Goeie nuus vir gesin ná seun oorsee sterf

Colin Wheeler (Foto: Facebook)

Colin Wheeler (Foto: Facebook)

Colin Wheeler, die 24-jarige oud-Pukstudent wat verlede week Dinsdag weens orgaanversaking in Hanoi, Viëtnam, oorlede is, se liggaam is Maandag aan sy ouers terugbesorg.

Maroela Media het vroeër berig Colin is verlede Dinsdag onverwags in ʼn hospitaal in Hanoi oorlede skaars ʼn maand nadat hy daarheen verhuis het om te gaan skoolhou.

Colin is op 10 Oktober in ʼn hospitaal in Hanoi opgeneem nadat sy lewer en niere probleme begin gee het. Sy ma, Erika, het op 14 Oktober en sy pa, Andre sr., op 18 Oktober in Hanoi aangekom om by hom te wees. Hy is op dieselfde dag wat André sr. in Hanoi aangekom het, oorlede.

Dit is nog nie duidelik wat die oorsaak van die skielike orgaanversaking is nie. Dokters het aanvanklik vermoed dat dit malaria is, maar Colin is intussen negatief vir dié virus getoets. Die nadoodse ondersoek gaan egter voortgesit word.

Die gesin is egter deur ʼn dubbele tragedie getref toe die hospitaal aangevoer het dat hospitaalonkoste van $25 000 (bykans R345 000) vereffen moet word voordat sy liggaam teruggestuur kan word.

Colin het nie reisversekering gehad nie, omdat dit slegs geldig is wanneer die persoon ʼn retoerkaartjie het. Die gesin het die Suid-Afrikaanse ambassade hieroor genader, maar die ambassade het gesê daar is nie genoeg geld om die gesin by te staan nie.

André sr. het intussen volgens ʼn ooreenkoms met die hospitaal sy paspoort ingeruil, en Colin se liggaam is teruggestuur. Dit het die gesin ʼn ekstra $8 000 (bykans R110 000) gekos.

Die gesinslede het hulle die afgelope naweek tot ʼn skarefinansieringswebwerf gewend om dié geld, asook geld vir die hospitaalkostes in te samel. In minder as ʼn week kon die gesin daarin slaag om meer as R340 000 deur middel van dié webwerf in te samel.

“Ander positiewe nuus is dat André sr. ook bevestig het dat hy terug is op pad na Suid-Afrika toe. Ons kan dus begrafnisreëlings begin tref,” het die gesin in ʼn verklaring gesê.

“Ons wil ieder en elk bedank wat gehelp het met Colin se skenking en die familie ondersteun het in hierdie moeilike tyd. Ons kan ons dankbaarheid nie in woorde beskryf nie. Spesiaal ook dank aan Apax vir hulle groot bydrae op ons webwerf. Dit is voorwaar ʼn seën om te sien dat ʼn gemeenskap soveel deernis, patos en liefde vir mekaar het dat hulle alles moontlik sal doen om ander by te staan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Landi Slatter ·

Dagsê Ben

Dankie vir jou navraag. ‘Patos’ verwys in dié konteks volgens die sesde weergawe van die HAT na “gevoel van simpatie/jammerte wat iets/iemand by iemand wek”. Hoop dit klaar die verwarring op.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

Lucas ·

Wonderlike nuus by die tragedie van ‘n geliefde so jonk verloor. Sterkte aan sy geliefdes!

Johann ·

Skaam julle RSA “AMBESADE”….nie genoeg fondse nie? Maar n ruk terug is n liggaam van n bekende hoë berg met fanfare terug gestuur RSA toe? En presies wat word met die MASSAS geld gedoen wat vir ins “ambasades” geallokeer word?????? Dat rassisme nou al op ontslapenes se lot toegepas word……?

Stella ·

Kan julle ons asseblief inlig wat die oorsaak van die skielike siekte was. Dankie.

Hannelie ·

Dankie Here dat U hierdie gesin se uitkoms was. Alle eer aan U.

Lucas ·

Ja , Johann dit laat mens wonder. Tydjie terug die minister van verdediging se troetelkind gaan haal op belasting betaler koste êrens in Afrika. As ek nog iets moet byvoeg plaas Maroela weer nie my kommentaar nie!!

Faan ·

Sterkte aan die familie. Ek wil ook net daarop wys dat malaria nie ‘n virus is nie.

Johan ·

Malaria word veroorsaak deur ‘n protosoön parasiet wat muskiete as tussengasheer gebruik om helfte van sy lewensloop in te voltooi, die ander helfte doen hy in ‘n menseliggaam.

Susan durant ·

Wonderlik hoe goed mense vir mekaar kan wees. Toe die regering nie help, toe doen ons dit self.

Hendrik Jordaan ·

Net ‘n klein punt. Malaria is nie ‘n virus nie. Dis ‘n parasiet. Maar dit sal nog steeds getoets kan word of iemand daardie parasiet het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.