Goeie nuus vir Kaapse waterverbruikers

Argieffoto van die Theewaterskloofdam. (Foto: Tony Georgiou via Reënval in SA, Facebook)

Dan Plato, die burgemeester van Kaapstad, het Woensdag bekend gemaak dat die Stad Kaapstad dit oorweeg om aan die einde van die hidrologiese jaar in Oktober/November watertariewe te verminder om verligting vir Kaapse inwoners te bied.

Dít volg nadat swaar reën die afgelope paar dae in sommige dele van die Wes-Kaap geval het wat daartoe gelei het dat die provinsie se damvlakke aansienlik gestyg het.

Plato het vanoggend die goeie nuus aan die stadsraad meegedeel. “Soos sommige van u al gehoor het, is ons damme nou meer as 72% vol en ons inwoners is steeds waterwys. Ons is baie dankbaar, want dit is ʼn duidelike toonbeeld van die wonderlike werksverhouding wat die regering met sy inwoners kan hê. Danksy hierdie vlakke sal ons uiteraard tariefverlaging aan die einde van die hidrologiese jaar in Oktober/November oorweeg om bykomende verligting aan ons inwoners te bied,” het Plato gesê.

Die provinsie se damme was teen Dinsdag gemiddeld 72% vol.

Luidens ʼn verklaring deur die departement van water en sanitasie het die onlangse reënval, gepaardgaande met sneeu wat in die opvangsgebiede van die provinsie geval het, die provinsie se damvlakke die afgelope paar weke aansienlik verbeter.

Sputnik Ratau, woordvoerder van die departement, het gesê die feit dat die grond deurdrenk is, help dat die afloop van reënval-opvangsgebiede vinnig in damme invloei. “Hierdie afloop sal hopelik tot ander waterstelsels, waaronder grondwater, kan deurdring,” het Ratau gesê.

Hy het verder gesê ʼn onlangse hidrologiese verslag dui op ʼn noemenswaardige verbetering van die Wes-Kaapse watervoorsieningstelsel wat die grootste dam in die provinsie, Theewaterskloof, insluit.

Vlakke van dié stelsel lê tans op 71,86% teenoor 56,46% dié tyd verlede jaar.

Die Clanwilliamdam in die Weskus se vlak verbeter weekliks en lê tans op 71,67%.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sandra ·

Sommige Kapenaars het nou geleer om met minder water klaar te Kom en “waterwise” te wees. Nou gaan almal weer bos gaan en water mors totdat ons weer oor jaar of 2 in dieselfde situasie is. Behou die beperkings, verlig tariewe. Behou boetes vir oormatige gebruik.

Stiks ·

Skaf waterbeperkings af en laat almal betaal vir water , soos dit hoort

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.