Goeie nuus vir ‘Covid-19-misdadigers’

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Steve Swart, sweep van die ACDP, het Woensdag die voorlegging oor die Wysigingswetsontwerp op Regsake in die portefeuljekomitee vir justisie en korrektiewe dienste verwelkom.

Dié wetsontwerp bevat voorgestelde wysigings aan die Strafproseswet om die vrystelling van kriminele rekords wat verband hou met Covid-19-oortredings moontlik te maak.

Die ACDP het sy kommer reeds in 2020 uitgespreek toe Suid-Afrika aan een van die strengste inperkings ter wêreld onderwerp was, wat tot gevolg gehad het dat duisende normaalgesproke wetsgehoorsame burgers in hegtenis geneem is vir geringe oortredings volgens die bepalings van die Covid-19-rampbestuurswet en -regulasies. Talle burgers was onbewus daarvan dat die betaling van ʼn skuldbelydenisboete vir sulke oortredings tot ‘n kriminele rekord sou lei. Dit sou op sy beurt ‘n negatiewe impak gehad het op sulke persone se werksgeleenthede, sê Swart.

“Ons was verheug dat die komitee in sy Junie 2020-begrotingsverslag saamgestem het met ons sienings en sy kommer uitgespreek het oor die aantal inhegtenisnemings wat verband hou met beweerde Covid-19-oortredings. Dit is duidelik nie wenslik om burgers misdadigers te maak vir relatief klein oortredings nie.”

Die komitee het in sy verslag opgemerk dat die departement van justisie van voornemens is om ʼn Wysigingswetsontwerp op Regsake in te stel om die probleem te takel, en weens die dringendheid daarvan is die minister van justisie en korrektiewe dienste versoek om dit teen die einde van Julie 2020 indien. Die Wetsontwerp is egter eers vanjaar ingedien en word dit nou eers deur die komitee oorweeg.

Klousule 10 van die wetsontwerp stel voor dat nuwe artikels 57B, 57C en 57D by die Strafproseswet ingevoeg word. Volgens artikel 57B kan die minister verklaar dat sekere kategorieë oortredings nie tot ʼn vorige veroordeling teen ʼn beskuldigde lei nie en maak voorsiening in die vrystelling van kleiner oortredings, sowel as sekere oortredings wat kragtens die Wet op Ramptoestande en -Regulasies gepleeg is.

Artikel 57C maak voorsiening vir die vrystelling van die kriminele rekords van persone wie se name in die Kriminele Rekordsentrum van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (KRS) verskyn nadat hulle ʼn skuldbelydenisboete vir oortredings, soos beskou in die voorgestelde nuwe artikel 57B(1), betaal het. Die doel van die wysiging is ook om voorsien te maak in die outomatiese vrystelling van die kriminele rekord. Indien dit nie die geval is nie, voorsien die wysiging in die indiening van ʼn skriftelike aansoek om enige persoon te help om die outomatiese vrystelling deur die KRS te verkry.

“Ons betreur die feit dat dit so lank geneem het om hierdie wetsontwerp in te dien, maar verwelkom die voorgestelde wysigings en vertrou dat, nadat die wetsontwerp bekragtig is, al daardie persone wat onwetend kriminele rekords gekry het toe hulle skuldbelydenisboetes betaal het, van die bepalings gebruik sal maak om enige kriminele rekords van hulle naam te verwyder.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Gerra ·

….weens diedringendheid moet die minister die veranderinge teen Julie 2020 indien…. maar is nou eers gedoen.
Vaderland, geen dringendheid by anc! Byna 2 jaar later.
Wonder as hy n dringende noodgeval het of hy ook 2jaar sal wag?

Johan ·

En wanneer ry die werklike kriminele wat die plandemie veroorsaak het en wat ons ekonomie opgeoffer het vir regulasies wat nie kon werk nie aan die pen…

Harley Davidson ·

Dit sal ook interessant wees om te kyk na die sterfte syfers na covid en veral sterftes van mense wat die inentings gekry het.

JvR ·

En na die toetse. Ekj weet van menige wat net n toets gekry het. Voor toets geen simptome. Na toets oorlede

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.