Goeie nuus vir Pta-gesin ná groot hartseer

Die betonstroke is gelê. Foto: Verskaf

Geliefdes van talle mense wat die afgelope paar jaar by die Zandfontein-begraafplaas ter ruste gelê is, kan nou uiteindelik grafstene vir hulle oprig.

Maroela Media het vroeër berig daar is nou al minstens ses rye grafte waar grafstene nie opgerig kon word nie, aangesien die betonstroke vir bykans drie jaar nie gelê is nie. Die betonstroke is nodig om as basis vir grafstene te dien.

ʼn Woordvoerder van die Tshwane-metro het destyds gesê die stad het baie skuld van die ANC “geërf” en dat daar nie geld in die begroting was om die betonstroke te lê nie. Onderhoud by talle begraafplase reg oor die stad het ook erg in die slag gebly.

Die metro het toe gesê daar sal voorsiening vir die probleme gemaak word met die begroting vir die nuwe finansiële jaar wat van Julie 2017 tot Junie 2018 strek.

Tydens ʼn media-ontbyt in Mei ná die nuwe uitvoerende burgemeester van Pretoria, Solly Msimanga, se begrotingsrede, het Maroela Media hom oor die stand van die begraafplase uitgevra.

Msimanga het genoem dat die metro nagenoeg R2,1 miljoen begroot het vir verfraaiingsprojekte vir die stad en dat begraafplase onder dié projekte gaan val. “Meer skoonmakers, loodgieters en elektrisiëns gaan aangestel word wat ook gaan fokus op vernuwingsprojekte en instandhoudingswerk by begraafplase.”

Die metro het die kwessie as ernstig beskou. Die metro het in Julie begin om kwotasies vir kontrakteurs aan te vra. ʼn Maand nadat die bal aan die rol gesit is, kan die metro uiteindelik goeie nuus met die geliefdes wat geraak word deel.

“Ons kan bevestig dat die betonstroke nou by Zandfontein-begraafplaas gelê is. Daar was so ʼn bietjie van ʼn vertraging in die verkrygingsproses om ʼn bestelnommer te verkry wat die diensverskaffer in staat stel om met die werk te begin,” het Samkelo Mgobozi, die burgemeester se woordvoerder, Dinsdag aan Maroela Media gesê.

Een van die vele gesinne wat deur die oponthoud geraak is, is die Engelbrecht-gesin van Pretoria se Moot-gebied.

Louis en Marisa Engelbrecht se rooikrulkopseuntjie, Christo, is op 5 November 2015 op driejarige ouderdom dood. Hy het onverwags siek geword en moes ʼn beenmurgtoets (lumbale punksie) kry. Die toets het komplikasies tot gevolg gehad en is glo nie deur ʼn pediater reg gediagnoseer nie. Hy is gevolglik breindood verklaar en nadat hy twee keer na verskillende Pretoriase hospitale oorgeplaas is, is hy uiteindelik na die Garden City-hospitaal gehaas. Ten spyte van dokters daar se volgehoue pogings, is Christo dood met sy ouers en boetie, Coert, en sussie, Zanie, aan sy sy.

Christo is op 10 November 2015 vanuit die Gereformeerde Kerk Innesdal begrawe en in die Zandfontein-begraafplaas te ruste gelê.

Sedertdien is Louis, Marisa, Coert (nou 13) en Zani (nou 11) elke Sondag getrou ná kerk na die begraafplaas in die weste van die stad om tussen talle vervalle grafte blommetjies op hul seuntjie se graf te sit “net om dit ’n bietjie mooier te maak”.

Marisa het Dinsdag aan Maroela Media gesê sy kan nie dink hoe dit gaan voel as hulle Sondag daar aankom en die betonstroke is gelê nie. “My hart voel eintlik seer van opgewondenheid. Hierdie proses was so lank en uitgerek, ʼn mens se hartseer voel eintlik ook maar so. Nou is daar weer die nuwe seer van die steen opsit, maar terselfdertyd ʼn nuwe hartseer wat oor begin. Ons is bitterlik dankbaar hiervoor. Nou gaan Christo’tjie nie meer net ʼn naamlose hopie grond wees nie,” het sy gesê.

Sy het gesê sy is seker daar is nog mense wat ook soos hulle gaan voel. “My skoonma is die afgelope tyd daar begrawe. My skoonpa is ook baie verlig.”

Louis het gesê deel van die rouproses ná die dood van ’n kind is om ’n steen op sy graf te sit.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Doris Gouws ·

Ek en my gesin wil net vir Mnr. Solly Msimanga en sy span baie dankie sê vir alles wat hy en sy mense doen ons sien elke dag alles verbeter en dat daar aandag gegee word, daar is niks wat ons so goed laat voel as ons net al die verbeteringe kan sien en nogmaal dankie vir die aandag wat gegee word om ons Zandfontein begraafplaas mooi en netjies te kry want daar is baie van ongeliefdes.

Johan ·

Dis nou ‘n praktiese manier om grafstene ‘n soliede struktuur te gee sodat nie net omkantel nie. Kaapstad Metro en sommer die wat dit nog nie doen nie behoort hierna te kyk. Welgedaan Gauteng.

Santie ·

‘n Familielid se seun is iewers in Pretoria begrawe. Die begrafplaas was só verwaarloos dat Hy self gras laat plant het om sy eie seun se graf, askook om ‘n paar ander grafte wat naaste aan sy seun se graf is. Hy betaal self ‘n werker om die gras nat te lei en weekliks in die somer te sny.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.