Goeie nuus vir Cheverné

Cheverné Duvenhage (Foto: Facebook)

Cheverné Duvenhage, die gr. 8-leerder van Hoërskool Driehoek wat in die tragedie by dié skool ernstig beseer is, is oor die naweek uit verdowing gebring en haal byna self asem.

“Dit is darem so bietjie goeie nuus,” het Elardus Duvenhage, Cheverné se pa, Maandagoggend gesê, sowat drie weke nadat Cheverné in die hospitaal in Alberton met inwendige beserings en ʼn gebreekte voet opgeneem is.

Dit is hier waar dokters sedertdien sukkel om haar maagwand wat in die ineenstorting geskeur het, te heg. Dokters kon egter uiteindelik vasstel waarom presies haar maagwand nie heg nie.

“Die weefsel het ook seergekry. Dit is lyk my gekneus en daarom wil dit nie heg nie,” verduidelik Elardus.

Cheverné (13) moes verlede week noodgedwonge ʼn tweede operasie ondergaan waarna haar wond tydelik oop gelos is. Dié wond sal gevolglik nog vir ʼn geruime tyd oopbly sodat dokters dit elke tweede tot derde dag in die teater kan skoonmaak, sê Elardus.

“Dit is vir nou die plan vorentoe totdat haar dokters tevrede is. Dan sal sy toegewerk word en ʼn veloorplanting oor daardie wond op haar maag ontvang.”

Volgens Elardus gaan dit andersins goed met Cheverné. Die infeksie wat sy na die tweede operasie opgedoen het, was toe wel lokaal en word steeds behandel. Sy kon ook uit die verdowing gebring word en kan al reageer. Ook die ventilator waaraan Cheverné gekoppel is, word geleidelik afgestel en “sy haal al basies op haar eie asem,” sê Elardus.

Die risiko vir infeksie is egter wel hoër met haar wond wat oop gelos moet word. Cheverné is ook nog deurmekaar en sukkel om te kommunikeer as gevolg van die ventilasiemasjien.

Elardus vertel dat hy veral nou goeie nuus nodig het aangesien hy moes terugkeer werk toe en nie heeltyd by Cheverné se siekbed kan waak nie. “Dit gaan maar op en af. Dit maak dit nie maklik dat ek weer moet gaan werk nie, maar wat kan ek doen?”

Maroela Media het vroeër berig Cheverné is beseer toe ʼn loopbrug by haar skool op 1 Februarie ineengestort het. Cheverné het onder meer bloeding in haar buik gehad nadat haar maagwand tydens die voorval geskeur het. Altesaam 20 cm van haar derm moes ook verwyder word en sy het vier breuke in die brug van haar linkervoet opgedoen.

Vier leerders van Hoërskool Driehoek het in die tragedie gesterf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

legens ·

wens jou alle sterkte toe . gelukkig het die mediese wetenskap so gevorder dat jy gehelp kan word en hopelik ten volle sal genees . Alle dank aan die medici .

Jepetto ·

Byt vas Cherverne jy is a vegter jy sal hierdeer kom byt net vas elke gag is a stapie vorentoe

leser ·

cheverne, ek / ons bid nogsteeds vir algehele herstel, glo en vertrou op Jesus, Hy staan jou by, so ook al die ander wat betrokke is by die ongeluk

Saartjie ·

Moed hou prinses… Jesus sal jou genees ons moet net bly glo….. Sterkte mamma en pappa… God is Goed

Hennie ·

Elardus hou moed al moes jy teruggaan werk toe ek glo sy is in die beste Hande Jesus Sy juk is sag en Sy las is lig . Sy goedheid strek tot in ewigheid ,hou net vas aan Hom

Lizzy ·

Ons bid nog steeds vir julle! Hou moed. Die Here sal voorsien. Baie sterkte!

TN ·

Dankie aan die dokters wat onbaarsugtig bly werk het om resultate te behaal ten spyte van die mense se bygelowe . Ook aan die uitvinders van anti-biotika wat die mens se lewensverwagting al met 20 jaar verhoog het die afgelope 100 jaar ___ ook aan die predikante en verwante kollegas wat in dieselfde tyd soveel beter leer bid het __ ons loof julle !!

Gesiggie ·

So wonderlik om die goeie nuus te lees…. God is Good all the time…Glo en vertrou van nou af gaan dit net nog beter gaan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.