Goeie nuus wag op motoriste in 2019

Foto: Brett_Hondow/Pixabay.com

Die Automobiel Assosiasie (AA) meen 2019 sal met goeie nuus afskop vir motoriste.

Volgens die AA wys ongeouditeerde brandstofprysdata van die Sentrale Energiefonds dat motoriste moontlik ʼn sug van verligting kan slaak aan die begin van die nuwe jaar.

“Petrol kan met R1 per liter daal, diesel met R1,30 per liter en paraffien met R1,22 per liter.”

Indien die prysverlagings realiseer sal dit beteken dat die brandstofprys sedert die begin van Desember met meer as R2 per liter gedaal het.

“Die vernaamste dryfveer vir hierdie verlagings is dalende internasionale petroleumpryse wat aangevuur word deur die VSA wat neig om ʼn netto uitvoerder van olie te word. As dit sou gebeur, sal die mag van die OPEC-lande om petroleumpryse te beïnvloed, aansienlik verminder wat sal lei tot beter stabiliteit in die olieprys.”

Volgens die AA sal die scenario’s egter oor die langtermyn uitspeel, en moet Suid-Afrikaners eerder meer bekommerd wees oor korttermyn-effekte soos die rand-dollar-wisselkoers.

“2018 het getoon hoe kwesbaar Suid-Afrika is vir wisselkoersvolatiliteit en ons sleutelboodskap aan die regering is om te werk om die ekonomie te stabiliseer en regeringskuld te bestuur. Ons vooruitsig vir 2019 is dat Suid-Afrika se ekonomiese grondslae en beleggersvertroue wat die rand beïnvloed, die grootste faktore sal wees wat die brandstofpryse beïnvloed,” het die AA in ʼn verklaring gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.