Goeie nuus: Samaritaan ná drie jaar vrygespreek

Annari du Plessis. Foto: Facebook

Annari du Plessis. Foto: verskaf

Drie jaar se trane en stres, ʼn naweek agter tralies, ʼn skuldigbevinding en gevolglik vonnis is wat dit vir  ʼn barmhartige Samaritaan, Annari du Plessis, gekos het om seker te maak dat geregtigheid uiteindelik vir haar en slagoffers van verkragting en mishandeling geskied.

Die Pretoriase hooggeregshof het Woensdag uitspraak gelewer in die appèlaansoek van Du Plessis (46) wat drie jaar gelede weens regsverydeling in hegtenis geneem is nadat sy ʼn 13-jarige seksslaaf wou beskerm.

Regter Makgoba het ten gunste van Du Plessis beslis en beveel dat alle aanklagte teen haar teruggetrek word.

“Dit is ʼn oorwinning vir dit waarvoor ek staan, en ek is vreeslik dankbaar,” het Du Plessis Woensdag na die uitspraak aan Maroela Media gesê. “Ons dien ʼn groot God.”

Haar regspan bestudeer die uitspraak waarna hulle sal besluit of hulle stappe teen die polisie gaan doen.

Du Plessis, ʼn gemeenskapswerker en stigter van Crossroads in Vanderbijlpark, Gauteng, is op Vrydag, 12 Augustus 2011 deur 10 gewapende polisiebeamptes by Crossroads se kantore in hegtenis geneem. Sy is aangekla van regsverydeling nadat sy geweier het om ʼn 13-jarige meisie, wat glo vir twee maande lank as ʼn seksslaaf aangehou is, aan die polisie oor te gee.

Crossroads is ʼn geregistreerde niewinsgewende organisasie wat hom daarop toespits om kinders, dwelmverslaafdes, prostitute en slagoffers van aanranding en verkragting te help.

Du Plessis het egter vroeër daarop aangedring dat die polisie die meisie by Crossroads kom ondervra omdat sy daar veilig voel. Du Plessis is vertroud met die polisie se verkragtingseenheid en was bekommerd hoe die tiener by die stasie behandel sou word. Sy was vir 12 jaar lank ʼn polisiebeampte en het as ʼn konstabel in die destydse verkragtingseenheid van die Pretoriase moord-en-roofeenheid gewerk.

Du Plessis het drie dae voor haar inhegtenisneming die meisie uit ʼn gehawende huis in Bequerrelstraat gered waar sy vir twee maande lank as ʼn seksslaaf vir ʼn groep Nigeriese mans aangehou is. Haar oom se meisie het haar glo aan die groep verkoop. Die mans het haar herhaaldelik verkrag en as ʼn prostituut uitverhuur totdat Du Plessis tot haar redding gekom het.

Du Plessis het die naweek in die selle spandeer en is die Maandag op R500 borgtog vrygelaat.

Sy is in 2013 skuldig bevind aan regsverydeling en is tot 18 maande tronkstraf gevonnis of ʼn boete van R12 000. Die vonnis is vir vyf jaar opgeskort. Haar regspan het aansoek gedoen om verlof tot appèl wat daarna deur die landdros van die hand gewys is. Die hooggeregshof in Pretoria het egter in Februarie vanjaar vir haar die groen lig gegee om teen haar skuldigbevinding en vonnis te appelleer.

Volgens Isabel Faurie, ʼn maatskaplike werker van Solidariteit Helpende Hand, wil dit voorkom asof die polisie nie in die belang van die kind opgetree het nie. “Volgens die Kinderwet, nr. 38 van 2005, is die ‘beste belang van die kind alles oorheersend’. In hierdie geval het dit nie gebeur nie,” het Faurie aan Maroela Media gesê. “Die Kinderwet verwys daarna dat alle staatsorgane in enige regeringsfeer en alle beamptes, werknemers en verteenwoordigers van ʼn staatsorgaan die regte van kinders, soos in hierdie Wet vervat, moet respekteer, beskerm en bevorder.”

