
Arthur en sy meisie, Kim Ellis, omhels mekaar ná die redding by die Tafelbaai-seereddingsbasis Foto: NSRI
Trane van dankbaarheid het gevloei toe Arthur Sierra (34), ʼn lyfplankryer, uiteindelik met sy geliefdes herenig is nadat hy naby Seepunt in Kaapstad uit die see gered is.
“ʼn Sterk stroom het Sierra Saterdag dieper in die see naby Bakoven ingetrek toe hy en twee vriende gaan lyfplank ry het,” het Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), in ʼn verklaring gesê. “Sy twee vriende, Jonty Medcalf (37) en sy broer James (26), albei oorspronklik van Port Elizabeth, maar wat nou in Woodstock bly, kon veilig na die kus terugkeer.”
Sierra, oorspronklik van Durban, maar wat nou in Groenpunt bly, moes meer as twee ure lank water trap totdat die Skymed-helikopter hom uiteindelik ná ʼn omvattende see-, kus- en lugsoektog in rowwe seetoestande opgemerk het.
“Die seestrome het hom nagenoeg twee seemyl in die rigting van Seepunt gevoer voordat die bemanningslede hom raakgesien het,” het Lambinon bygevoeg.
“Hy kon wonderbaarlik genoeg sy kop bo water hou,” het Pieter Rossouw, woordvoerder van ER24, in ʼn verklaring gesê. “Hy het geen beserings opgedoen nie.”
Die NSRI moedig swemmers, seil-, brander-, en lyfplankryers aan om helderkleurige klere aan te trek as deel van die NSRI se “Be bright”-veldtog wat deur Ogilvy and Mather-advertensieagentskap geborg word.
- Arthur Sierra en die reddingswemmer Marc de Vos aan boord die NSRI se Spirit of Vodacom Foto: NSRI
- Arthur en die reddingspan (v.l.n.r. Gal Chiles, Davide del Fante, Arthur, Lourens de Villiers, Ian Watson, Rudi Fisch, Daryn Clark en voor: Marc de Vos Foto: NSRI
- Die oomblik toe Arthur Sierra uit die see op die reddingsvaartuig gered is Foto: Jonathan Groenewald, Skymed-helikopterbemanning Foto: NSRI
- Probeer om die lugdrade van die reddingsboot raak te sien (Hierdie foto deur John Wilson gee ‘n idee van die rowwe seetoestande op die betrokke dag) Foto: NSRI
- Arthur en sy meisie, Kim Ellis, omhels mekaar ná die redding by die Tafelbaai-seereddingsbasis Foto: NSRI