Goeie nuus vir 4-jarige ná ongeluk

Dandré Esterhuizen in die hospitaal. (Foto: Verskaf)

Renette Esterhuizen, die ma van Bela-Bela in Limpopo wie se vierjarige seuntjie Saterdag in ʼn ernstige motorongeluk beseer is, is verheug nadat ʼn breinskandering getoon het dat haar kind nié breinskade opgedoen het soos aanvanklik gevrees is nie.

“Daar is geen permanente skade nie, net swelling wat ook met tyd sal weggaan,” het Esterhuizen Woensdag gesê. “Dit is ʼn groot verligting. Ons was paniekbevange.”

Maroela Media het vroeër berig Esterhuizen is sewe maande swanger en is verlede Vrydag in ʼn hospitaal opgeneem weens swangerskapkomplikasies. ʼn Vriendin van haar het na haar seuntjie Dandré omgesien terwyl sy in die hospitaal was. Die vriendin het Dandré saamgeneem toe sy Vrydagaand by vriende gaan braai het en op pad terug huis toe was hulle in ʼn ernstige motorongeluk betrokke. Die voertuig het gerol en Dandré is uit die voertuig geslinger. Die ander twee mense in die voertuig het matige beserings opgedoen.

Esterhuizen het haarself dadelik ontslaan toe sy die oproep van die ongeluk ontvang en haarself na haar seuntjie se siekbed gehaas. Dandré het talle snymerke aan sy gesig en kop opgedoen. Hy het ook ʼn groot wond oor sy voorkop gehad.

Dandré voor die ongeluk. (Foto: Verskaf)

Volgens Esterhuizen is Dandré Maandag in die teater in die Sunshine-hospitaal in Benoni ingestoot om glasstukke uit die wonde te haal, dit skoon te maak en dan te heg.

Daar is egter van die wonde wat nie wou heg nie aangesien daar nie genoeg vel was om dit te heg nie. Dié wonde is dus oopgelaat en sy dokter sal vandag weer besin of dit vorentoe in die teater aandag moet kry.

Hoewel Dandré aanvanklik ná die ongeluk onder verdowing geplaas is, het sy dokter hom intussen daarvan begin speen. Esterhuizen sê die kleinding huil egter van pyn en sy probeer dat hy so veel as moontlik slaap om nie bewus daarvan te wees nie.

“Dit is ʼn baie moeilike tyd. Dit is erg om my vriendelike en saggeaarde seuntjie so te sien lê. Ek wens geen ma hierdie tyd toe nie,” vertel ʼn emosionele Esterhuizen.

Dandré moet na verwagting vandag begin met fisioterapie om sy spiere weer soepel te kry. “As gevolg van al die lê [die afgelope paar dae] is hy maar baie swak. Hulle wil kyk of hy kan begin beweeg en opstaan,” verduidelik sy.

En hoe gaan dit met ma se gesondheid? Sy het steeds pyn en het intussen na ʼn staatskliniek gegaan waar die dokters gesê het dat hulle effens bekommerd oor haar is. “Hulle het gesê ek moet probeer rus en dinge rustig vat. Ek is egter nog nie weer opgeneem nie. Hier is ʼn bed vir my langs Dandré se bed,” vertel sy.

Dít is al waar sy nou wil wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Elmarie ·

Dis wonderlike nuus!
Dankie Here U is getrou.
Ons bid dat sy mamma ook 100% sal wees.

chantel ·

Prys die Here vir Sy genade
Mag daai glimlag nog breed smile

Anoniem ·

Wow fantastiese nuus Ek dank ons hemelse Vader dat hy sy hand van beskerming oor die kleinding ge hou het, sterkte vorentoe.

? leser ·

dankie Vader vir U Hand van Beskerming en Genesing oor die Dandre
U Genade en Genesing is absoluut fantasties, ek kan daarvan getuig, ek prys U
Vader hou U Hand van Genesing ook oor die mamma en ander wat deur die ongeluk se trauma moet gaan

vince slater ·

Bly die knapie is okay maar miskien moet die padreels vereis dat soos in ander lande;
Requirements for child restraints
Age of child The law says you must:
Until their 7th birthday Correctly secure your child in an approved child restraint
From their 7th to their 8th birthday Correctly secure your child in an approved child restraint if one is available in the vehicle (and if not, in any child restraint or safety belt that is available)
From 8th birthday to 14 years old Must use safety belts if available. If not available, they must travel in the back seat.
Over 14 years old Must use safety belts where they are available.

Betta ·

Ek is bly dit gaan beter met Dandre. Die skrywer van die berig moet net seker maak van die bewering dat die ander twee mense geringe beserings opgedoen het want dis nie korrek nie. Daar is ernstige beserings opgedoen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.