Goeie nuus vir gestrande SA’ners in China

Van die jongmense wat in China gestrand is. Foto: Verskaf

Die jong Suid-Afrikaanse onderwysers wat in China gestrand was nadat hulle deur ʼn slenterslag gevang is, is terug in die land.

Lindiwe Sisulu, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, het Vrydag in ʼn verklaring gesê 49 van die 51 Suid-Afrikaners wat in Tsjangtsjoen in China gestrand was nadat hul paspoorte weens foutiewe visums deur die polisie afgeneem is, is terug in hul tuisland.

Die jong mense, almal onder 25 jaar oud, is deur ʼn agent gelok om met studievisums na China te reis om daar as Engels-onderwysers te werk. Hulle is glo onder die indruk gebring dat hulle hul werkvisums sou ontvang sodra hulle in China aankom, maar dit het nie gebeur nie. Hulle het egter begin werk met die studievisums wat strydig is met China se immigrasiewette.

Die twee ander mense, wat vermoedelik deel is van die werwers, word steeds deur Chinese owerhede aangehou.

“Ons is verlig dat al die jong mense wat gestrand was nou terug is by hul families. Ons is deeglik bewus daarvan dat dit nie ʼn maklike tyd vir dié familielede was nie,” het Sisulu gesê.

Sisulu het Chinese owerhede bedank nadat hulle met Suid-Afrika ooreengekom het om die groep se paspoorte weer terug te besorg en die Suid-Afrikaners toe te laat om die land te verlaat.

Sy het gesê die departement beoog om volgende week ʼn veldtog van stapel te stuur om Suid-Afrikaners van slenters bewus te maak. Die veldtog sal “Travel smart” heet.

“Daar is te veel Suid-Afrikaners in tronke oor die hele wêreld en dit is ʼn bekommernis,” sê sy. “Ons wil hê Suid-Afrikaners moet weet hoe belangrik dit is om deeglik navorsing te doen voordat hulle reis om op só ʼn manier te verhoed dat hulle hulself betrek by aktiwiteite wat ander lande as onwettig beskou.”

Volgens dié ambassade in Beijing is die 51 jong Suid-Afrikaners deur ʼn agent gelok om met studievisums na China te reis en as Engels-onderwysers te werk. Hulle is glo onder die indruk gebring dat hulle hul werkvisums sou ontvang sodra hulle in China aankom, maar dit het nie gebeur nie. Hulle het egter begin werk met die studievisums wat strydig is met China se immigrasiewette. Volgens inligting is al die jong mense onder 25 jaar oud en het die agent hul paspoorte afgeneem toe hulle in China aangekom het. Hulle is glo beveel om nié hul verblyfplek te verlaat nie en moes met net R45 per dag oorleef.

Derduisende rande is in die afgelope week deur middel van ʼn skarefinansieringswebwerf vir die jeugdiges ingesamel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

jaco ·

Die minister en haar party het nie veel tyd vir wit mense nie, maar gryp in om dié groep wit Suid-Afrikaners te help. Dis seker hoekom dit vandag so reën in die Kaap.
Net jammer daar word nie met plaasaanvalle en -moorde ingegryp nie.
Die ergste is dat hierdie groep wat nou terug is in SA, glad nie of bitter moeilik sal werk kry hier NET omdat hulle wit is. Dis tog maar om van regstellende aksie af weg te kom dat hulle oorspronklik China toe is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.