Goeie Nuus: Theunis Nel vorder baie goed

Mareli en Theunis Nel in die Unitas-hospitaal. Foto: Facebook.

Mareli en Theunis Nel in die Unitas-hospitaal. Foto: Facebook.

Theunis Nel, akteur en aanbieder van die motorfietsprogram Woema op kykNET, vorder baie goed en is uit die intensiewesorgeenheid van die Unitas-hospitaal in Centurion oorgeplaas na die hoësorgeenheid.

Nel was sedert 10 November in die intensiewesorgeenheid nadat hy vroeër die dag in Pretoria in ʼn ernstige motorfietsongeluk betrokke was.

Sy vrou, Mareli, het Dinsdag dié goeie nuus in ʼn hartroerende brief op sy ondersteuningsgroep op Facebook gedeel. Die groep, Theunis Nel – WOEMA – Updates!, is ná die ongeluk gestig en het reeds meer as 4 300 lede wat daagliks boodskappe van bemoediging en gebede deel. Sy het ook ʼn foto van hulle twee gedeel, die eerste nadat hy in die ongeluk betrokke was.

Sy skryf: “Met ‘n warm hart deel ek vandag hierdie foto met jul. Min het ek 3weke gelede geweet wat vir ons Nelle nog voorlê, maar met soveel dankbaarheid kan ek sê, ek weet ons gaan okay wees.

Vandag wil ek dankie sê, dankie aan elke liewe persoon wat ons tot dusver opgedra het in jul gebede en ons bystaan met hope liefde en omgee. Almal se ondersteuning is ongelooflik!
Elke Facebook-boodskap, SMS, WhatsApp, oproep en persoonlike besoeke waardeer ons Nelle opreg uit ons harte. Die woord dankie regverdig nie werklik HOE baie dit vir ons beteken nie. Jul is werklik amazing en mag jul ook in oorvloed geseën word.

Spesiale dankie aan beide my en Theunis se families en aan al ons vriende. Sonder jul sal ek nie onverdeelde aandag aan Theunis kan gee nie. Daar is soveel van jul wat nederig agter die skerms werk, hulp aanbied en inspring waar nodig – op persoonlike en besigheidsvlak. Die seuns is baie gelukkig en dit maak die tyd wat ek saam met Theunis kan spandeer soveel ‘minder selfsugtig’.

Jul hou my regop sodat ek sterk kan staan en maak die las op my skouers tonne ligter. Aan elke liewe een van jul: ONGELOOFLIK baie dankie!

Aan al die Woema ondersteuners en motorfietsryers wat uit alle provinsies (en lande) aan ons dink, saam bid en hulp aanbied. Jul is voorwaar ‘n groep mense waarop mens kan staatmaak. Dankie vir jul lojale ondersteuning en hou maar die televisieskerm dop – Theunis gaan verseker weer binnekort sy skoene volstaan.

Soos jul reeds weet is Theunis oorgeplaas na die hoësorgeenheid, wat beteken hy vorder baie goed! Dit was vir ons swaar om ‘afskeid’ te neem van Unitas se Trauma ICU eenheid. Saam het hul gebid, gelag en gehuil en elke liewe vordering van Theunis saam met ons gevier. Ons het baie hoë waardering vir die passie waarmee hul die werk aanpak en sal hul ewig dankbaar wees vir al hul hulp en ondersteuning gedurende Theunis se tydjie daar.

Die span dokters wat oor Theunis is vanaf dag een, mag maar geklassifiseer word as die beste van bestes!! Bekwame gelowige dokters wat tot die uiterstes gaan om die beste te kan bied sonder enige selfsug of moeite. Vol dankbaarheid het ek hul al menigmaal vasgedruk en amper versmoor, gelukkig ken hul my ook nou teen hierdie tyd en druk maar net skaam terug. Groooooooot dankie aan elkeen van hul, vir dit wat hul alreeds gedoen het en nog vir Theunis gaan beteken in die toekoms.

In Theunis se eie woorde: Grootste dank aan ons Hemelse Vader, want sonder Hom sou hy nie vandag hier gewees het nie.
Blessings vir jul almal!”
[sic]

Anria van Heerden, sy vriendin en mede-aanbieder van Woema, het gesê dit is verblydend om te sien hoe hy elke dag sterker word en hard werk om huis toe te kan gaan vir Kersfees.

“Ek is egter so ʼn bietjie bekommerd dat hy net dalkies dalk die baie aandag van die ‘nursies’ en die mooi ‘fisio’ te veel geniet! Mareli jy sal jou voet moet neersit,” het sy geskerts.

Maroela Media het vroeër berig Nel het die dag van sy ongeluk met sy BMW GS 1150 op die nat snelweg gery toe hy naby die Garsfontein-afrit op die N1 moontlik op ʼn oliekol gegly het. Toe hy op die pad land het hy, soos hy opgelei is, sy motorfiets weggeskop en in die middel van die snelweg bly lê. Twee motors kon daarin slaag om hom te vermy, maar ʼn bakkie, wat glo ook gegly het, het teen ander motors gebots en hom getref. Nel het glo onder die bakkie beland en is vir ʼn paar meter onder die bakkie gesleep tot waar die bakkie tot stilstand gekom het met hom steeds onder die bakkie. Paramedici van Netcare 911 het hom in ʼn kritieke toestand sowat 100 meter van sy motorfiets se wrak aangetref. Altesaam ses voertuie was in die ongeluk betrokke.

Nel is ná die ongeluk na die Pretoria-Oos-hospitaal geneem en later na die Unitas-hospitaal in Centurion oorgeplaas. Sy regterarm moes noodgedwonge Dinsdag in die vroeë oggendure geamputeer word om sy lewe te red.

Lees vorige berigte oor die voorval hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

hyla olivier ·

Sterkte hoor! Ai dis so jammer oor sy arm maar ons dank God vir sy lewe! Liefde. Hyla

Anoniem ·

Alle beterskap vir die toekoms. Dankie Vader dat Theunis gespaar is vir sy gesin. God is koning.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.