Goeie nuus: Veteraan-verpleegster vier 100ste verjaardag

Argieffoto: www.flickr.com

Argieffoto: www.flickr.com

ʼn Voormalige verpleegster van Limpopo het Donderdag haar 100ste verjaardag gevier, boonop met ʼn persoonlike gelukwensing van pres. Jacob Zuma.

Sebotsana Rasebotsa, ook bekend as Koontz Nancy, is die ma van sakevrou en sokkerpersoonlikheid Ria Ledwaba. Rasebotsa woon in die Medingen-nedersetting naby Duiwelskloof.

Sy is op 6 Augustus 1915 in Middelfontein naby Nylstroom gebore. Sy was met Nathaniel Rasebotsa getroud. Hy is in 1959 oorlede. Rasebotsa het vier seuns en een dogter.

Die veteraan-verpleegster het van 1951 tot 1979 stoksielalleen by die Medingen-kliniek gewerk. “Sy het haar hele lewe lank die families van pasgebore babas vir tien dae ná die geboorte besoek om die babas te bad. Sy het in haar hele loopbaan nooit ʼn miskraam, keisersnee of dood tydens ʼn baba se geboorte gehad nie,” het ʼn trotse Ledwaba gesê.

Zuma het Rasebotsa met haar verjaardag gelukgewens en gesê dit is ʼn mylpaal vir haar, haar familie en die nasie. “Op die viering van Vrouedag hierdie naweek, wens ons hierdie veteraan-dienaar wat talle mense verpleeg het en baie babas in die lewe help bring het, geluk. Sy is ʼn inspirerende rolmodel vir baie in die verpleegberoep en alle professionele mense in die land,” het Zuma gesê. Hy het haar verder volgehoue gesondheid, vreugde en goeie moed toegewens.

Die presidensie het gesê Zuma stuur ’n persoonlike brief aan alle Suid-Afrikaners wat 100 jaar oud word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Peet Schabort ·

Werklik ‘n mylpaal en veels geluk.
Dis egter bemoedigend dat ek NIE van Zuma ‘n gelukwensing sal kry indien ek ‘n eeu haal . . .

Flip Nothling ·

Veels geluk aan Ouma Sebotsana Rasebotsa. Goeie gesondheid en liefdevolle mense vir haar.
Sy het haar deel gedoen. Sy is ‘n voorbeeld vir ons.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.