn doeltreffende manier te reageer. “Doeltreffendheid keer verspreiding, en dit red lewens. Om doeltreffend in enige krisis te wees, is dit nodig om toegang tot regstreekse data te hê want tyd is baie kosbaar,” het Herring gesê.

Om die verspreiding van die ebola-virus te keer, moet die gebiede wat die swaarste getref is, geïdentifiseer word. Journey gebruik GPS-koördinate om diegene wat geïnfekteer is en hul gesinne na te spoor en om ambulansspanne wat pasiënte vervoer te help om belangrike inligting vas te vang. Die meeste van die geaffekteerde gebiede gebruik nie straatname nie en werk nog met mediese rekords op papier, wat die app se vermoë om geaffekteerde areas te identifiseer en gesondheidswerkers se bewegings na te spoor, ʼn pionierstap maak in die stryd teen ebola.

'n Skermskoot van die app

‘n Skermskoot van die app

“Ons is dol daarop om binne die mobiele gesondheidspasie te werk – dit is ʼn plek waar ons besef het ons ʼn verskil kan maak in baie mense se lewe, en dit is ongelooflik bevredigend. Die Ebola Care app en die publisiteit daar rondom het ons in kontak geplaas met verskeie groot hulporganisasies en ons praat tans met hulle oor langtermyn vennootskappe,” het Phillip gesê.

Journey het al die ontwikkeling befonds en verskaf Ebola Care gratis aan enigeen wat betrokke is in die stryd teen Ebola. Hulle benodig egter finansiële steun van die globale gemeenskap om fone by die hulporganisasies te kry.
“Tot dusver het ons die hele projek en eerste fone self befonds, maar om verder te ontwikkel het ons ondersteuning nodig,” het Philip gesê. “Ons wil 1000 fone met die Ebola Care app in Wes-Afrika versprei. Daarvoor moet ons genoeg geld insamel om die fone te koop.”

Die Malan-broers het aan die Somerset College skoolgegaan en aan die US ingenieurswese studeer. Hulle is oud-inwoners van Eendrag Manskoshuis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hanno Visagie ·

Hoekom in Afrikaans “app(lication)” – “êp”- en nie “toep(assing)” nie? Is dit ATR taalkundige polities opsetlike korrektheid?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.