Goeie nuus: Verdagte vas ná aanval, verkragting op plaas

Argieffoto

Argieffoto

ʼn 30-jarige verdagte is Vrydag vroegoggend in hegtenis geneem weens ʼn onlangse aanval op ʼn plaas in Limpopo waartydens ʼn vrou glo verkrag en beroof is.

Kol. Ronel Otto, provinsiale polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê die verdagte is in Vaalwater aangekeer.

“Die man moet Maandag in die landdroshof op Modimolle verskyn,” het Otto gesê.

Maroela Media het vroeër berig ʼn 40-jarige vrou is op 23 Maart helder oordag verkrag terwyl haar gesin by ʼn plaashuurhuis naby Dorset, tussen Vaalwater en Lephalale (Ellisras), ingetrek het.

Otto het destyds gesê ʼn onbekende man het die vrou, wie se identiteit beskerm word, omstreeks 16:00 in die huis oorval.

“Die man het die slagoffer gegryp en na ʼn waterpompstasie gesleep waar hy haar na bewering verkrag het,” het Otto gesê.

Die verdagte het met twee selfone van die toneel gevlug. Die vrou is erg tydens die aanval aangerand en na ʼn nabygeleë hospitaal geneem.

ʼn Vriendin van die vrou het aan Maroela Media gesê die slagoffer se man het tydens die voorval ʼn vrag besittings in Lephalale, waar hulle sowat vyf jaar gewoon het voor hulle na die plaashuis getrek het, gaan oplaai toe die booswig toegeslaan het.

“Sy is ernstig beseer maar buite gevaar,” het haar vriendin gesê. “Daar was drie kinders by die huis, maar hulle is veilig, want sy het met alles in haar baklei om hulle te beskerm.”

Die vrou is na bewering tydens die aanval met ʼn stomp voorwerp oor die kop geslaan en het kopwonde opgedoen. Sy het ook beserings aan haar gesig en arms opgedoen terwyl sy terugbaklei het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eugene Joubert ·

Wens die doodstaf word weer ingestel, anders sal ons mense reg in eie hande moet begin neem.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.