Goeie nuus: ‘Verlamde’ rugbyspeler gee eerste treë

Heinrich ‘Ollie’ Terblanche  en sy verloofde, Chanel Supra. Foto: Facebook

Heinrich ‘Ollie’ Terblanche en sy verloofde, Chanel Supra. Foto: Facebook

Heinrich ‘Ollie’ Terblanche (24), die rugbyspeler wat in Januarie verlam gelaat is nadat hy in ʼn wedstryd beseer is, kan weer regop staan en selfs ʼn paar treë loop.

Maroela Media het vroeër berig Terblanche het sy nek beseer nadat hy as stut vir die SWD Arende-vyftiental in ʼn kragmeting teen die Evergreens uitgedraf het. Die twee spanne het op ʼn volgepakte Outeniquapark in ʼn voorwedstryd tussen die Stormers en die SWD Arende gespeel. Terblanche is in ʼn skrum beseer en was van sy middellyf af verlam.

Chanel Supra, Terblanche se verloofde, het Donderdag aan Maroela Media gesê dokters, familie en vriende is stomgeslaan oor sy verbetering. “Dit gaan regtig so ongelooflik goed met hom. Hy kan al op sy eie regop staan en self sy knieë sluit. Hy kan ook klein treetjies tussen die parallelle balke by die rehabilitasiesentrum loop. Die fisioterapeute loop nog voor en agter hom om hom te ondersteun, want daar is klein spiertjies wat nog moet sterk word,” het sy gesê.

Supra is ʼn onderwyseres in George en kuier tans by Terblanche in Centurion. “Hy is maar hier [in Gauteng] terwyl hy herstel en sodra hy heeltemal op die been is, sal ons besluit waar ons gaan bly. Maar Ollie het gesê hy sal graag wil teruggaan George toe, want dit is bietjie rustiger daar.”

Heinrich ‘Ollie’ Terblanche  en sy verloofde, Chanel Supra. Foto: Facebook

Heinrich ‘Ollie’ Terblanche en sy verloofde, Chanel Supra. Foto: Facebook

Kort na Terblanche se ongeluk het Supra gesê sy sal hul troue eers weer begin beplan wanneer hy sy eerste tree gee. “Ek moet my belofte hou en het nou stadigaan weer ʼn paar goedjies begin reël!” het sy laggend gesê. Die paartjie se troudatum is voorlopig 19 Desember, maar hulle sal Terblanche se herstel dophou voordat die reëlings gefinaliseer word.

“Ons het daaroor gepraat en dit is vir hom baie belangrik om by die troue reeds op die been te wees vir ons eerste dans saam en al daardie intieme goedjies. So ons kyk hoe hy vorder.” Sy het ook gesê dat Terblanche graag weer as speler of afrigter by rugby betrokke wil wees.

Volgens Supra is nie sy of Terblanche bitter of kwaad oor sy ongeluk nie. “Ons vra nooit hoekom dit gebeur het nie en ons geloof groei net elke dag. Ons is so geëerd om hierdie getuienis te kan lewer en ons storie te kan vertel. Die Here was nog net goed vir ons. Ons is baie positief en ons glo Ollie gaan nog ʼn groot verskil maak in die wêreld om hom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Peet Schabort ·

Ek sien WARE LIEFDE.
Hoekom ? Omdat Ollie se terugslag julle nie geskei het.
Chanel, jy is ‘n ware vrou vir Ollie. Glo in Hom kan ek sien is julle Anker.

Ryand ·

Sterkte Ollie. Jy sal volle herstel so gaan groot met julle trou reelings. Was ini selfde bootjie as jy en kan vandag loop en doen wat lief is voor. Byt vas en glo nt.

SNEL ·

Wow, dis wonderlike nuus. Baie bly saam met julle. Wonderwerke gebeur nog!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.