Sy het gesê die polisie het verseker ʼn mandaat volgens die Kinderwet om ʼn kind wie se veiligheid bedreig word uit daardie omstandighede te verwyder.

“Die beste belange van die kind moet dus die bepalende faktor wees in enige besluit of ʼn kind wat sorg en beskerming benodig, verwyder moet word en in tydelike veilige sorg geplaas moet word, en vir hierdie doel moet alle relevante feite in ag geneem word, insluitende die veiligheid en welsyn van die kind as eerste prioriteit,” het Faurie bygevoeg.

Sy verduidelik dit is van kardinale belang dat alle rolspelers saamwerk om in so geval in die kind se beste belange op te tree, eerder dat weldoeners soos Du Plessis vervolg word.

  • Hierdie artikel vorm deel van Goeie Nuus-week, ʼn gesamentlike projek deur GrootFM, Maroela Media, Finesse en Rekord. Van 17 tot 21 November plaas ons nie net die klem op goeie nuus nie – ons gaan soek ook goeie nuus wat jou warm om die hart sal maak. Klik hier om al die goeie nuus-artikels te lees wat ons reeds gepubliseer het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

anet ·

Annari, neem asseblief regstappe teen die Polisie, veral vir jou pyn, leiding en vernedering.
Die 20 gewapende polisiebeamptes het jou lewe bedreig.

Hulle ken nie eers die Kinderwet nie, maar is polisiebeamptes. Dit is ‘n groot skande en verleentheid vir die Polisie, en hulle bevorder net hulle regte en beursies

Annari du Plessis ·

Anet wat ookal ek doen..dit sal gaan oor geregtigheid en nie vergelding nie….daar moet verantwoording wees vir aksies soos die..al is dit net om te sien wie agter alles was….Dankie vir jou ondersteuning.

Riaan Slabbert ·

Baie mooi Annari!!! Nou kan jy volstoom voortgaan met jou ongelooflike goeie werk.

Esmerelda ·

Ek hoop Annari neem regstape Vandag se SAP lede ken maar min van hul werk. Annari het die vernedering deur gegaan om gearesteer te word, ‘n naweek in ‘n sel te sit, maar vandag het God nuwe deure vir haar oopgemaak. Al die eer aan Hom wat se tyd perfek was vir wat Annari nog vir kinders sal doen. ! Trots op jou Annari !

Annari du Plessis ·

Esmeralda jy is reg. Ek glo ons sal doen wat gedoen moet word. Hulle mag nooit weer iemand so faal of verneder nie….dankie vir jou mooi woorde. Die Here was goed deur dit alles heen, en ten spyte van die baie baie trane het ek so baie geleer…en dit is wat ek uit alles vat…dit wat ek geleer het op so baie terreine…ons sal slagoffers beskerm al kos dit my lewe…..Ek wil geen hero wees nie, ek doen wat die Vader van ons vra……

Jakes ·

Neem asseblief aksie teen die SAP. Dinge soos hierdie kan nie maar net gly nie. Daar moet nagevolge wees!

Nico ·

Ek sal graag wil weet wat het toe met die meisie gebeur. Het die polisie haar toe verwyder.

Annari du Plessis ·

Hallo Nico. Sy is nou vir die eerste keer veilig vandag ek haar gekry het. Sy was saam my by die hof vir die uitspraak en net daarna het sy gese sy wil nou weer die regstelsel n kans gee. My God se voorsiening het sy Vrydag aand haar genesings proses begin. Nou eers is ek waarlik vry.

Hannes ·

Sluit daai polisie met die landros toe en gooi sleutels weg

Annari du Plessis ·

Hallo Hannes. Ons is besig met verskeie mense om die pad vorentoe uit te werk. Geregtigheid moet geskied en die wat ons so seer gemaak het moet verantwoordelik gehou word…dankie vir die omgee. No revenge just justice.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.