Goeie nuus vir NSFAS-studente

naledi-pandor

Naledi Pandor. Foto: Flickr/GovernmentZA

Naledi Pandor, die minister van hoër onderwys en opleiding, het Woensdag aan lede van die parlement in Kaapstad gesê talle studente wat van die nasionale finansiële hulpskema (NSFAS) afhanklik is, sal vanaf Donderdag uitbetalings van die skema ontvang.

Pandor het die NSFAS-raad twee weke gelede ontbind en dr. Randall Carolissen as die administrateur van die hulpskema aangestel om die fonds weer op koers te kry.

Volgens Pandor was dit verblydend om te sien hoe tersiêre instellings en studente-organisasies binne die eerste sewe dae van die administrateur se aanstelling saamgespan het om studente te kry om die nodige dokumentasie vir hulle uitbetalings te verskaf.

Sy het gesê studente wat hulle beurskontrakte onderteken het en wie se besonderhede deur die tersiêre instelling waar hulle studeer, geverifieer is, sal binne die volgende vier dae hulle geld ontvang. Dit sluit ook die studente in wat sedert 2017 vir hulle gelde van NSFAS wag.

Volgens Carolissen se statistiek word sowat 63 000 studente deur NSFAS se agterstand van uitbetalings geraak. Die meerderheid van hierdie studente studeer aan die land se tegniese en professionele opleidingskolleges (TVET).

Pandor het gemaan nie al hierdie studente sal hulle uitbetalings in hierdie week ontvang nie omdat daar nog talle navrae oor die besonderhede van sommige studente is. Sy is egter tevrede dat haar departement en NSFAS nou werklike getalle het wat ʼn behoorlike prentjie van die omvang van die hulpskema se probleme verskaf.

Sy het bygevoeg die aansoekproses vir 2019 sal in September open, nadat sy aanvanklik die befondsing vir die komende jaar se studente gestaak het weens die agterstallige uitbetalings vir 2017 en 2018.

Die Mail & Guardian het in Mei berig dat byna die helfte van die sowat 110 756 studente wat beurse en toelae van NSFAS sou ontvang, nooit uitbetalings gekry het nie. Dit het gelei tot protesaksies by die Nelson Mandela Universiteit in Port Elizabeth, die Maluti-kollege in die Vrystaat en die Universiteit van Limpopo.

Pandor het toe erken NSFAS het studente gefaal omdat die uitbetalings nie betyds gedoen is nie.

Deskundiges van die hoër onderwysdepartement en onderwyssektor het NSFAS oor die laaste twee jaar probeer ondersteun, maar die hulpskema het steeds talle uitdagings met sy sakeproses, IT-stelsels en -beleid gehad en kon maar net nie daarin slaag om sy huis in orde te kry nie.

Dit het veroorsaak dat NSFAS gesukkel het om aansoeke vir befondsing te bestuur terwyl dit ook nie daarin geslaag het om uitstaande skulde op studielenings in te vorder nie. Die hulpskema het gedreig om in duie te stort ná oudpres. Jacob Zuma se verrassingsaankondiging in Desember 2017 waar hy gratis hoër onderwys aan alle studente van arm en werkersklasgesinne in 2018 beloof het.

Maroela Media het berig dat Carolissen vir een jaar as NSFAS se administrateur aangestel is. Sy aanstelling kom ná Sizwe Nxasana, wat vir drie jaar aan die hoof van die hulpskema was, bedank het te midde van oproepe vir hom om uit dié pos te tree.

Carolissen was voorheen uitvoerende groepshoof van inkomstebeplanning, ontleding en verslagdoening by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) en voorsitter van die Universiteit van die Witwatersrand se raad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kosie ·

Die fondse was nog altyd daar dit was net wanbestuur? Nogal mooi om te sien dat daar staatsamptenare is wat werk en nie net sit en tee drink nie. Baie geluk Randall

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.