Goeie nuus vir Idees-tydskrif se ondersteuners

Die Ideas/Idees-tydskrif se span

Die Ideas/Idees-tydskrif se span

Daar is goeie nuus vir die aanhangers van Ideas/Idees, Suid-Afrika se enigste tweetalige tydskrif vir moderne kunsvlyters, doen-dit-jouself-entoesiaste en kreatiewe entrepreneurs, nadat Media24 dié tydskrif se deure gesluit het.

Maroela Media het in November berig Media24 het in ʼn verklaring gesê die tydskrifte topCar, Top Gear, Grazia, Ideas/Idees en Lééf gaan amptelik sluit en volgende jaar nie meer beskikbaar wees nie.

Die span van Ideas/Idees het Vrydag aangekondig dat hulle die handelsmerk kon behou en het nou ʼn beginnermaatskappy op die been gebring om dié tydskrif in ʼn digitale en gedrukte weergawe aan die gang te hou.

“Nadat ons die trane afgevee het, het ons ons koppe, kreatiewe energie en entoesiasme vir ons tydskrif bymekaargesit en besluit om hierdie baba amptelik aan te neem,” het Terena le Roux, redakteur en nou ook eienaar van die beginnermaatskappy, in ʼn verklaring gesê.

Volgens haar het die span hul dienste gratis aangebied vir die eerste twee uitgawes. “Maar dit is ʼn duur bedryf vir ʼn beginnermaatskappy en selfs al koop julle elke kopie van ons nou groter, duurder, tweemaandelikse uitgawes, gaan die span die tydskrif vir maande lank self finansieel moet dra,” het sy bygevoeg.

Die span het ʼn veldtog op Thundafund begin, ʼn skarefinansieringswebwerf waar kreatiewe entrepreneurs geld en hulp van die publiek kan insamel.

Die span se doel is om elke tweede maand minstens 15 000 kopieë van ʼn 124 bladsy-tydskrif te druk en dit digitaal te versprei aan lesers wat eerder ʼn goedkoper, aanlynopsie verkies.

Die eerste twee tydskrifte sal gefinansier word uit die span se afleggingspakkette.

Die span wil deur die skarefinansieringswebwerf uiteindelik minstens R115 000 insamel om die tydskrif ten volle aan die gang te kry. Met die eerste R15 000 kan die span die regskoste dek om alle handelsmerke te registreer wat met die tydskrif verband hou en ʼn eie maatskappy registreer.

Met R50 000 kan die tydskrif vervaardig word. “Alhoewel die kernspan hul werk en tyd gratis aanbied vir die eerste paar uitgawes, moet vryskutjoernaliste steeds vir hul bydraes vergoed word.”

Nadat die tweede uitgawe ook op die rakke is, sal die inkomste uit elke uitgawe na verwagting die betrokke kostes dek en sal die tydskrif op ʼn volhoubare basis kan voortgaan.

Die span het reeds minstens R15 690 ingesamel.
Volg die veldtog op Thundafund.
Besoek die tydskrif op Facebook en Instagram

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Oosie ·

Baie geluk en sukses! Julle sien vir baie kans en is ware entrepreneurs! (Jammer dat sulke uitstekende tydskrifte nou slagoffers geword het van transformasie waar entrepreneurskap, deursettingsvermoe, kreatiwiteit, ens nie meer ‘n rol speel nie – slegs die salaristjek aan die einde van die maand…)

Malva ·

Ruimte vir kreatiewe tydskrif, stel voor konsentreer op oorspronklikheid en ‘leen’ minder by Pinterest…

Koos du Pisanie ·

Baie geluk met jul besluit. SA het meer nense soos julle nodig wat hulle eie ding kan doen en nie altyd saam met die groot honde wil blaf nie. Voorspoed

Bettie Christie ·

Sulke goeie nuus! Sterkte vir julle, sien uit daarna.

Tammy ·

Baie dankie. Sterkte aan die span, julle het uitstekende idees in boekvorm aan ons beskikbaar gestel. Ons sal julle steeds ondersteun. Waardeer julle harde werk!!

millie ·

WOW!!! dis wonderlike nuus!! Mag hierdie tydskrif al julle verwagtinge oortref en GROOT word

Marina ·

Alles sterkte en voorspoed. Ek glo julle sal sommer ‘n reuse sukses hiervan maak en vir ander ‘n voorbeeld stel.

Sarien Conradie ·

Bid vir julle allevoorspoed toe. Sit sommer LEEF & IDEES in een.??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.