Goeie nuus: Tiener red hondjie by fietswedren

Rickus Grobler (Foto verskaf)

Rickus Grobler (Foto verskaf)

Rickus Grobler, ʼn gr. 11-seun aan die Hoërskool Menlopark in Pretoria, word geloof vir sy goedhartigheid ná hy ʼn rondloperhondjie by ʼn bergfietswedren gered het toe hy raakgery is.

Rickus het op 25 Julie aan die tweede been van die Spur-skole-bergfietswedren in Gauteng by Hoërskool FH Odendaal in Pretoria deelgeneem. Sy fiets se agterwiel is egter in die wedren beskadig en hy moes sy fiets verder stoot.

“Rickus het gesien hoe een van die fietsryers ʼn rondloperhondjie tref, en hy het die hondjie opgetel,” het Ina Grobler, Rickus se ma, aan Maroela Media gesê. “Die hondjie was baie vuil en het nie lekker geruik nie. Rickus het met die hond in een arm, terwyl hy sy fiets met die ander hand stoot, ongeveer 4 km na die wenstreep gestap.”

Isak Steyn en sy vrou, Ilka, van Villieria, het vroegoggend al die hond by die snoepie opgemerk. “Talle mense was lelik met hom, omdat hy sleg geruik en gelyk het,” het Ilka gesê. “Ons het terugbeweeg na ons staanplek, en die hondjie het ons gevolg en by ons kom lê. Dit was duidelik dat hy moeg en koud was, en net wou slaap. Ons harte was baie seer en ons het besluit om hom saam met ons huis toe te neem en die nodige sorg vir hom te gee.”

rickus grobler 3

Vélo (Ozzy) mooi skoongewas (Foto verskaf)

Deur die loop van die oggend, terwyl hulle aan die kinders se fietse gewerk het, het die hondjie verdwyn. “Ek en my man het tussen elke wegspring die hond gaan soek, maar kon hom nie kry nie. Ons het bly hoop dat iemand anders hom gekry en huis toe geneem het.

“Aan die einde van die dag, met die laaste wedren, sien ons hoe ʼn seun [Rickus] met die hond onder sy arm by die wenstreep aangestap kom,” het Ilka bygevoeg. “Ek en my man het na hom toe gehardloop om te hoor waar hy die hom gekry het. My hart was stukkend toe ek hoor hy is raakgery.”

Ilka en haar man het heel eerste vir die hondjie genoeg water en kos gegee. “Daarna het ons hom seker ses keer gewas om al die koeke en kakiebos uit te kry. Ons het hom vir tyd en wyl Vélo (Frans vir “fiets”) genoem.”

Hulle het die hondjie die Maandag na ʼn veearts geneem vir ʼn volledige ondersoek en om te bepaal of hy dalk ʼn mikroskyfie het. “Hy is behandel vir dehidrasie en bosluise en het ʼn ontwurmingsmiddel gekry.”

Die hond het wel ʼn mikroskyfie gehad en die veearts het die Dinsdagoggend die Dierebeskermingsvereniging gebel om te hoor aan wie hy behoort. “Hy het die eienaar se besonderhede vir ons gestuur en ons het met hom kontak gemaak. Vélo (sy naam is eintlik Ozzy) is Dinsdagaand terug na sy eienaar se huis,” het Ilka gesê.

Ilka en Isak het Rickus geloof vir sy optrede. “Ek het nie gedink mens kry nog sulke kinders nie. Ons is bly om te sien dat daar nog tienerseuns is wat omgee.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

EMK ·

Hulle moes hom sommer hou – die oorspronklike eienaar gee lyk my nie juis om vir sy hondjie as hy so vuil en verwaarloos was en dors en koud rondloop nie!!

PIXIE ·

EMK ek stem saam met jou hulle moes ‘n nuwe huis vir die honde-kind gesoek het of hom self gehou het. Ek is ‘n pensioenaris en alleenlopend en het 16 honde en geen een van hulle was al ooit in so ‘n toestand nie. Ek het presies so ‘n steekhaar tefie by ‘n &^$ ou gevat so drie jaar gelede en sy is te dierbaar. Wanneer ek met haar raas lig sy haar boonste lip en SMILE vir my en dan los ek maar die kwaai-heid en gee haar ‘n drukkie.

rita ·

Rickus gaan dit nog ver bring in die lewe as hy bereid is om n vuil beseerde hondjie te help! Hy is n ster!

