Goeie nuus: Vermiste hond ná langer as ʼn jaar opgespoor

Molly is nou Spaniel Rescue South Africa se gelukbringer. Foto: Verskaf

Molly is nou Spaniel Rescue South Africa se gelukbringer. Foto: Verskaf

Molly, ʼn spanjoelteef, se aangrypende verhaal laat ʼn mens dink aan ʼn viervoetige weergawe van die sprokie Aspoestertjie. Sy het ʼn harde lewe agter die rug, maar soos elke hond, het sy haar dag gekry en sy is nou die dierewelsynorganisasie, Spaniel Rescue South Africa, se gelukbringer.

“Molly het in Mei verlede jaar haar ons harte in gekruip. Ons het ʼn oproep van ʼn bekommerde inwoner van Skeerpoort, naby Pretoria, ontvang, waar sy as ʼn teelhond van ʼn agterplaasteler gebruik is,” het Mandy Robinson, stigterslid van die organisasie, Vrydag aan Maroela Media gesê.

“Die ‘teler’ het soos ʼn dief in die nag van die perseel af verdwyn, nadat hy glo nie sy huur kon betaal nie. Hy het egter van die honde agtergelaat. Molly was een van hulle, maar toe ons by die perseel aankom was daar net twee babahondjies. Ná ʼn twee week lange soektog in die gebied het ons haar uiteindelik opgespoor en gevang.”

Volgens Robinson was Molly in ʼn haglike toestand. “Haar pels was erg gekoek en sy was oortrek van bosluise en vlooie. Sy het ook letsels gehad. Dit was duidelik dat sy oor ʼn geruime tydperk verwaarloos en mishandel is. Sy was ook te dikwels dragtig en sy lyk nou asof sy permanent swanger is.”

Die organisasie het Molly dadelik na ʼn veearts geneem vir behandeling. Sy was vir ʼn maand lank by die organisasie se perseel naby Roodepoort vir waarneming en rehabilitasie terwyl hulle vir haar ʼn liefdevolle huis gesoek het.

“Ons het gedink haar lewe van pyn en lyding was uiteindelik verby toe ons vir haar ʼn nuwe huis gekry het. Ongelukkig het ons kort daarna op 19 Junie die hartseer nuus van haar nuwe eienaars in Northcliff ontvang dat sy spoorloos verdwyn het.”

Die organisasie het dadelik ʼn grootskaalse soektog van stapel gestuur en was vol hoop om haar op te spoor, aangesien sy baie uniek lyk, ʼn halsbandjie met ʼn naamplaatjie en ʼn mikroskyfie het.

“Ek en ander lede van ons organisasie, Lesley-Ann Marshall, Simone Wallace en Julia Bickel, het die hele dag lank gesoek, maar daar was geen teken van Molly nie.”

Die diereliefhebbers het daarna stapels pamflette gemaak en versprei en ook ʼn Facebook-blad gestig met die hoop dat Molly met die publiek se hulp opgespoor kan word. “Ons het selfs uit desperaartheid vier mense in diens geneem om daagliks te voet in die gebied en omliggende buurte na haar te soek. Molly se verhaal het talle diereliefhebbers se harte geraak. Hulle het op ons pleidooi reageer en help soek na haar. Daar was selfs ʼn egpaar, Sue en Pete Chopin, wat omtrent elke naweek van Potchefstroom af gery het om in Johannesburg te help soek na Molly.”

Weke het maande geword en maande ʼn jaar, maar Molly was steeds skoonveld. “Ons het nie meer hoop gehad nie, maar ons het geweier om tou op te gooi. Ons het op elke wenk gereageer, al was dit in gevaarlike gebiede. Tydens dié tydperk het ons op talle honde afgekom wat ook hulp nodig gehad het.”

Robinson het vandeesweek Woensdag die goeie nuus gekry waarvoor almal gewag het – “Molly is gevind!”

“Ons almal was oorstelp van vreugde en emosie. Sy was ʼn jaar, drie maande en 18 dae lank vermis. Mens kan nie die vreugde en blydskap beskryf nie.”

Molly is gevind nadat iemand wat haar nie meer wou hê nie, haar na die Animal Anti-cruelty League in Johannesburg geneem het. Sy is met behulp van haar mikroskyfie met die organisasie verbind.

“Daar is nog baie vrae oor hoe sy by die ‘eienaars’ beland het. Haar toestand was erger as toe ons haar die eerste keer gekry het, maar sy het darem gelewe.”

Volgens Robinson sal hulle nog ondersoek instel oor wie haar verwaarloos het, maar is nou net in ekstase dat sy terug is.

“Sy het ʼn lang pad van rehabilitasie wat voorlê. Sy is omtrent lewendig deur bosluise en vlooie opgevreet en haar pels was so erg gekoek, ons moes dit heeltemal afskeer. Sy het ook kankergewasse wat verwyder moet word.”

Robinson het gesê Molly reageer steeds op haar naam, wat wys hoe merkwaardig sy is.

“Ons gaan haar nie weer laat aanneem nie. Sy is deur genoeg trauma. Ná haar rehabilitasie gaan sy net hier bly totdat sy eendag oor die reënboogbruggie loop. Sy is nou ons organisasie se mascot,” het Robinson afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Joyce ·

Dankie vir die genade dat daar mense is met harte in hul binneste glo dat dit haar honed hemel sal word as mense soveel opoffer is daar hoop. Julle is dierbaar mag julle geseen word

Marie ·

Maroela baie dankie vir die plasing van die storie van Molly! Dit laat my weer aan mense glo. Baie dankie vir almal wat hondeliefde in hulle harte het :-)

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.