Goeie nuus: Tien vissermanne van verdrinking gered

Argieffoto: NSRI, Facebook

Argieffoto: NSRI, Facebook

Tien vissermanne is Maandagmiddag gered nadat hulle in die moeilikheid beland het in die see by Die Poort, tussen Struisbaai en Witsand, in die Wes-Kaap.

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het in ʼn verklaring gesê die Agulhas-reddingspan is omstreeks 15:50 na die toneel ontbied. Volgens inligting het een van die vissersbote gelek en begin sink, terwyl ʼn tweede boot in ʼn seekanaal vasgevang en in gevaar was om teen die rotse vas te spoel.

Toe die bemanning van die tweede vissersboot die eerste boot te hulp gesnel het, is die romp van die boot beskadig deurdat branders bo-oor dit geslaan het. Water het in die boot ingespoel en die boot het begin sink. Die eerste boot is al nader aan die rotse gespoel en die vissermanne aan boord het noodgedwonge uit die boot gespring.

Reinard Geldenhuys, NSRI se Agulhas-bevelvoerder, het gesê hulle het dadelik ʼn reddingsboot uitgestuur na die toneel. Toe die NSRI egter by die toneel opdaag, was al tien vissermanne reeds veilig aan boord van ʼn renboot wat hulle te hulp gesnel het. Niemand het beserings opgedoen nie.

Die Wes-Kaapse provinsiale nooddienste, die Overberg-brandweerdienste, die Transnet nasionale hawe-owerheid en beamptes van die departement van landbou, bosbou en visserye was ook op die toneel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.