Goeie nuus: Slimkop-Matie ontvang twee top toekennings

Argieffoto

Argieffoto

Die 24-jarige Thomas Weighill van die Universiteit van Stellenbosch (US) het vandag tydens ʼn gradeplegtigheid twee van die universiteit se top akademiese toekennings onvang.

Een van die toekennings wat Weighill ontvang het, is die Kanseliersmedalje – die hoogste akademiese toekenning wat aan net een graduerende student per jaar gemaak word. Dié toekenning gee erkenning aan die buitengewone prestasie van ʼn finalejaar- of nagraadse student.

Weighill het ook die S2A3-medalje vir die beste navorsingstesis op M-vlak in die natuur-, ingenieurs- en mediese wetenskappe ontvang.

Volgens die uitvoerende hoof van die US se Departement van Wiskunde en Wetenskappe, prof. Ingrid Rewitzky, is Weighill buitengewoon intelligent. “Hy verstaan abstrakte konsepte en konstruksies in suiwer wiskunde en kom met vindingryke oplossings vir komplekse probleme vorendag,” het Rewitzky gesê.

Nadat hy in 2012 sy graad in elektroniese en elektroniese ingenieurswese met lof behaal het, het Weighill besluit om in te skryf vir ʼn M.Sc in suiwer Wiskunde.

Weighill het tydens sy ses jaar van studie ʼn gemiddeld van 91.1% gehandhaaf. Sy M.Sc in Wiskunde, waarvoor hy ʼn finale punt van 97% verkry het, is sonder enige verbetering deur drie eksterne internasionale eksaminatore aanvaar.  Om vir die M.Sc in Wiskunde in te skryf, moes Weighill ses nagraadse modules gedurende sy eerste studiejaar volg. Hy het 100% vir drie van hierdie modules verwerf en meer as 90% vir die ander drie.

Teen die einde van 2013 het Weighill reeds drie akademiese artikels saam met sy studieleier, Zurab Janelidze, geskryf, waarvan een van die artikels reeds in die leidinggewende vaktydskrif Theory and Applications of Categoriesgepubliseer is.

Die resultate van sy navorsing is ook by sewe nasionale en internasionale konferensies aangebied. Een van die konferensies, die Internasionale Konferensie oor Kategorieteorie wat in 2013 in Australië plaasgevind het, word as die belangrikste konferensie in dié vakgebied beskou.

Weighill vertrek binnekort na die VSA waar hy aanvaar is vir ʼn Ph.D-program in wiskunde by die Universiteit van Tennessee. Sy studies sal deur ʼn nagraadse navorsingsassistentskap ondersteun word.

 

 

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anita ·

Jou geliefdes moet omtrent trots wees op jou, ek ken jou nie eers en ek is.

Baie geluk en alles van die beste in die VSA.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.