Sollie ·

Ja ‘n hond raak nie oornag so vuil, verwaarloos en stink nie. Wat is die regte eienaar se verskoning dat ys hond so lyk en “weg geraak” het?

LINDA ENGELMOHR ·

Ha ha – jy het nog nie gesien hoe my opreggeteelde straatbrak lyk
& ruik
na sy in katbollie gerol het nie – daarna rol hulle verder – soos in turkvydorings en dan in ander grasse –
so moenie klippe gooi as jy nie weet van diere wat op grootwerwe loop nie!

CHRISTA ·

Rickus, ons is trots op jou!! Jy bewys weer eens dat ons trots op ons jeug kan wees. Ons hoor meesal net wat ons jeug verkeerd doen!! Behou jou wonderlike karakter en bou daarop voort!! Als wat mooi is vir jou!!!

Poppie ·

Ek stem. Lyk nie of sy werklike eienaars veel omgee nie. Wens so hy kon by die ”foster parents” van die dag gebly het. Hoop sy eienaars sien hoe oulik en skoon die hondjie eintlik kan lyk. Hulle moenie diere he as hul hulle nie kan oppas. Sal graag hul storie wil hoor hoe hul hond vermis geraak het… my hart sommer seer dat hy terug is….

Eliza-beth ·

Poppie, Sollie en EMK ek stem 100% saam met julle. Dis baie mooi van hierdie seun en ‘n positiewe berig – net jammer van die slegte smaak wat die eienaar se “sorg” vir die hondjie in my mond laat!

Corneli ·

Dankie vir ‘n positiewe en mooi gebeurtenis!! Ons beleef en lees net negatief elke dag. Hierdie staan uit!!!

Gerda ·

Aan almal wat die eienaar uitvat – het julle diere mikroskyfies in. Die feit dat die hondjie ‘n mikroskyfie het is ‘n bewys dat die eienaar wel omgee. Partykeer raak ‘n hondjie weg per ongeluk en binne ‘n week kan hy vuil en vol bosluise wees. Al wat jy kan doen is soek, by veeartse hoor of iemand hom ingebring het ens, wie se die eienaar het nie na hom gesoek nie ?

Elfie ·

Gerda, lees bietjei mooi, die veearts het die dierbesekremingsverening geble omd ie eienaa rop te spoor – m.a.w HULLE het die skyfie laat insit omdat die dier seker by hulel gekoop is anders sal hulle mos nou nie die ou se inligting gehad het nie! As die eienaar regtig omgegee het as sy brakkie weg is, sou hy soos duisende ander mense wat omgee vir hul troeteldiere dadelik oral foto’s van sy hondjie oral opgesit het, sosiale media gebruik het om die hondjie te probeer opspoor of DADELIK die dierebeskermingsvereniging gebel het om te hoor of die hondjie nie daar afgegee is nie. Verder hoe het die hondie sommer net “uitgekom” – as mens omgee vir jou troeteldier tref jy goeie voorsorg want ‘n kar kan hom raakry ens. Hoe lank het die hondjie nie moes rondloop voor hy so vuil en verwaarloos geraak het nie. Hy verdien beslis nie om die hondjie terug te gekry het nie! So dink logies voor jy skryf man!

Linda ·

‘n Seun so na my hart baie dankie dat jy die hondjie gehelp het :)

ronel ·

Almal wat die eienaar so slegse..Ooit gewonder of die hondtjie nie dalk uitgekom het en vermis aangemeld is dalk? Die woefkind is gemikro chip dit beteken klaar die eienaars doen moeite..Ek het n facebook page vir vermiste en optel diere en diere raak weg vir maande dan weer opgespoor..Gister was daar n post van n hond wat in julie 25 weggeraak het die eienaar het haar gister eers gekry

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.