Goeie nuus vir baba Lee en sy ouers

Lee Jansen van Vuuren (Foto: Pray for Baby Lee/Facebook)

Klein Lee Jansen van Vuuren van Vereeniging, wat op 2 Januarie gebore is en reeds talle terugslae in sy kort lewe beleef het, is Sondag uit die hospitaal ontslaan en sy ouers en ouma Judith kon hom vir die eerste keer vashou.

Judith Jansen van Vuuren, Lee se ouma, het Sondag aan Maroela Media gesê hulle het gedink hulle gaan Lee net by die hospitaal besoek en die goeie nuus is hulle toe meegedeel dat hy ontslaan word.

Hy moet Maandag ʼn breinskandering ondergaan waarna die gesin hom na ʼn privaat dokter sal neem vir verdere toetse, spesifiek vir sy bors en asemhaling.

Maroela Media het vroeër berig Lee se ouers, Nikita en Shaun, het kort voor Nuwejaar gehoor hul baba se hart klop te vinnig. Die dokter het Nikita aangeraai om hom op 2 Januarie weer te sien. Lee is daardie selfde middag nog met ʼn keisersnee in die Vereeniging/Kopanong-hospitaal gebore.

Lee Jansen van Vuuren (Foto: Pray for Baby Lee/Facebook)

Hy het voor sy geboorte ʼn stoelgang in die baarmoeder gehad en daarvan ingekry. Vrugwater het ook in sy longe beland. Alhoewel hy direk ná sy geboorte suurstof ontvang het, het hy kort daarna epileptiese aanvalle begin kry.

Lee is op 3 Januarie na die Sebokeng-hospitaal oorgeplaas waar hulle meer gevorderde toerusting het om na hom om te sien.

Hy was 10 dae lank in die intensiewesorgeenheid, gekoppel aan 7 drups en ʼn hart- en suurstofmasjien. Hulle het ook deurgaans sy bloeddruk en breinaktiwiteit dopgehou. Hy is daarna na die hoësorgeenheid oorgeplaas toe dokters ʼn virus ontdek wat sy hele liggaam besmet het. Dokters het Vrydag bloedtoetse gedoen om te bepaal of die virus opgeklaar het.

Lee het in ʼn stadium ook sepsis in sy linkerarm ontwikkel nadat van die medikasie uit ʼn drup in sy weefsel beland het.

Die gesin was vol verwagting dat Lee Maandag ontslaan sou word, sodra hulle die uitslag van die bloedtoetse kon hoor en of Lee sonder die suurstofmasjien kon klaarkom.

Talle persone volg baba Lee se vordering op ʼn toegewyde Facebook-blad, Pray for Baby Lee. Die gesin het vroeër skenkings versoek om Lee moontlik na ʼn privaat hospitaal te kon oorplaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Chris Bosch ·

Hi jong man Lee,sterk wees ou maar God is by jou. Hy ken en weet van jou lank al. God is en by ons elke millie’s second. God is in beheer en ek bid vir jou.

Dawie ·

So bly om goeie nuus te kry ons glo God gaan hom en sy familie hierdeur dra.

leser ·

Amen, God is Groot en Goed, Sy Hand van Genesing is met julle

Gesiggie ·

Jesus hou die klein Engel kind stuif in U arms, genees hom en gee aan hom net die mooiste en beste in die lewe, so bly dat als beter gaan… God is Good all the Time…

Nettie ·

Die ou dingetjie het ‘n virus opgedoen en sepsis in sy armpie gekry nadat ‘n IV “in die weefsel” gegaan het.

WATTER SOORT “VERPLEEGKUNDIGES” WERK DEESDAE IN DIE STAATSHOSPITALE? Of moet ek eerder nie dáái vraag vra nie? In mý tyd, as verpleegstudent in die 1990’s, sou daar besliste GEVOLGE gewees het vir die verpleegpersoneel, as ‘n pasiënt sepsis of ‘n virus/bakteriële infeksie opgedoen het, tydens hul verblyf in die hospitaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.