Goeie nuus: Skool kry hysbak vir rolstoelleerders

Foto: Verskaf

Foto: Verskaf

Hoërskool Ben Viljoen in Groblersdal het verlede maand amptelik ʼn hysbak in werking gestel om voorsiening te maak vir twee van sy leerders wat in rolstoele is.

Die twee leerders moes die afgelope paar jaar stoei om sekere klasse by te woon wat op die tweede verdieping is.

Een van die leerders, Christof Victor, ʼn gr. 10-leerder, ly aan brosbeensiekte en volgens Rina Greyling, ʼn onderwyser by dié skool, het die gevaar vir klasmaats om Victor in sy rolstoel by die trappe op te dra net te groot geraak.

Voordat die hysbak gebou is, moes Victor na video-opnames van die klasse wat op die tweede verdieping is by die huis kyk.

Die ander leerder, Nickey de Klerk, is tans in gr. 9 en is van geboorte verlam. De Klerk se maats het hom aanvanklik in sy rolstoel by die trappe opgedra, maar volgens Greyling raak dit al hoe moeiliker omdat hy nog groei.

Verskeie moontlikhede is oorweeg en Augustus verlede jaar het die skool deur middel van verskeie projekte begin geld insamel vir die hysbak. Die eerste projek was om leerders vir ʼn donasie van R10 te vra in ruil daarvoor om gewone klere skool toe aan te trek.

Volgens Greyling het dit haar verstom dat sommige van die leerders selfs ʼn R100-donasie gegee het. Greyling het vir een van die leerders gevra hoekom sy meer wil gee, waarop sy eenvoudig geantwoord het: Want ek kan loop.

Foto: Verskaf

Foto: Verskaf

Daarna het die skool ʼn groot veiling gehou waar hulle vir die gemeenskap van die omliggende area gevra het om hulle dienste te borg sodat die skool dit kan opveil. Die dienste het ʼn vakansie in die wildtuin en selfs ʼn jaggeleentheid ingesluit. Talle bekende skrywers soos Fanie Viljoen, Franci Greyling en Hans du Plessis het ook getekende boeke geskenk. Du Plessis het van sy getekende Griekwapsalms geskenk wat geraam en opgeveil is. Daar was ook ʼn paar kontantbydraes.

Ten spyte van die feit dat die skool nagenoeg R138 000 ingesamel het, het hulle nog geld nodig gehad. Die skool wou egter nie langer wag om die hysbak te laat installeer nie en die Loskop Vallei Trust het aangebied om te help met steun. Volgens Greyling moet hulle nog ongeveer R200 000 insamel om vir die projek te betaal.

Na ʼn toetsperiode het die skool in Februarie vanjaar die hysbak amptelik in gebruik geneem.

“Die ouers van die twee leerders was verskriklik dankbaar toe ons die aankondiging gemaak het,” het Greyling gesê. Volgens haar is die beweeglikheid vir Victor en De Klerk baie lekker. “Indien Christof nie die hysbak gehad nie het nie, sou hy slegs vakke kon neem waarvan die klasse op die grondvloer aangebied word. En dit is nie eers te sê dat daardie vakke die volgende jaar in dieselfde klasse aangebied sal word nie,” het Greyling bygevoeg.

Vir meer inligting oor die projek, kontak die skool by 013 262 2061/2.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Amanda ·

Nou het ek skoon trane in my oe – wat ‘n wonderlike gebaar!

anet ·

Dit is wonderlike nuus. Ek is baie bly saam met die twee leerders en die skool. Waar ‘n Wil is, is ‘n Weg

AMANDA ·

Dankie Jesus dat daar nog mense is wat vir mekaar omgee. Wens meer skole wil so ‘n projek aanpak. Wees baie trots op jul skool. Ek is

Henrietta Klaasing ·

Daar is net één Dal, Groblersdal – my kontrei, my mense. Só ken ons hulle!

Vera-Lynne Rheeder ·

My Alma Mater! Goeie werk dallers! Ook bly om te hoor wonderlike onderwysers soos Mev Greyling is nog daar. Sjoe, hoe mis ek die dal nou…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.