Goeie nuus vir kleuter ná behandeling in VSA

Chereez Nel is kankervry ná behandeling in die VSA. (Foto: Facebook via Little Fighter Chereez Nel)

Chereez Nel is kankervry ná behandeling in die VSA. (Foto: Facebook via Little Fighter Chereez Nel)

Chereez Nel, die vierjarige dogtertjie van Boksburg aan die Oos-Rand wat verlede jaar met ʼn ongedifferensieerde sagteweefselsarkoomkanker gediagnoseer is en slegs ʼn 50%-kans op oorlewing gehad het, is kankervry.

Angelique Nel, Chereez se ma, het aan Maroela Media vertel die gesin het dié nuus op 13 Desember ontvang ná hulle vir twee maande in die VSA was sodat Chereez protonbehandeling kon kry by die Maryland Proton Treatment Center in Baltimore, VSA.

Nou, twee maande later, brand die vreugdevure hoog in die Nel-huishouding nadat skanderings bevestig het die behandeling was inderdaad suksesvol.

“Toe ons terug is in Suid-Afrika ná afloop van die behandeling in die VSA, moes ons vier weke wag voordat ons die eerste MRI-skandering kon laat doen. Die dokters hierdie kant het iets op die skandering gesien, maar was nie seker wat dit is nie. Later het die dokters in die VSA ons gebel en laat weet die skandering is skoon. Dit was die beste Kersgeskenk waarvoor ons ooit kon vra!” sê Chereez se verheugde ma.

Die behandeling, wat miljoene rande beloop het, was volgens Nel deur en deur die moeite werd. “Ons het nog baie geld om terug te betaal, maar sy is gesond, hoewel sy tans die rhinovirus onder lede het en ʼn baie sterk antibiotika daarvoor moet neem.”

Klein Chereez saam met haar ma, Angelique, en pa, Pieter. (Foto: Facebook via Little Fighter Chereez Nel)

Klein Chereez saam met haar ma, Angelique, en pa, Pieter. (Foto: Facebook via Little Fighter Chereez Nel)

Al is klein Chereez nou kankervry, moet sy vir die volgende vyf maande steeds chemoterapie ontvang by die Donald Gordon- mediese sentrum in Johannesburg. Sy moet ook elke drie maande ʼn MRI-skandering laat doen en sal vir die volgende 15 tot 20 jaar gereeld besoeke aan die dokter moet aflê.

“Ten spyte daarvan is sy gesond genoeg om halfdag kleuterskool toe te gaan,” vertel Nel trots. “Ons het aan haar verduidelik die monstertjies in haar kop is nou weg, maar sy sukkel om te verstaan waarom sy steeds die chemoterapie moet kry. Sy is immers net vier jaar oud, maar ons probeer in haar taal vir haar verduidelik dat die behandeling die monstertjies weghou.”

Nel voeg by dat Chereez se soort kanker nog steeds nie gediagnoseer is nie. “Dit is egter oukei, want die behandeling wat sy ontvang, werk, ondanks die feit dat ons nie weet presies watter soort kanker dit is nie. Die dokters doen steeds toetse daarvoor.”

Chereez en haar ma, Angelique, by haar vierde verjaarsdagpartytjie. (Foto: Facebook via Little Fighter Chereez Nel)

Chereez en haar ma, Angelique, by haar vierde verjaarsdagpartytjie. (Foto: Facebook via Little Fighter Chereez Nel)

Sy vertel dat Chereez op 16 Januarie haar vierde verjaarsdag gevier het. “Ons het ‘groot gegaan’,” sê sy.

Die gesin se nagmerrie het begin toe Chereez verlede jaar van pyn in haar regterwang gekla het. Nel en haar man, Pieter, het gesien daar is ʼn effense swelling en het met hul dogter na die dokter gehaas.

Dr. Aslam Khan by die Netcare Sunward Park-hospitaal het besluit om Chereez vir ʼn CT-skandering te stuur. Dit is toe dat die gesin se lewe handomkeer verander het. “Die dokter het ons meegedeel dat Chereez ʼn gewas onder haar brein het. Hulle het dadelik biopsies gedoen en toe het ons die nóg slegter nuus ontvang dat die gewas kwaadaardig is en dat dit ʼn aggressiewe soort kanker is wat vinnig besig is om van haar kop na haar gesiggie te versprei,” het Nel destyds aan Maroela Media gesê.

Enigiemand wat ʼn bydrae wil maak om Chereez se mediese koste te dek, kan met Angelique Nel kontak maak by [email protected]. Volg Chereez se vordering op haar Facebook-blad, Little Fighter Chereez Nel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

JohanL ·

Goeie nuus vir ‘n slag. Glo, hoop en vetrou die pad vorentoe is ook mooi.

Jessica ·

Ah man, she is so sweet and so adorable. God bless her with more blessings to come and to have many more birthdays to celebrate with all her loved once who loves her so much. Bless you little one you are a strong princess.

Engel ·

So bly vir julle. Mense wat nog nie met kanker kennis gemaak het verstaan nie altyd waardeur ‘n mens gaan nie. Sy lyk soos ‘n regte engeltjie. Eer aan Onse Vader, mag Sy hand altyd oor haar wees.

jaco ·

Ons regstellende aksie dokters kan nie dieselfde behandeling gee nie. Ek sidder vir die dag wanneer ‘n regstellende aksie aangestelde persoon by koeberg kernkragstasie die verkeerde knoppie druk en 4 miljoen mense in Kaapstad deur die gevare van nuclear meltdown bedreig word.

ZJ ·

Ai Jaco , jou kommentaar is onvanpas. Wees bly vir die gesin .

Lizelda ·

So verskriklik bly vir julle! Wat n lieflike pienk partytjie vir n pragtige prinsessie. Sterkte en liefde vd pad vorentoe.

Saam bly! ·

Wat ‘n pragtige poppie is die ou kleinding nou nie!!!! Baie goeie nuus so in hierdie somber tyd waarin ons onsself bevind. Baie sterkte aan die ouers en Chereez wat nog ‘n langpad het om te stap. Mag julle almal se mooiste drome bewaarheid word in die Naam van Jesus Christus.

zis ·

By God is niks ontmoontlik,loof Hom met jou hele hart, siel en verstand.

Potties ·

Dank aan ons VADER wat die king gesond gemaak het prys die HERE AMEN……

Arno ·

Dank God. Alle eer aan HOM.
Baie sterkte vorentoe aan die famile. Verheug saam met julle.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.