Goeie nuus vir waterverbruikers in Gauteng

Twee van die Vaaldam se sluise is in Februarie oopgemaak. Foto: Departement van water en sanitasie.

Twee van die Vaaldam se sluise is in Februarie oopgemaak. Foto: Departement van water en sanitasie.

Gautengers hoef moontlik voortaan nie meer só bekommerd te wees oor hul waterverbruik nie.

Sputnik Ratau, woordvoerder vir die departement van water en sanitasie, het gesê die Vaaldam was vanoggend om 06:00 steeds 103,9% vol.

“Dit is die eerste keer in ʼn baie lang tyd dat die vlakke langer as ʼn week bo 100% bly,” het Ratau gesê.

Maroela Media het vroeër berig dat van die Vaaldam se sluise oopgemaak moes word in Februarie.

Die departement sal môre in die Staatskoerant voorstel dat die waterbeperkings in Gauteng gelig word vanaf 10 Maart. “Elke munisipaliteit kan dan self besluit of hy dit wil toepas of nie,” het Ratau verduidelik.

Intussen het Nomvula Mokonyane, minister van water en sanitasie, Dinsdag samesprekings gehou met Anton Bredell, die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewing en beplanning, om kort- en mediumtermyn-oplossings te probeer vind vir die droogte in dié provinsie.

Vyf munisipaliteite het in Januarie vanjaar hul gebiede amptelik tot droogterampgebied verklaar. Dit is gevolg deur die stad Kaapstad wat ʼn plaaslike ramptoestand afgekondig het weens die gevolge van die droogte.

“Die departement is van Woensdag af verantwoordelik vir die bestuur van 42 damme in die Wes-Kaap. Die damme is op ʼn gemiddelde vlak van 30,2%. Dit verminder weekliks met 1,4 tot 1,6%. Ses van hierdie damme moet Kaapstad bedien wat 3,2 miljoen waterverbruikers het,” het Ratau verduidelik.

Die departement bied 22-24 Maart Wêreldwaterdagberaad en -ekspo aan in samewerking met die plaaslike regering in KwaZulu-Natal en die Verenigde Nasies. Dit sal plaasvind by die iNkosi Albert Luthuli-konvensiesentrum in Durban. Jacob Zuma sal dié beraad bywoon en die 17de weergawe van die VN se wêreld-waterontwikkelingsverslag bekendstel.

22 Maart is Wêreldwaterdag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Anna ·

Baie dankbaar vir die water … hoop nou netnie almal misbruik dit nou weer omdat die damme vol is nie… Nou nog net reen vir die Wes Kaap stuur.

snoefie ·

gautengers moet asb eers al die jare se gebrekkige instandhouding in ag neem voordat hulle oorboord gaan in die tuin.

Etienne ·

Ag nee, jul berig opskrif is dubbelsinnig, want “voortaan” beteken eintlik nooit weer nie. “Hierdie seisoen” sou ‘n beter opsie wees.

Ronel ·

Moet net nie nou die krane ooplos en jou tuin water gee asof daar nie ‘n more is nie. Matigheid voor oë! In Kroonstad is ons damme ook vol na ‘n droë winter waar ons vir 2 maande GEEN water gehad het nie, en ons waterbeperkings is nog in plek. Plant maar blomme wat min water nodig het. Vetplante is ook mooi.

Millie ·

Jinne mense wanneer gaan ons begin besef dat ons van nou af aan ALTYD moet bekommerd wees oor water!!!!!! Lees en luister julle nie dat SA eintlik ‘n dorre land is nie? Oor ‘n jaar of twee sit ons weer op hierdie stoel en dan wil almal weer huil oor die waterperkings maar as daar baie is spaar ons niks….

Elna ·

Millie: Ek stem volkome saam, ons woon in n droogtegeteisterde land. Elke inwoner, ELKE inwoner moet die gewoonte doelbewus aanleer om te ALLE TYE water spaarsamig te gebruik.

charlene ·

Baie dankbaar vir die reen maar dit was nou die verkeerdste berig om te plaas – want nou gaan almal mal gaan met water verbruik, mense gaan nou swembad elke naweek vol maak, daai krane laat loop ens… Hoekom probeer ons nie die ander plekke help nie, ons is gehelp toe die vaaldap leeg was. Gaan kyk asb Calvinia se dam, daai dam is dor leeg.

charlene ·

Maar dan moet ek ook sê my tuin en druppel gras het niks oorgekom van seep water, die tuin gaan maar nog steeds seep water ontvang en dan die lieflike reen wat dit so mooi groen maak.

Nicolette ·

God het water voorsien deur om die sluise van die Hemel oop te maak……Dankie Here vir U genade….WATER MOET ALTYD SPAARSAMIG GEBRUIK WORD

Nicolette ·

GOD HET WATER VOORSIEN DEUR OM DIE SLUISE VAN DIE HEMEL OOP TE MAAK…..DANKIE HERE VIR U GENADE….WATER MOET ALTYD SPAARSAMIG GDBRUIK WORD

Rooikop ·

Ek stem saam as ‘n volk saam staan en bid vir reen kan ons mos bid vir baie ander dinge alle dank aan die Here!!! God is good all the time en sy tyd is altyd die regte tyd!

Peet Schabort ·

Ons hier langs die Vaaldam en Carte Blanche kry net nie die minister tot ‘n onderhoud oor die riool in die Vaaldam en wat gedoen gaan word met die opgradering van rioolsuiweringswerke by munisipaliteite. Daar het darem ‘n verdunning plaasgevind!!

Manie ·

Ag moeder maar die regering is werklik vriendelik veral na die dam al vir meer as n week me as 100℅ is. Inteendeel ek dink hulle is nogal baie traag met hulle optrede maar ek het ook niks meer verwag

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.